top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (10) – VERGEWE OM VERGEWE TE WORD!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:12 – “... en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;”


Vergelyk ook Kol. 2:13-14 – “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.”


Die behoefte aan sondevergifnis is seker net soos basiese behoeftes, by elke mens een van die dringendste behoeftes om aan die lewe te bly. Daarom is dit nodig om Jesus se modelgebed, gereeld te bid omdat ons in konstante afhanklikheid van God se guns leef. Soos ons dus vir “daaglikse brood” vra, moet ons ook vir “daaglikse vergifnis van ons oortredinge” vra.


Om vergifnis te vra of om jammer te sê, is seker een van die moeilikste dinge vir die mens om te doen. Die grootste rede is moontlik dat ons geneig is om vas te klou aan eie eer, en die blaam vir die oortreding, maklik verskuif na iemand anders – Adam sê dis Eva, Eva sê dis die slang en Adam gaan nog ‘n stappie verder en blameer God “vir die vrou wat God hom gegee het …” (Gen. 3:12-13). Ons is ook maar in ‘n sekere sin net soos Adam – dit is só maklik om te bely ons is geneig tot die kwaad en onbekwaam om goed te doen en dan op die koop toe, Paulus aan te haal: “Die goeie wat ek wil doen, dit doen ek nie …” (Rom. 7:19). En so probeer ons onsself bewys as die veronregte en ons oortredinge (sonde) kamoefleer!


Ons kan ons ongelukkig nie losmaak van ons eie aanspreeklikheid vir ons sonde nie en ons kan ook nie kies om vergifnis van iemand te weerhou nie. God het ons geskep met ál die vermoëns om Hom te gehoorsaam, maar deur die sonde het ons dit vernietig. Ons is nie veronreg nie, nee, die mens het sélf gekies om as God se beeld en God se verteenwoordiger, God te verontagsaam en Sy wil te oortree. Hoe gouer ons dit besef, hoe gouer kan ons oor die spreekwoordelike brug stap om ons sondelas aan die voet van die kruis te gaan neerlê.


Wat ook treffend is, is dat Jesus ons leer om vir ander se oortredinge ook te bid, “om te vergewe soos ons vergewe.” Soms voel dit asof mens se eie oortredinge só baie is dat daar nie nog tyd is om God met ander se probleme ook op te saal nie. Hulle kan mos maar self vir hul eie skuld by God instaan. Buitendien, ons kan mos nie sommer enigiemand saam met ons in die beskuldigdebank intrek nie. Ons moet egter onthou dat Jesus steeds die Fariseërs wat ek-gesentreerd is, in konteks gebruik. Hulle bedes was ter wille van hulle eie skuldvergifnis en nie ter wille van die Vader en Sy koninkryk nie. Ons moet dus onselfsugtig bid vir ons broers en susters, m.a.w. vir die kerk wat in skuldnood verkeer.


Waarom moet ek nog bid vir sondevergifnis? Jesus is ons sonde-offer en Hy het mos klaar daarvoor aan die kruis betaal: “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” Ons móét bid vir sondevergifnis want dit is nodig en God vergewe dié wat self vergewe. Daardie versoening wat ons in Christus reeds ten volle besit, moet ons daagliks weer vir ons toeëien en dit ook aan ander, wat iets teen ons het, oordra. God se aard is vergifnis (Eks. 34:6-7) en as ons Sy kinders wil wees, moet ons Sy voorbeeld volg en kan ons nie sonde en onvergewingsgesindheid in ons harte vertroetel nie.


Ons sondig steeds daagliks en Christus het reeds daarvoor óók betaal, maar ons moet tog om dié genade, elke dag bid dat Hy dit ook sal vergewe. Ons hele lewe is ‘n proses van heling omdat ons in sonde gebore is. God is daardie ‘gom’ wat die heling bewerkstellig wanneer ons daarvoor vra! Die boodskap van die kruis by Golgota is: God is regverdig en God is liefde, daarom leer Jesus ons bid: “Vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” Daarmee bely ons dat ons aanspreeklik is vir al die slegte dinge in ons lewens, en dat ons nie self daarvoor kan betaal nie. Dit beteken dat ons gered word op grond van Christus se soenverdienste, en nou uit dankbaarheid ook ander kan vergewe. Daarom moet hierdie bede sentraal staan in ons gebed, en mag dit nie afgewater word tot ‘n blote formaliteit aan die einde van ons gebed nie.


“Om iemand te veronreg maak jou sy mindere. Om iemand terug te kry maak jou sy gelyke. Om iemand te vergewe maak jou sy meerdere” (Benjamin Franklin).


Gebed: Ons Vader, ons grootste skuld is ons onvermoë om soos U te kan vergewe. Here, hoe kan ons vergifnis verwag as ons nie kan vergewe nie en dit terwyl U dit onlosmaaklik gekoppel het aan die sekerheid van U vergifnis? Ag Here, as ons net effens te na gekom word of selfs iemand na aan ons, beledig ons, soek ons vergelding eerder as vergewing en ons veroordeel dan so graag. Vader, vergewe ons ons onvergewensgesindheid en lei ons om soos U te kan vergewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page