top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (EERSTE VERMANING.)


TWEE PAAIE (8) – NEEM DIE REGTE KAARTJIE!

(Luk. 13:24)


Matt. 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook 1 Tess. 5:9-10 – “God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Hy het ter wille van ons gesterwe sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.”


Ons gelowiges is geroep om Jesus se voltydse navolgers te wees en het nou die afgelope paar dae gesien, dis nie maklik nie. Navolging van Jesus plaas ons buite ons gemaksone en nuwe dinge begin skielik belangrik raak. Jy is skielik nie meer so baie bekommerd oor ‘n groot bankrekening nie. Die nuwe kar kan ook wag en afskaal na kleiner en minder word daagliks, ‘n algemene besprekingspunt onder mekaar. Dit word soos ‘n speletjie – wie kom met die beste voorstel sodat die ander volg.


Monopoly was een van my gunsteling bordspeletjies as kind. Ons het ure aaneen gespeel om soveel as moontlik eiendom in die hande te kry. Om ’n hele paar hotelle in Eloffstraat te besit, was die mikpunt. Met harde werk, goeie beplanning en hier en daar ’n bietjie geluk, raak jy uiteindelik die grondbaron. Sommige het onder die tafel saamgewerk om een van die ander spelers bankrot te verklaar. Sommige het selfs geld by die bank geleen en net “vergeet” om dit weer terug te betaal. Ja, sommige se strategie was nie altyd so vars nie.


Ek het die tronk gevrees, want om vir ’n paar rondtes nie deel te kon neem nie, was gewoonlik fataal. Daarom was dit vir my ’n hoogtepunt om op die “kans”-blokkie te val en boonop ook ’n “Gratis uit die tronk”-kaartjie te ontvang. Hierdie kaartjie kon my daardie hupstootjie gee om op die ou end as oorwinnaar uit die spel te tree.


Eintlik is Monopoly ’n kleiner weergawe van die ware lewe. Ons almal spring gelyk weg in die lewe. Ons kom met niks hier in nie, naak en met sonde belaai. Daar is sommige mense wat mooi volgens die reëls speel en baie suksesvol raak. Dan is daar ook ander wat nie volgens die reëls speel nie en ook baie suksesvol raak. Daar is sommige wat gereeld in die tronk gaan kuier as gevolg van verkeerde keuses wat hulle maak.


Maar uiteindelik is ons almal na ons aardse lewe op pad na die ewige tronk, of soos die Bybel dit noem, die ewige verderf. Dié wat ’n graaf ’n graaf noem, praat sommer van die hel. Dié eindbestemming was wat ons elkeen verdien het as gevolg van die hope en hope sondes wat ons gedoen het. Ons het dit 100% verdien.


Maar God kon nie toekyk dat dit met elkeen van Sy skepsels gebeur nie. “God het besluit dat ons nooit in der ewigheid aan sy straf onderwerp sal word nie, maar dat ons deur die Here Jesus Christus gered word. Daarom het Hy in ons plek gesterf. Dit maak nie saak of ons nog lewe op die dag wanneer Hy terugkom en of ons al dood is nie; ons plek daar by Christus is klaar bespreek. Ons gaan vir altyd saam met Hom leef.”


In die regte lewe is daar vir elkeen ’n “Gaan-na-die-hemel”-kaartjie beskikbaar. Sonder dat jy dit verdien, ontvang jy dit, want sien, Jesus het reeds daarvoor betaal. Duur betaal met Sy bloed en Sy lewe. Ja, die hemel is gratis, maar dit het verskriklik baie gekos. Ons hemelse Vader se Seun se lewe. Die wonderlikste van alles is dat dit vir almal beskikbaar is. Jy hoef nie geluk aan jou kant te hê, soos in Monopoly, om toevallig op die “kans”-blokkie te val nie. Nee, hierdie “Gaan na die hemel”-kaartjie is vir almal beskikbaar. En dis nie ‘n geheim nie, Jesus het daarvoor die pad duidelik uitgestippel daar langs die See van Galilea tydens Sy Bergpreek.


Wat beteken dit vir ons vandag op Vrydag, 17 Januarie 2020? Ons weet dat na ons dood, ons naak voor “die groot wit troon gaan staan by die Een wat daarop sit. Die aarde en hemel gaan voor Hom padgee, want daar sal nie meer plek wees vir hulle nie. Die dooies, groot en klein sal voor die troon staan en die boeke sal oopgemaak word. Die dooies word dan geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die dood en doderyk word dan in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, word hy in die vuurpoel gegooi” (Op. 20:11-15). Kies die regte kaartjie met Jesus Christus se Naam op en gaan leef nou ’n lewe van vreugde en onophoudelike vrede en gaan wys vir elke Jan Rap en sy maat jou “Gaan na die hemel”-kaartjie. “Praat mekaar moed in en versterk mekaar, ons plek is klaar by Christus bespreek!” (1 Tess. 5:9-11).


“Christene is nie burgers van die aarde wat probeer om verblyfplek in die hemel te kry nie, maar burgers van die hemel op reis deur die wêreld op pad Huis toe” (Vance Havner).


Gebed: Dankie, Jesus, dat ek ’n plek in die hemel het omdat U bereid was om in my plek die straf vir my sondes te dra. Ek wil my dankbaarheid uitleef deur ’n lewe van gehoorsaamheid aan U te leef. My hart loop oor van blydskap want ek weet dat daardie dag wanneer ek my oë oopmaak in die nuwe lewe hierná, sal U my dan sélf lei deur daardie poort wat die ingang is na my hemelse Huis. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page