top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12).


GEBEDSVERHORING (5) – DIE GOUE REËL (1)!

(Luk. 11:9-13)


Matt. 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Vergelyk ook Lev. 19:18 – “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”


As daar vervolgens gevra word hoe ons ons naaste moet dien, word dit met hierdie spreuk wat Jesus amper aan die einde van Sy Bergpreek uiter, vervul. Daarom staan dit dan ook bekend as “Die Goue Reël.” Met hierdie spreuk bereik Jesus se Bergpreek die hoogtepunt, die Everest van álle etiese leringe. Dit is asof Jesus wil sê: “Voortvloeiend uit al die voorafgaande uitsprake wat Ek julle nou hier op die berg geleer het, het julle as My dissipels nie ‘n ander keuse as om dié liefde op presies hiérdie wyse in die koninkryk van God tot uitdrukking te laat kom nie. Dit is wat God van Sy kinders verwag. Ek is die Here.”


Dit is seker die mees gesproke gesegde wat wêreldwyd gebruik is en steeds gebruik word. Alhoewel hierdie uitspraak uit die mond van Jesus kom en in die Bybel aangeteken is, word dit nie net deur Christene gebruik nie maar selfs deur ongelowiges. Kortliks word dit aangehaal as “doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen” of selfs op ‘n negatiewe vorm gebruik word – “Moenie aan ander doen wat jy nie wil hê hulle aan jou moet doen nie.” Dit kan egter maklik misverstaan word. Dit lyk asof hierdie “Goue Reël” die mens in die norm plaas om aan ander te doen wat vir jou lekker is. Die norm is soos wat Jesus dit uitspreek en nie wat vir ons goed lyk nie, maar wat God van ons vereis.


Die feit is dat die meeste mense geneig is om hierdie reël óf verkeerd aan te haal óf net gedeeltelik aan te haal, óf dit in ‘n gees van hulle gesindheid, anders gebruik as wat Jesus bedoel het. Trouens, as die volle reikwydte van hierdie uitspraak van Jesus reg verstaan word, is dit nie sommer ‘n gemaklike ou reëltjie wat sommer so maklik in sekere omstandighede op die tong geneem kan word nie. Jesus is hier besig om die opsomming van die wet wat Hy later sou meedeel, vooruit te loop – “liefde vir God en vir jou naaste, soos jouself”. Jesus laai hierdie bekende spreuk met aksie – gaan doen wat vir God aanneemlik is!


Ons is dit aan mekaar verskuldig. Dit is nou dóéntyd. Ons Christene behoort eintlik te weet, diep in ons binneste, dat ons volgens hierdie goue reël behoort te leef. Maar ai tog, daar is so baie dinge wat indruis teen hierdie reël, dinge soos onreg, misdaad en korrupsie. Dan moet ons egter onthou, dit gaan nie om myself nie, maar om ander. Jesus self het hierdie reël vir ons gegee en Hy stel ons in staat om daarvolgens te leef. En as ons dit nie kan regkry nie, dan vra ons ons Vader in die hemel om te help: “Vra, en vir julle sal gegee word” (Matt. 7:7). Dit is onbeskryflik om te besef hoeveel Jesus vir ons omgee om hierdie “Goue Reël” aan ons toe te vertrou.


“Die toets vir dissipelskap lê nie in mooi woorde, vroom belydenisse en grootse toewyding nie, maar in elkedagse doen van die regte dinge” (Ds. Johan Smit).


Gebed: Here, weerhou my van haastige woorde, onsensitiewe aanmerkings, indringerige vrae, dinge wat ander seer maak. Gee my ‘n fyn aanvoeling sodat ek in elke omstandigheid sal kan onderskei wat die regte ding is om te sê en te doen. Staan my by, o Heilige Gees, om elke dag volgens Jesus se goue reël te leef. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page