top of page

Gedagte vir Vandag

Goeiemôre vriende,


WELKOM TERUG AAN AL ONS E-KERK LESERS. VERGUN ONS OM NAMENS ONS LERAARSPARE EN DIE KERKRAAD, JULLE ‘N GESEËNDE 2020 TOE TE WENS. LEEF ELKE DAG VOLUIT IN GOD SE GENADE. DOEN DIT MET GELOOF, HOOP, VERGIFNIS, VERTROUE, LIEFDE, GEDULD, VREDE, VREUGDE EN WYSHEID TOT GOD SE EER EN SY VERHEERLIKING.


GEDAGTE VIR VANDAG – MAANDAG, 6 JANUARIE 2020.



DIE EERSTE VAN DIÉ DEKADE 2020 – MEKAAR!


Matt. 7:12 – “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.”


Die einde van 2019 is Dinsdag om middernag afgesluit. Vir sommige was dit ’n lang en moeilike jaar. Vir ander dalk nie so lank en ongemaklik nie. Maar dis nie al wat klaargemaak het nie. Dis ook die einde van ’n dekade en as ek so loer na die afgelope 10 jaar wat verby is, was die pad by tye afdraend, maar meer gereeld, erg hobbelrig. Daar was ’n paar krisisse en ’n paar uitdagings. Soms het ek gewonder of ek daardeur sou kom. Soms het ek gewonder waar was God.


Dalk het jy ook soms gebukkend onder die druk gespartel. Dalk spartel jy op die oomblik onder baie swaar, amper soos wat ’n groot gedeelte van ons land met die droogte sukkel. Die vrae se antwoorde bly soek. Of so lyk dit, totdat jy êrens iets hoor of lees wat sin kom gee, soos die artikel van Fanus Hansen in Maroela Media ’n groot genoeg pleister kom plak het:


Vrede vir my gemoed wou nie kom nie. Ek het soekend by die kombuistafel loop sit. Ma het koffie gebring.


“Wat jaag jou?” het sy gevra.


“Hierdie droogte! Ek weet nie wat die Here vir mý wil sê nie. Ek wil nie meer hoor wat iemand anders dink nie, ek wil nooit weer hoor wat hy dink God vir my wil sê nie, ek wil nou self hoor!”


“Is jy seker dat Hy vir jou iets wil sê, vir jou iets móét sê?” is haar teenvraag.


“Wat dan anders?”


“Dalk wil God deur ons droogte vir iemand anders iets sê.”


“Vir wie wat sê?”


“Dalk vir die mense wat die bederfpakkies kom aflaai het. Vir hulle wat vir ons voer skenk. Vir al die kinders wat vir ons bid. Dalk wil God hulle leer van gee, leer van bid, leer van help en leer van omgee. Dalk is óns droogte nie nét óns droogte nie. Dalk is óns droogte Suid-Afrika se droogte. Dalk maak God ons gereed vir meer. Vir meer gee, meer omgee, meer dankbaarheid, meer ‘dankie Here’ vir dit wat ek het. Dalk maak God ons gereed vir bid vir mense wie se name ek nie ken nie, vir nuwe vriendskappe, vir ’n nuwe penmaat wat haar naam en telefoonnommer en adres in my bederfpakkie gelos het. Ek bid nou vir haar en sy vir my. Ek en jy bid elke aand dat God ons sal seën … dié week het die seën na my toe gekom met die teerpad!”


“Ek weet ons kort reën, maar dié week het ek besef ons kort meer as reën. Ons kort mekaar!”


Elkeen van ons kort. Ons kort mekaar en ons kort vir God. Kom ons wees hierdie nuwe jaar daar vir mekaar. Te midde van die swaar en die lekker - kom ons hang aan mekaar, maar méér nog, kom ons hang aan God. Want dit is Hy wat ons krag gee om voort te beur, staande te bly en op ’n manier deur die swaar daar vir mekaar te wees.


“Die Heilige Gees deel eers liefde mee; dan inspireer Hy hoop; dan gee Hy vryheid”

(Dwight L Moody).


Gebed: Ons hemelse Vader, U het my weer ‘n nuwe jaar gegee. Dankie dat ek mens mag wees en dat ek kan lewe. Dankie dat U elke oomblik vir my daar is en vir my omgee. Gee my die krag om U nabyheid elke dag van hierdie jaar te ervaar, in tye van voorspoed en teenspoed. Maar bowenal Here, laat my geloof in U nie skipbreuk ly nie. Here, gee my liefde vir hulle wat elke dag saam met my U sonskyn deel. Ek bid vir jou wat hier lees en jou geliefdes ’n wonderlike tyd toe waar God se genade oor julle sal reën. Ek bid dat Jesus se liefde sal vloei tussen mekaar en dat die Heilige Gees julle aan mekaar sal vasbind. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page