top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN!


AMEN! (1) – DIE GROOTSTE LERING IN MENSEHEUGENIS VIR JOU EN MY!


Matt. 7:28-29 – “Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor Sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.”


Jesus het die skare klaar geleer, Hy het sy Bergpreek, die preek van alle preke, gelewer. Die skare mense wat na Hom daar op die berghang geluister het, was afkomstig van Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan (Matt. 4:25). Baie van hulle het Jesus waarskynlik gevolg weens nuuskierigheid oor Sy wonderwerke en genesing van baie siekes. Hulle het moontlik nie veel méér geweet van Hom nie daarom was hulle “verbaas oor Sy onderrig.” Ons weet nie hoe lank die menigte daar op die berg na Jesus gesit en luister het nie, maar wat ons wel weet, is dat Jesus se Bergpreek nie net ‘n klomp mooi woorde of teorieë is nie.


Jesus se woorde is ook nie ‘n klomp losstaande waarhede nie, maar vorm ‘n geheelbeeld oor Sy verwagtinge ten opsigte van ‘n heilige lewe. Dit is wat Jesus verwag van Sy dissipels om hierdie lewenswyse te leef en toe te pas, ‘n lewenswyse van ‘n nuutgemaakte Christen wat as kind van God, onderweg is na die wederkoms en die ewige lewe. Daar was nog nooit voorheen ‘n beter preek soos hierdie een nie en daar sal nooit weer ‘n beter een wees nie, want die Leraar was Jesus self!


Die skare was heel moontlik stil tydens die preek maar toe Jesus stil raak, was hulle “verbaas.” Hierdie Man van Nasaret lyk net soos een van hulle en praat selfs dieselfde taal as meeste van hulle. As die seun van ‘n timmerman het Hy geen geleerdheid of formele opleiding in die geestelike leringe gehad nie. (Tog het die meeste geleerdes deur die eeue by Hom kom leer.) Heel moontlik het hulle verbasing daartoe gelei “dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: ‘Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer en dit kom met gesag! (Mark. 1:27). Hulle het nog nooit so iets gehoor nie!


Die oorsprong van hulle verbasing was dat “Hy hulle geleer het soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie.” Jesus is nie maar net nóg ‘n Joodse rabbi nie. Hy het aarde toe gekom om te kom word wat Hy nooit was nie, maar gebly het wat Hy is – Hy het volwaardig mens kom word wat Hy nooit was nie, maar God gebly wat Hy is! Sy hulpmiddels om aan te kondig dat God se nuwe wêreld aangebreek het was lewende woorde, afkomstig van ‘n lewende God! In mensetaal het Hy die planne vir God se koninkryk kom gee aan ‘n menigte eerste hoorders. Wat ‘n wonderlike eer!


Die goeie nuus is natuurlik dat ons gelowiges net so geëerd kan wees soos daardie eerste hoorders, want Jesus se gesag van destyds is steeds van toepassing vandag en is steeds onbeperk. Ons mag vandag steeds na Sy Bergrede luister want dit is vir ons ook bedoel, inteendeel, juis vir ons! Dit sal dwaas wees om ons ore te sluit vir Jesus se woorde, dit sal wees om ons huis op sand te bou of om maar agter vals leermeesters aan te karring op die breë weg. “Ons lewe nou deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Gal. 5:25). Wanneer ons, geïnspireer deur die Heilige Gees, gee, liefhet, deel, werk en voorbidding doen, word ons naastediens gesuiwer van dit wat óns eintlik in ons swakheid wil doen. Dan word dit naastediens tot eer van God en uitbreiding van Sy koninkryk, hier waar ons nóú werk en leef!


“Geseënd is die gehoorsames; want God sal nooit toelaat dat hulle afdwaal nie”

(Franciskus van Sales).


Gebed: Here Jesus, ek het ook geluister na U woorde. Vir my is dit nie woorde van 2000 jaar gelede nie maar waarhede van nóú. Dankie dat ek nie soos die Jode van destyds ‘n massa reëls moet gehoorsaam nie. U verwag van my om van binne af buitentoe te verander en om heeltyd in nuwe verhoudings met ander mense en met God te staan. Dankie dat U vir my die voorbeeld kom stel het hoe om daaraan gehoorsaam te wees. Hervorm my hart sodat my verhouding met ander, elke dag gesien kan word in my woorde, dade en gesindhede. Hervorm my hart só dat ek met my héle hart U en my naaste kan dien. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page