top of page

Gedagte vir Vandag


’n Voorstelling van Jesus wat huil oor die ongeloof van die wêreld

Deur die genade van ons hemelse Vader is ons darem weer “mobile” genoeg om ná ons motorongeluk op 9 November, weer ons oggend Afsprake met ons Almagtige Here, na te kom en ons reis saam met Matteus voort te sit. Vergun ons om elkeen persoonlik te bedank vir elke gebed, e-pos, sms, Whatsapp, oproep en besoek in die hospitaal en tuis. Dit was letterlik honderde en word opreg, met liefde waardeer.



JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


MOENIE OOR ANDER OORDEEL NIE (4) – ONS GOD VAN LIEFDE DWING NIEMAND NIE!

(Luk. 6:37-38, 41-42)


Matt. 7:6 – “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”


Vergelyk ook Spr. 9:8 – “Moenie ‘n ligsinnige mens probeer opvoed nie, hy sal jou daarvoor haat. Voed ‘n wyse op, en hy sal lief wees vir jou.”


Wat bedoel Jesus met hierdie beeldspraak? Wie is die honde en varke wat nie dít wat heilig is en kosbare pêrels, moet ontvang nie? Is Jesus nie dalk besig om teen Homself te spreek nie? Hy het ons pas gewaarsku om nie te oordeel nie en hier verwys Hy dalk na mense as honde en varke!


Geensins, Jesus maak nie foute nie! Jesus bedoel met hierdie beeldspraak dat daar ‘n nugtere onderskeiding is ter wille van die evangelie van God se koninkryk, wat heilig en kosbaar is soos pêrels. God is dié God van liefde, maar Sy liefde is nie goedkoop nie en Hy laat nie hierdie duur liefde vertrap nie! Die evangelie van liefde moet met doelgerigtheid voortgeset word, sonder onderskeid, aan mense wat dit nie wil aanvaar nie. (Skrikwekkend om te dink daar mense bestaan wat nie die evangelie wil aanvaar nie!)


Dit is dikwels onmoontlik om met mense wat nie reggehelp wil word nie, te gesels oor die evangelie – oor Jesus Christus, Wie die evangelie is! Hulle onsensitiwiteit, morele blindheid, intellektuele trots, siniese bespotting en selfs besmette lagie sonde, maak hulle ontoeganklik, selfs ondeurdringbaar vir die evangelie. Vir baie mense is dit baie makliker om die verkeerde leringe te aanvaar as om te wil hoor “Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe …” (Joh. 14:6). As iemand nie hulp wil aanvaar nie, kom jy op ‘n punt waar jy eerder terugstaan as om aan te hou neul.


Jesus waarsku ons as Sy dissipels, téén sulke mense en wys gevolglik hoe daar teen hulle opgetree moet word. Dít wat heilig is, en die boodskap van God wat liefde is, is nie goedkoop nie – dit het ‘n duur prys gekos aan die kruis. Die vromes, die godsdienstiges en die ordentlikes wat dink dat hulle self kan regkom en reken dat hulle net die regte medisyne het vir hulle sondepyne, het mos niemand anders nodig om hulle die regte pad te wys na God toe nie. Dit is juis hulle wat Jesus gekruisig het: Vroom en godsdienstige mense met ‘n vaste sisteem van reg en verkeerd, goeie mense. Die probleem egter is: dit was mense wat nie in ‘n verhouding met God gestaan het nie, mense met hulle eie agendas wat die eer van God verwerp het!


Daar is vandag ongelukkig steeds sulke mense, mense wat nog nie van hulleself afgesterf het ten bate van Christus nie, mense wat nie met die Woord van God te doen wil hê nie. As jy so persoon se splinter wou verwyder – “dit wat heilig is …, al doen jy dit in die grootste liefde en met die mooiste bedoeling, “… vir die honde gooi.” Die kans is dan goed dat hulle wêrelds sal reageer. Hulle sal dit vat as ‘n persoonlike aanval, “hulle sal omspring en jou verskeur.” Ons sal dus mooi moet leer wanneer om te praat en wanneer om te swyg. Daarom is dit só belangrik dat ons vanuit gebed moet leef. Bid dat die Heilige Gees ons die gawe van onderskeiding mag gee. Bid vir wysheid. Bid vir die regte tyd om te praat en wanneer om te swyg. Vra dat God ons sal wys met wie ons moet praat en wie nie.


Jesus hou egter aan om te stap na sondaars, sondaars met stukkende lewens wat na Sy stem wil luister (Op. 3:20). Ons behoort dan Sy voorbeeld te volg om ander nie te vinnig te wil oordeel nie, daar is altyd nog genade en nog ‘n kans. Maar Jesus waarsku ons hier dat ons nie slegte mense moet probeer help wat geen respek vir God het nie. Dit is tydmors om met hulle oor God te praat, hulle sal God se heiligheid soos ‘n trop varke “met hulle pote vertrap.” Ons moet m.a.w. kan oordeel wanneer ons moet onderskei of ons tussen die varke is, en wanneer ons met hemelse pêrels te doen het. Hier moet ons baie sensitief wees vir die leiding van die Heilige Gees. Die Gees staan egter gereed om ons te omgord met Sy krag sodat ons Sy getuie kan wees – net daar waar Hy ons geplaas het om te leef en te werk en te getuig – “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees …” (Hand. 1:8).


“God dwing niemand nie, want die liefde kan nie dwing nie. Diens aan God is derhalwe ‘n saak van volkome vryheid” (Hans Denk).


Gebed: Hemelse Vader, U eer is vir my die norm. Wanneer mense U evangelie “vertrap”, verstaan ek dit as Godslastering en wil ek graag by hulle aanhou om van U te getuig. Soms voel dit asof ek dan sonder die nodige versigtigheid te werk gaan en is ek bang ek skrik dan mense af. Dankie o Gees dat U my gedurig herinner dat dit nie oor my gaan nie, maar oor God wat my stuur. Heilige Gees, skenk my die gawe van onderskeiding, gee my wysheid om te praat op die regte tyd, en wanneer om eerder te swyg. Wys my met wie ek oor die evangelie kan praat en met wie nie. Omgord my met U krag sodat ek U waardige getuie kan wees. “O Heilge Gees, bereider van God se koninkryk! O Helper en Bevryder, laat Gods beeld in my blyk! Gee my die krag tot dade om in U Naam te bou, gesterk deur U genade. Maak my in U getrou” (Liedboek 437:2). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page