top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE! (Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (EERSTE VERMANING.)


TWEE PAAIE (6) – … OF NEEM DIE BREË WEG WAT MAKLIKER IS!

(Luk. 13:24)


Matt. 7:13-14 – “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”


Vergelyk ook Gal. 6:7-8 – “Moenie julself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes.”


Hierdie “nou poort en smal pad” is nie die mees populêre plek om te wees nie. Daarom gee Jesus feitlik ‘n opdrag aan ons dat ons die regte keuse moet maak watter ingang om te neem om op die regte pad te kan wees. Dit is God se genadepad wat deur ons erken moet word en beantwoord moet word. As mens op ‘n vliegtuig klim weet jy immers waarheen jy op pad is. Net so is dissipelskap van Jesus Christus en geloof in Hom die kennis waarnatoe jy op pad is. Net jy kan daardie keuse maak op watter pad jy wil wees. Onthou net, niemand anders kan jou in die hemel toelaat behalwe Jesus Christus, ons Here nie.


Kontrasterend teenoor die “nou poort en smal pad” is die “wye poort en breë pad.” Hierdie pad is die maklike pad. Die inspanning om daarop te wees, is geen vergelyking teenoor die “nou poort en smal pad” nie. Daarom verkies die meeste mense dit. Daar is geen opoffering om dan hul eie wellustige begeertes te bevredig en saam met die massas te wees nie. Hulle is soos ‘n gelukkige klomp varke wat van die een hoop gemors na die volgende hoop gemors loop en vreet aan alles wat anti-Christus is. Dit is die pad waar “baie” hul bevind, sê Jesus. “Baie” is so gemaklik daarmee. Die pad van “almal doen dit tog.” Hierdie “breë pad” is ‘n maklike pad want dit het net afdraandes. Afdraandes tot binne die hel want Jesus is nêrens op daardie pad te vinde nie! Dit is ‘n doodloop straat.


Die nadeel van die “wye poort en breë pad” is dat Jesus ons waarsku daarteen. Wanneer ons Sy argument in oënskou neem met die ewigheid in gedagte, is dit skrikwekkend dat baie nie gehoor gee daaraan nie. Hulle weet wat die verskil tussen die goeie nuus en slegte nuus is, maar verkies om die logika van Jesus nie te aanvaar nie. Jesus het meer keer gewaarsku teen sonde en die gevolge daarvan, as al die profete saam, want Hy is besorgd oor ons, Sy “skape.”


Hierdie “breë pad” is waar ‘n mens sy eie god kan wees. Dit is die weg waar mens “neus in die lug sê: ‘God vra tog geen rekenskap nie!’ In al sy planne is daar geen plek vir God nie. Dit gaan mos altyd goed met wat hy aanpak” (Ps. 10:4-5). Mense op hierdie “breë pad” saai saad van ongeregtigheid en lewe vir die oomblik. Die perspektief van die ewigheid is nie deel van hul woordeskat nie. “Ons sal later ...” is die huidige norm. Hulle is “slawe van die sonde” (Joh. 8:34).


Dit word die mees logiese weg na die “aardse paradys” – ‘n paradys van vleeslike behoeftes. Daar waar die mens sy eie lewe kan bestuur. Álles is aanvaarbaar solank dit net nie Jesus Christus insluit nie, enigiets met die Bybel te doen het nie, of die woord Christenskap bevat nie. Hulle is die “seuns en dogters van plesier” wat die standaard van “solank dit goed voel, doen dit” slagspreuk aangeneem het. Almal skepsels van ons hemelse Vader!!!


Die keuse tussen die “nou poort en smal pad” wat Jesus aanbeveel of die “wye poort en breë pad”, is elkeen se keuse, hang af waarheen jy wil gaan. Die laaste keuse is die maklike keuse want dit is die maklike pad. Dit neem geen inspanning om daarop te wees nie. Daar is geen bulte, nou stegies of enige versperrings wat ‘n mens moedeloos maak nie. Dit is die pad van die filosofiese “kom, eet en drink en wees vrolik, môre is ons dood.” Daar is geen etiese absolute of norms op daardie pad nie, dit is die pad van “brandewyn het nie brieke nie.” Elkeen doen wat reg is in sy eie oë. Dit is die pad waar mens se “hart slegte gedagtes voortbring: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valse getuienis, kwaadpratery” (Matt. 15:19). Miskien is dit nodig om hier aan die begin van ‘n nuwe jaar, ‘n keuse te maak, die keuse van: “GOD SE PAD IS AL PAD!” ‘n Nuwejaarsvoorneme gaan nie werk nie, want dit word nie nagekom nie.


“Goeie nuwejaarsvoornemens is dikwels tjeks wat getrek word teen ‘n bankrekening met onvoldoende fondse” (Jules Renard.)


Gebed: Here, eendag moet ek die finale tree gee in die ewigheid in. Ek wéét daar is net twee keuses gedurende my aardse lewe wat hierdie finale bestemming gaan beïnvloed: Die “nou poort en smal pad” of die wye poort en breë pad.” Help my sodat ek nie myself op ‘n middeweg of moderne alternatiewe pad bevind nie! Laat my luister na U waarskuwing dat ek “nie bang moet wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, dat ek Hom eerder moet vrees wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Matt. 10:28). Help my om standvastig in die geloof “op my pos te bly, toegerus met die waarheid as gordel om my heupe, en die vryspraak deur God as borsharnas …” (Ef. 6:14). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page