top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


SOSIALE KWESSIES: VIERDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET IN DIE ALLEDAAGSE LEWE. (Matt. 6:19-7:12)


DIE SORGE VAN DIE LEWE (2) – BEKOMMERNIS LOS GEEN PROBLEME OP NIE!

(Luk. 12:22-34)


Matt. 6:25-34 – “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer nie … Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; … En wat bekommer julle julle oor klere? Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie … As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges?” (Lees gerus die volledige perikoop Matt. 6:25-34)


Vergelyk ook Fil. 4:6-7 – “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”


Gesprekke deesdae gaan meestal oor die toekoms wat maar donker lyk en dan volg ‘n hele relaas oor die sogenaamde “feite” daaroor. Elkeen se storie is meer verdoemend as die ander. Daar is volgens hierdie “kenners” nie meer ‘n toekoms in Suid-Afrika nie en duisende emigreer. Wanneer ons as gelowiges probeer om positief te verwys na Jesus se versoek om nie bekommerd te wees nie, word jy vinnig stil gemaak en daaraan herinner dat Jesus eenvoudige blommetjies en voëltjies wil vergelyk met mense se sukkelbestaan. Hy verstaan nie hoe die wêreld nóú daar uitsien nie. Soms word daar darem bygevoeg – “met respek gesê.”


Baie mense besef nie dat ons tans dieselfde toekoms beleef waaroor ons tien of selfs twintig jaar gelede, ook so oor bekommerd was nie. God is en bly in beheer! Boonop het ons dit oorlewe en maak ons dit daagliks nog stééds op die een of ander manier. Verstommend né!


Nee, dit is nie verstommend nie. Dit is genade. Dit is alles aan God te danke. Hy is getrou. Hy sorg nog elke dag en voorsien ons van genadebrood. Ja, daar is miskien nie elke dag konfyt op die brood nie maar God het immers gesorg dat ons vandag gehaal het. Hy het gesorg dat ek vir vandag iets het om aan te trek, ‘n kombers vir die koue het en ietsie vir die maag. Ons moet besef ons het nie eintlik beheer oor ons lewe of dood nie, of selfs oor ons liggaam nie, ons is daarvoor van God afhanklik. As God dan gesorg het dat ons die lewe en liggaam ontvang het, wat trouens die belangrikste is, kan ons sekerlik God vertrou vir die minder belangrike soos kos en klere. Volkome vertroue op God kan ons vry maak van lewensangs, stres en bekommernisse.


Kommer wat die brein moeg maak, tas die liggaam ook aan. Kommer kan “nie jou lewe met een enkele uur verleng nie” (v. 27), kommer kan dit dalk wel verkort! Kommer affekteer mens se oordeel, besluitneming en maak jou allerhande onwaarhede bekend. Dit is om ‘n mosie van wantroue teen ons Hemelse Vader in te stel! Dit is al waaroor jy later kan dink – jou bekommernisse en sorge. Dit is presies satan se doelwit – om ons te laat twyfel in God se voorsiening. Dit beteken nie nou om agteroor te gaan sit en wag dat God gaan voorsien nie. Die feit dat ons nie moet bekommer nie stel ons steeds ‘n verantwoordelikheid om voorsorg te tref.


Martin Luther het die volgende gesê: “Ons kan niks doen aan die voëls van kommer en sorg wat oor ons koppe vlieg nie maar ons kan keer dat hulle nie in ons hare kom nes maak nie.” Iemand anders het genoem dat sy soveel kommer met haar saamdra dat sy dit begin neerskryf het want dit het te veel geword om te onthou. Elke dag se “kommer-notas” is dan in haar “kommerlaaitjie” gebêre en Sondag voor kerk het sy dit uitgehaal om daaroor te gaan bid. Elke keer wanneer sy die week se bekommernis-briefies gelees het, het sy begin besef, nog nie één van daardie bekommernisse het gerealiseer nie. Sy was dus verniet bekommerd! Die enigste geneesmiddel wat effektief met die aftakelende skade van bekommernis kan afreken, is geloof in Jesus Christus!


“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is. God se voorsiening beteken dat die bose magte wat ons wil oorweldig, nie ‘n permanente greep op ons kan behou nie en die band waarmee Sy liefde aan ons bind, nie verbreek kan word nie” (Paul Tillich).


Gebed: Hemel Vader, ek bely elke dag dat ek ‘n hemelse Vader het maar dan raak ek ook só maklik kleingelowig en leef ek soos ‘n weeskind. My geloof is dan eintlik niks meer as net ‘n belydenis nie. Ek bekommer my siek oor die toekoms maar dit is omdat ek soos ‘n kleingelowige dink dat U rustig slaap terwyl my lewensbootjie sink. Dankie Here dat dit onnodig is om bekommerd te wees, ek kan buitendien nie my lewe daardeur verleng nie, maar dis gerusstellend om die Man te ken wat op water kan loop. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page