top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (11) – MOENIE SATAN SE BONDGENOOT WORD NIE!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:13a – “... en laat ons nie in versoeking kom nie ...”


Vergelyk ook Jak. 1:14-15 – “Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”


Jesus het tydens Sy Bergpreek nie maar net ‘n klompie woorde opgemaak om aan Sy hoorders destyds en vandag, oor te dra nie. Hy wil beklemtoon hoe ‘n Christen moet lyk en hoe hierdie Christen behoort te leef in God se koninkryk. Dit is nie ééndag se koninkryk nie, maar nou, hier waar ons elke dag in hierdie deurmekaar wêreld leef en woon. Daarom word die vyfde en sesde bedes aanmekaar gebind met “… en …”, wanneer Jesus ná die bede van skuldvergifnis, volg met die bewaring teen die magtige aanvalle van die bose. Wanneer die gebed om vergifnis uit ‘n gebroke hart opkom, gaan dit gepaard met die oorgawe van ons hele lewe in gehoorsaamheid aan God, gevolglik bid ons as kinders van God, dat ons in die toekoms van versoeking bewaar mag word.


Beteken dit dat God ons in die versoeking laat kom, sodat dit nodig is vir Jesus om ons te moet leer om God te vra dat Hy “ons nie moet laat in versoeking kom nie?” Is dit nie teen God se karakter nie? Is dit God wat ons in die versoeking laat kom? NEE! “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie” (Jak. 1:13). God is nie die bewerker van enige kwaad of sonde nie. God is soewerein en heilig!


Sedert die begin van tyd is mens geneig om die skuld van sonde voor iemand anders se deur te lê (Adam, Eva en die slang). Die godsdiensleiers in Jesus se aardse tyd, het die gevolgtrekking voorgehou dat God alles, die mens, omstandighede, slang en daarom ook die sondige natuur in ons, geskep het. Daarom kán God geblameer word wanneer ons sondig. DIS VERREGAANDE!!


Menigte mense is vandag skuldig daaraan en blameer God steeds wanneer dinge in hulle lewe verkeerd gaan. Dit is egter die mens sélf wat hom vergryp aan ‘n versoeking wanneer dit op die toneel verskyn, en dan vir God wil verkwalik want God het hom nie gekeer nie. Hy bid mos “laat ons nie in versoeking kom nie” en God het nou nie geluister nie! Intussen is dit nie God se skuld nie maar satan wat ‘n bondgenoot bygekry het. Die mens moet verantwoordelikheid neem vir sy eie versoekings.


Wat is versoekings? Thielicke vertolk dit dat enigiets vir ons tot versoeking kan word – brandende hartstogte sowel as die mooiste dinge in die lewe. Letterlik enigiets kan tussen ons en ons Vader kom stelling inneem en ons verhouding met Hom belemmer en ons van Hom laat losruk. Niemand moet dus aan God die skuld gee as hy in versoeking val nie. Alle versoekings se oorsprong is van die duiwel, daarom moet ons waak en bid teen satan, die beste versoeker, wie in al sy sluheid, selfs probeer het om vir Jesus om die bos te lei (Matt. 4:1-11). Ons Vader is egter nie ‘n magtelose toeskouer wat geen beheer het oor wat met ons as Sy kinders gebeur wanneer satan probeer om beheer oor te neem nie. Jesus het die oorwinning oor satan reeds behaal aan die kruis.


Satan vrees Jesus en daarom moet ons naby Jesus bly. Ons moet dus onsself nie aan versoekings blootstel nie – ons moenie eers kýk hoe naby ons aan die afgrond kan speel nie – ons kan ál ons vertroue in Jesus plaas. Dit beteken egter dat met die bede oor die “kwytskelding van ons oortredinge” (v. 12), nie beteken dat ons nou van ‘n skoon boekie voorsien word wat ons dan maar weer lustig met ons versoekinge en sondes kan beklad nie. Jesus het telkens as Hy vir iemand gesê het: “Jou sondes is vergewe”, bygevoeg: “Gaan en sondig nie meer nie” (Joh. 8:11). Op kwytskelding van sonde moet ‘n dankbare, heilige lewe volg. Jesus het immers vir ons die pad oopgemaak: “Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” (1 Kor. 10:13).


“As jy van versoeking wegvlug, moenie ‘n adres agterlaat nie” (Anoniem).


Gebed: Ons Vader in die hemel, ek word so maklik om die bos gelei. Ek is nie in staat om alleen vir een oomblik staande te bly in hierdie dae van onheil nie. Hou my tog weg van die strikke van satan waarin ek só maklik kan trap. Laat my nie in situasies beland waar ek getoets word aan my lojaliteit teenoor U Naam, U wil en U koninkryk nie. Laat ek U goeie wil vir my lewe só ken dat ek die gevaarsones en verloklikhede van hierdie wêreld kan vermy en met elke versoeking, my toevlug neem na U toe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page