top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


MOENIE OOR ANDER OORDEEL NIE (2) – OORDEEL OOR DIE UITERLIKE IS SONDE!

(Luk. 6:37-38, 41-42)


Matt. 7:1-2 – “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.”


Vergelyk ook Jak. 2:1-4 – “My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here van die heerlikheid, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. Sê nou daar kom in julle samekoms ‘n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ‘n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak ‘n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: ‘Kom sit u hier gemaklik,’ maar vir die arm man sê julle: ‘Gaan staan jy daar anderkant’ of: ‘Kom sit hier by my voete,’ het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?”


Jakobus sluit in sy brief, by Jesus aan en was waarskynlik bekommerd dat snobisme die vroeë kerk infiltreer. Hy beskryf dan ook hier die verskil in behandeling wat die ryke teenoor die arme ontvang, en dit nogal in die “samekoms” – die kerk – waar hulle, almal Christene saam, die God van liefde gaan aanbid het. Jakobus veroordeel dit dat daar diegene is wat deur genade tot geloof in Jesus Christus gekom het maar terselfdertyd mense meermale “op-sigwaarde-aanneem.”


Slegs die flenterjas, en moontlik die verweerde bedelaarshande sonder ringe, is raakgesien en dit het vir hulle slegs één boodskap oorgedra: dat dié mens arm en gering is en geen vriendelikheid of agting verdien nie. En die woord van Jesus is vergete: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt. 25:40b). Geld dit nie dalk vir vandag se kerk ook nie? “Het ons dan nie ook al onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings, beoordeel nie?”


Ons wat in dieselfde erediens gaan bely dat ons in Jesus Christus glo, wat opgevaar het na die hemel; … van waar Hy sal kom om te oordeel …; Ons wat in die aanbidding Jesus in sy heerlikheid aan die regterhand van die Vader aanskou, nadat Hy op aarde daardie heerlikheid afgelê en die “gestalte van ’n slaaf (dienskneg) aangeneem het" (Fil. 2:7), — wat sien ons nou in die twee aspirant-aanbidders van Jakobus? Kan ons geestelik oordeel en ’n godsdienstige maatstaf aanlê — hier waar dit immers om geloof en godsdiens gaan? Of dra ons die oppervlakkige, uiterlike maatstawwe van die wêreld daarbuite nou ook in die gemeente van Christus in? Die mens se sosiale waardes is buitendien nie gelykstaande aan God se waardes nie. “God trek buitendien niemand voor nie” (Rom. 2:11).


As die geloofsaandag werklik op God gevestig is, val al die onderskeid ten opsigte van menslike glorie, (die uiterlike kenmerke waaraan ’n mens se aansien en “gewigtigheid” onmiddellik herkenbaar is), gewoon weg en word armes en rykes, geringes en aansienlikes, magteloses en magtiges gelykgeskakel op die vlak van gelowiges in die oneindig verhewe Goddelike Here. Ons sou in die oordeel van God veroordeel moes word maar deur die genade van God het Christus die essensie van die wil van God daarin gesoek en dit self vervul, terwyl Hy ook die oortredinge van ons op Hom geneem het in Sy kruisdood, sodat ons vrygemaak kon word.


Ons moet egter ook weet dat “met dieselfde oordeel waarmee ons oor ander oordeel, sal oor ons geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee ons vir ander meet, sal vir ons gemeet word.” Dit is ’n blywende maatstaf waaraan ons lewe in die eindoordeel beoordeel sal word. Dit sal aan die lig bring of ons werklik vrygemaak is en of ons begryp het wat daardie vryheid behels: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad” (2 Kor. 5:10).


“Aanbidding is suiwer of minderwaardig na gelang van die aanbidder se verhewe of geringe gedagtes omtrent God” (A.W. Tozer).


Gebed: Jesus Christus my Here, laat my asseblief altyd besef dat my geloof in U, die aard en kwaliteit van my verhouding teenoor ander bepaal. Ons is almal die eiendom van geloof van die Here in die hemel. My voorkeure mag nie toelaat dat mense na gelang van my oordeel, afgekeur word nie. Materiële waardes en kultuur moet nie ‘n rol speel op my gradering van mense nie. Materiële oorwegings mag nie my verhouding met God vervang nie. Help my dat ek in geloof aan U bly vashou. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page