top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (TWEEDE VERMANING).


VALS PROFETE (2) – GEHOORSAAM GOD SE PADREËLS!

(Luk. 6:43-44)


Matt. 7:15-20 – “Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?”


Vergelyk ook Hand. 20:29-30 – “Ek (Paulus) weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei.”


Wat is die karaktereienskappe van ‘n vals profeet? Ons hoef nie te wonder nie, Jesus gee die maatstaf waaraan ons hulle kan meet: hulle vrugte! Die gesegde lui dat ‘n boom aan sy vrugte geken word en in Sy waarskuwing teen vals profete, verwys Jesus juis hierna. Die vals profeet is gewoonlik iemand wat met ‘n mooi voorkoms, dade en woorde, veral aanhalings uit die Bybel gebruik om mense te mislei. Vir die leek klink dit natuurlik na die waarheid. Die “vrugte” wat hierdie mense voortbring lyk en klink tog goed, wat het Jesus dan teen hulle?


As die “poort só nou is wat na die smal pad lei en dit moeilik is om te kry,” moet ons baie versigtig wees vir hulle wat ons wil weglei daarvandaan eerder as om dit te vind. Iemand het eendag gesê dat elkeen ‘n reg het op sy opinie, maar dit is nie te sê dat sy opinie noodwendig reg is nie. Elke mens het ‘n reg om sy mening uit te spreek en Jesus waarsku ons om nie te oordeel nie. Indien ons dus ‘n mening wil beoordeel, moet ons dit eerstens aan God se Woord toets want dit gaan oor die eer van God. Daarom het ons gister verskeie tekste uit die Bybel aangehaal sodat ons hulle wat ons weg van Jesus as lewensgids wil lei, se menings daaraan kan toets. God se Woord is die lig op ons lewenspad, die kompas wat die koers in die donker aandui.


Die basiese “gevaar” van die vals profeet waarteen Jesus ons waarsku, is dat dit oor eiebelang gaan en sy prediking van die evangelie is gebaseer volgens sý interpretasie en nie volgens God se Waarheid nie. Jesus sê dat hierdie vals profeet “na ons toe kom” – hy kies die kerk uit en gee voor hy speel vir dieselfde span maar intussen is hy “die wolf wat kom om te verskeur en hy kom in skaapsklere.” Deur sy prediking is hy in ‘n besigheid, nie om te kyk wat hy vir ander kan gee nie, maar wat hy daaruit kan baat – en baie van hulle word multimiljoenêrs daardeur. Dit is egter ook waar dat elkeen vergoed moet word vir wat hy doen en geen mens kan sy beste lewer wanneer materiële druk toeneem nie. Vir die ware profeet gaan dit egter nie net oor sy salaris nie, maar oor ‘n siel van iemand wat gered kan word. Jesus het die voorbeeld aan die kruis gestel van die ware Herder wat meer omgee vir Sy skape as vir Sy eie lewe.


‘n Ander “gevaar” van die vals profeet is dat sy skynheilige optrede goddelik lyk en klink, wat die dodelike gebrek van die regte doktrine, uitstekend versteek. Hy “preek” wat die mense graag wil hoor en sy “boodskap” is vleiende onwaarhede wat nie die suiwer verkondiging van die Woord is nie – “Julle (vals profete) is soos jakkalse tussen die puinhope … Julle het met julle leuens mense wat My wil wou doen, laat moed verloor” (Eseg. 13:4; 22).


Nog ‘n “gevaar” van die vals profeet is dat hy onpopulêre gedeeltes van die Bybel ignoreer, weg redeneer of begrawe in mensgemaakte tradisies. Dit is presies wat die skrifgeleerdes en Fariseërs gedoen het. Hulle het die ware geloofsvereistes vervang met absurde wettiese beginsels – “Hulle skep die muggie uit hul beker uit maar sluk die kameel in” (Matt. 23:24); Hulle is blinde leiers van blindes” (Matt. 15:14); Hulle ken die kuns goed om die gebod van God opsy te skuif en dit met eie oorgelewerde gebruike te vervang” (Mark. 7:9) – Jesus het hulle aangewys tot dié wat behoort aan die “sinagoge van satan” (Op. 2:9).


Enige Christen met ‘n elementêre kennis oor die Bybel behoort ‘n misleidende ketter gou te identifiseer. Sodra ‘n lering van redding verkondig word dat ‘n mens nog iets ekstra of iemand nodig het behalwe geloof in Jesus Christus, “pas op” sê Jesus, dit is die “druiwe aan doringstruike.” Wanneer mense wil weet hoe jy is, kyk hulle hoe jy leef. Let dus op of die mense wat jou van Jesus wil leer, ook stap waar Hy stap, of hulle werklik op die “nou pad” is.


Dit is maklik om mense te verlei en te mislei, maar niemand kan die Here bedrieg nie. Hy ken elkeen van ons deur en deur. Loop skynheiligheid van ander by jou verkeerd, word jy die “wolf in skaapsklere en druif aan ‘n doringstruik.” Laat die Heilige Gees jou hart en gedagtes versier, gebruik Hom as padkaart wat die rigtingwysers van die Bybel ken en jou enduit, koers sal laat hou! Gehoorsaam God se padreëls met die Gees as Leidsman, dit lei na die “deur” op die einde waarvan net Jesus die sleutel het!


“Dit is maklik om ander mense te mislei. Om jouself te mislei, nog makliker. Om God te mislei is egter onmoontlik!” (Helmut Thielicke).


Gebed: Bron van Waarheid en Lewe, hier is ek weer voor U, uitasem gespook deur my eie pogings. U het vir my ‘n voorbeeld gestel sodat ek in U voetspore kan volg (1 Pet. 1:21) en tog wil ek hardnekkig op my eie aankarring. Verlos my van die vyand wat homself verskuil in vals leraars wat só maklik kan verlei. Help my om sonder skroom te sê en te wys aan Wie ek behoort en nie ook “druiwe aan doringstruike” word nie. In U teenwoordigheid is waar ek ware vreugde vind, deurstraal my deur U teenwoordigheid sodat ander U in my sal raaksien. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page