top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE BID (9) – VERTROU GOD VIR SY VOORSIENIGHEID!

(Luk. 11:2-4)


Matt. 6:11 – “Gee ons vandag ons daaglikse brood;”


Vergelyk ook Joh. 6:33, 51 – “Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”


Die volgende drie bedes is gerig op die mens se nood – na drie maal se suiwer hemelse dinge gevra is – kom ons by die alledaagse behoeftes van die mens. Nou eers, nadat God en Sy koninkryk voorrang geniet het, kom die mens en sy behoeftes aan die beurt. Jesus wys dat dít ook belangrik genoeg is om voor ons Vader te bring. Ons Vader wat ons daagliks versorg met alles wat die liggaam nodig het – die fisiese behoeftes (brood); geestelike behoeftes (vergifnis) en spirituele behoeftes (bewaring teen sonde). Helmut Thielicke reken dat hierdie behoeftes 90% van ons daaglikse lewe uitmaak. As ons nie daarvoor kon bid nie, sou 90% van ons lewe buite God se voorsienigheid val.


Ons broodporsie is vir “vandag”, nie môre, volgende week of volgende jaar s’n nie – VANDAG. Jesus leer ons om daagliks afhanklik te wees van ons Vader. In hierdie swak ekonomiese toestande is dit menslik om bekommerd te wees oor môre. Bekommerd oor wat ons gaan eet, inflasie, rentekoerse, ons werk, afleggings, beleggings, aftrede ens. As dit dáár is waar ons vertroue lê, wees asseblief bekommerd. Bekommer jou siek want dit gaan dalk nie beter word nie. Maar as jou vertroue in ons Voorsiener, wat ons Vader is vir jou daaglikse behoeftes, is daar niks om oor bekommerd te wees nie. Vertrou op Hom en leef!


Jesus lê klem daarop dat ons Vader daagliks aan Sy kinders voorsien en dat ons Hom daagliks met ons behoeftes moet vertrou. Hierdie vertroue maak ons derhalwe nie swak beplanners of onverskillig oor die toekoms sodat ons onvoorbereid is vir moontlike onvoorsienighede nie. God is bewus van wat môre gaan gebeur en Hy het reeds daarvoor voorsiening gemaak, solank ons herinner word dat ons van dag tot dag afhanklik van Hom sal wees.


Wanneer ons vir God vra om te “gee”, is dit nie ‘n bevel aan ons Vader nie, maar ‘n bede. Dit is belangrik dat ons so moet bid, want ons raak maklik “selfstandig” en selfversorgend” en dink ons kan op ons eie bene staan en sonder God sal kan regkom. Om só te bid, erken ons dat Hy die Bron is van alles wat goed is, want “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo" (Jak. 1:17). Ons bely ook saam met Dawid dat ons van God afhanklik is om te kan voortleef deur “ons sorge oor te laat aan die Here, Hy sal vir ons sorg” (Ps. 55:23).


Hierdie gebed hef natuurlik nie die verantwoordelikheid om self te werk, op nie. Om te vra en dan agteroor te gaan sit en wag dat God voorsien, gaan nie gebeur nie. Dit is waar dat die saad wat nodig is om brood te maak, van God af kom. As ons dit nie in die grond sit, bewerk en versorg nie, gaan dit niks voortbring nie. Ons moet immers ons kant ook bring! God gee ons sélf die vermoë om ons lewe met verantwoordelikheid te beplan. Hierdie bede bied nie skuiling vir lui kinders van die Here nie: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Tess. 3:10).


Die gebed om brood stu ook anderkant óns etenstafels en óns brood uit, dit sluit al ons stoflike behoeftes in, en beskou die voorsiening daarvan na “brood” vir ander en die wêreld. Daar waar ek ’n bietjie van my oorvloed kan gaan aanwend waar iemand in nood dalk bid: “gee my vandag my daaglikse brood”. Indien die Here ons wel bederf met meer brood as wat nodig is vir één dag, mag Hy dalk verwag dat ons daardie ekstratjie sal deel met diegene wat tans nie die vermoë het om vir hulleself te sorg nie. Dit gaan oor dankbaarheid vir dit wat ons ontvang en diensbaarheid aan ander wat nodig het: “Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spr. 19:17).


Wanneer ons vra vir daaglikse brood, is dit natuurlik nie ‘n materialistiese gebed om ons te omring met ál die luukshede van die lewe nie. Wanneer daar oorvloed is, dank die Here vir al die mooi dinge, lekker vakansie en heerlike bederfies. Dank Hom dat Hy ook voorsien het toe daar skool- en universiteitsgelde betaal moes word en rekeninge wat soms buite jou bereik gelyk het. Dank Hom vir elke meevallertjie wat Hy voorsien het daardie dae toe krisisse oor jou pad gekom het. Dank Hom vir ‘n vol koskas, genoeg vir sommer ‘n paar dae en selfs weke vooruit. Dank die Here as jy nie sukkel met onnodige kommer oor die dag van môre nie.


“Dat God voorsien, beteken dat daar ‘n kreatiewe en reddende oplossing in elke situasie moontlik is” (Paul Tillich).


Gebed: Dankie ons Vader, dat U die enigste Bron is van alles wat ons nodig het. Dankie dat niks anders my kan baat behalwe dit wat U voorsien nie. Leer my dat U môre steeds hier sal wees om my vir môre te versorg en die dae daarna. Dankie dat U voorsien en ek nie bekommerd hoef te wees nie. Here, herinner my aan die wonderwerke wat sóveel kere op my pad gekom het op tye toe ek dit die minste verwag het. Vergewe my dat ek so min dankie gesê het en so baie gedink het dis uit my eie toedoen en vermoëns dat ek goed kan leef. Help my om my seëninge te tel en herinner my om U elke dag te bedank vir alles. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page