top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (TWEEDE VERMANING).


VALS PROFETE (6) – JESUS LEI ONS TOT ‘N PRAKTIESE GELOOF (2)!

(Luk. 6:43-44)


Matt. 7:15-17 – “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom nie goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle die vals profete dan aan hul vrugte ken.”


Vergelyk ook Gal. 5:22 – “Die vrug van die Gees is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”


Ons het Vrydag die eerste vyf van die “goeie vrugte” van die Gees kortliks voorgehou, goeie vrugte wat teenstrydig is met die vrugte wat vals profete aan die wêreld verkondig. Vandag bespreek ons die ander vier van die natuurlike vrug van die Gees in ons. Elke vrug is ‘n kwaliteit van lewe en aksie en is nie noodwendig ál vrugte waarvan ons as kinders van God moet probeer leef nie. Jesus se Bergpreek handel oor God se koninkryk en oor ons gelowiges, kinders van Sy koninkryk, en daarom is dit nodig om die Bergpreek te lééf en te dóén. Dit beteken nie dat daardie koninkryk ééndag met Jesus se wederkoms gaan aanbreek nie, maar nóú en híér waar ek elke dag in hierdie deurmekaar wêreld leef.


Ons moet onthou die primêre vrug van Christenskap, is liefde. Al die ander vrugte van die Gees ontstaan daaruit. “Goedhartigheid” is nie ‘n deug wat ons kan aankweek nie, dit word in jou hart gebore. Iemand het gesê goedhartigheid is liefde in werksklere, liefde in aksie – werke van liefde, bedagsaamheid, barmhartigheid en verdraagsaamheid. Dit ontspring uit jou verhouding met God en jou onderwerping aan die Heilige Gees. Die Heilige Gees stel jou dan in staat om goedhartigheid tot eer van God te beoefen en ons laat aanmeld: “Hier is ek Here, waar wil U my gebruik in U diens?” “Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak” (2 Tess. 1:11).


Waar wantroue heers, ontstaan onsekerheid wat die lewe ondermyn en soms verwoestende gevolge het. Die Here verwag van ons “getrouheid”, ‘n getrouheid wat ander mense nie laat wonder oor ons verhouding met Hom nie. Getrouheid beteken om getrou te wees in die groot dinge van die lewe maar ook in die klein en onaansienlike dinge. Dit beteken om jou geestelike roeping te vervul, getrou te wees in jou Bybelstudie, gebed, kerkgang; getrouheid aan jou lewensmaat, familie, werk, vriende, mede Christene. Jesus het gesterf sodat ons die Bergpreek kan lééf: “Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen” (Tit. 2:14).


“Nederigheid” of sagmoedigheid is liefde wat ‘n kruis dra, ‘n kruis van berusting om die laaste plek in te neem en die nederigste werk in die Naam van Jesus vir God te doen. In diens van God, is die nederige mens sagmoedig van hart, klein voor God, gering in sy eie estimasie. ‘n Nederige mens laat toe dat die Heilige Gees fluister: “Kruisig jou eie sin, draai die ander wang, wees beskeie, onthou jou eie gebreke.” “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang” (Matt. 5:5).


"Selfbeheersing” is liefde in opleiding, opleiding om die innerlike van jou gees nee te laat sê wanneer jy moet; baas te kan wees oor jou begeertes; jouself te bedwing, jou vlees te kruisig sodat jy kan oorwin! (D.A. Carson). Deur die Heilige Gees toe te laat om beheer oor jou gees te neem, word jy in staat gestel om gesag uit te oefen oor elke verkeerde lering van vals profete, en om nee te sê waarvoor God in Sy Woord nee sê. “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe” (Tit. 2:11-12).


In nabetragting lyk dit asof die nege vrugte van die Gees onmoontlik is om te dra, maar gewapen met die krag van die Heilige Gees, beveg jy die kwaad en versoekings in die Naam van ons Verlosser. Die vrugte van die Gees groei deur gebed, gereelde Bybelstudie en lofbetuiging: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word” (Matt. 5:6). Elkeen wat hierdie negevoudige vrugte openbaar, versprei die goeie invloed van Jesus Christus uit na die wêreld om jou.


‘n Gebrek egter aan “selfbeheersing”, sal die “liefde” bedroef. “Vreugde” sal in rou verander en die “vrede” sal uit jou lewe vlug. “Geduld” sal haar kop nie meer kan optel om haar taak met “vriendelikheid” te kan verrig nie. “Goedhartigheid” sal sterf, “getrouheid” onmoontlik word en “nederigheid” sal verdwyn. Stel jou biddend oop vir die Gees, om jou te help om in die Naam van Jesus Christus, ‘n goeie vrugdraer te wees in God se vrugteboord hier op aarde en sodoende met jou héle hart, God en jou naaste te dien. “Daarom is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom. 8:37).


“Jou skatkamer is binne-in jou. Dit bevat al die vrugte van die Gees wat jy ooit nodig mag hê. Gebruik dit ten volle in plaas daarvan om nutteloos buite jouself te soek”

(Chinese Christen spreekwoord).


Gebed: Gees van God, wys my waar ek goeie dade tot eer van God my Vader en Christus, my Verlosser kan doen. Gee my dan die krag en die vaardighede om dit getrou in nederigheid te kan doen. Kweek al U regte eienskappe in my lewe, sodat ek met selfbeheersing, ‘n goeie invloed na almal om my, uit kan dra. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page