top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


MOENIE OOR ANDER OORDEEL NIE (3) – GEBRUIK JESUS SE OOGSALF!

(Luk. 6:37-38, 41-42)


Matt. 7:3-5 – “Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”


Vergelyk ook Joh. 8:3-11 – “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het ... Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi ... Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Verse 4, 7b en 11)


Jesus noem mense wat ander wil aanspreek oor hulle tekortkominge terwyl hulleself ernstiger gebreke het, “huigelaars” (v. 5). ‘n Sterk woord uit die mond van Jesus vir die skynheiliges wat ‘n gebrek aan insig het oor hulle eie foute. Al benader hulle ander met baie goeie bedoelings, kan hulle nie vir ander tot hulp wees nie, hulle diskwalifiseer eenvoudig hulleself. Paulus het dit ook begryp, daarom erken hy dat hy nie ander tot die stryd sal oproep as hy self nie kwalifiseer nie (1 Kor. 9:27). Wanneer die balk egter uit jou eie oog is, kyk jy nie uit die hoogte na ‘n ander se foute nie maar dan is dit sondaar teenoor mede sondaar, wie beide genade ontvang van dieselfde God wat albei geskep het!


Om ‘n oordeel oor ‘n ander te fel is seker die mees gebruikte vorm waar wraakgedagtes uitgespreek word en waaraan die meeste mense skuld aan het – dit het spreekwoordelik in ‘n nasionale “sport” verander. “Ek wil nou nie oordeel nie, maar het jy gesien ...” of “Moet nou nie dink ek kritiseer haar nie, maar het jy gehoor ...”, is seker van die bekendste uitdrukkings wat daagliks ge-uiter word. Dit verskaf sommiges innerlike vreugde om slegte dinge van ander te sê en te hoor. Dissipels daarenteen, is volgelinge van Jesus in God se koninkryk. Wanneer ons as regters wil optree, mis ons die doel van dissipelskap. Ons moet onthou dat ons ook begenadigde sondaars is! “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip gooi ...”


Jesus gebruik hierdie voorbeeld van die balk en splinter, om aan te dui dat jý met die balk, jouself eers moet evalueer, nie voorgee wat jy nie is nie en dan die stukkie van die balk wat afgebreek het, uit ‘n ander se oog verwyder. Om ‘n verskil te maak, om ander in God se Koninkryk te dien, kan ons nie met vergrootglase rondloop om ander se sondetjies uit te snuffel terwyl ons ons eie sondes wegsteek onder al die “balke” nie. Dit is interessant dat Jesus nie die owerspelige vrou veroordeel het nie, iemand wat van beter moes geweet het, maar eerder haar weggestuur het met die opdrag om “nie weer te sondig nie.” Ten spyte van haar oortredinge het Jesus haar nie veroordeel of ‘n etiket om haar gehang nie, inteendeel, Hy het sodoende vir ons die voorbeeld gestel hoe om die pynlike splinter uit te haal.


Beteken dit nou ons moet onsself blind hou vir ander se foute? Nee, inteendeel, Jesus verwag nie dat ons sienderoë ‘n ander se foute moet toelaat nie, maar Hy verbied ons om ‘n mede sondaar te straf. Dit is presies wat die Fariseërs gedoen het. Hulle het mense vertrap en vernietig met hulle verkeerde vertolking van die wet. Ons is nie aangestel om ons Koning se regters te wees nie. Wanneer ons deur die oë van ons Koning kyk, kan ons ons eie én ander se sonde in perspektief raaksien en dan teen ons naaste optree soos wat ons graag wil hê hulle moet optree teenoor ons.


Om in opregtheid jou eie foute raak te sien, is om die balk daaruit te verwyder. Dit beteken nie dat ons glad nie die verkeerde optrede van ons naaste mag beoordeel nie. In vers 5 sê Jesus tog dat as ons die “balk uit ons eie oog gehaal het, ons beter sal kan sien om die splinter uit my broer se oog te haal.” Die feit dat ek ‘n balk in die oog het, beteken nie ek moet nou maar die splinters uitlos nie. As my balk uit is, moet die splinter ook uit! En ons moet ons “broers en susters” daarmee help. Maar, in plaas daarvan om ander te vermaan, swyg ons eerder oor hulle verkeerde doen en late want dit gaan ons nie aan nie, dit raak ons nie, ons het niks daarmee te make nie. Ons naaste is nie ons verantwoordelikheid nie, elkeen moet maar doen wat hy wil. So ‘n siening kom daarop neer dat ons onsself versoen met die sonde.


As jy waarlik liefhet, wil jy nie oordeel nie en ook nie veroordeel nie. Ons mag ons naaste met liefde reghelp. Ons gelowiges praat met mekaar, nooit oor mekaar nie. Liefde dring ‘n mens om vir iemand wat jy liefhet, ook te sê daar is ‘n splinter in sy of haar oog. Paulus bevestig ons Christene se verantwoordelikheid om nie die splinter daar te laat nie: “Broers en susters, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp” (Gal. 6:1). Ons help reg in ‘n liefdevolle gesindheid en met ‘n Christushart van aanvaarding en nederigheid. Ons help nie net reg nie, maar is ook bereid om reggehelp te word. Jy maak aan jou kant skoon en met opregtheid en liefde in die hart, help jy die een met die splinter – jy hanteer ander soos jy in daardie situasie gehanteer sou wil word.


“As ons gedurig besig is om mense openlik of in ons gedagtes te veroordeel, het ons nie tyd of enige voorneme om hulle lief te hê nie. En ons weet watter een van die twee gesindhede Jesus veroordeel het” (Albert Woods).


Gebed: Here, ek staan skuldig voor U. Ek tree soms ongenaakbaar op teenoor my naaste en dan vergeet ek gerieflikheidshalwe dat die balk in my oë die stoffies in ‘n ander se oog bedek. Here, hoe kan ek verwag dat U my sonde nie moet beoordeel nie terwyl ek reeds my mede-sondaar gestenig het? Here, maak my oë oop vir liefde en aanvaarding. Help my om die balk van veroordeling in my eie oë raak te sien en nie altyd daarop uit is om iemand anders se lewe “reg te wil timmer nie.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page