top of page

Gedagte vir Vandag


Kerk van St. Franciskus in Assisi, Italië

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


EERSTE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)


AS JULLE ARMES HELP (3) – GODSDIENSTIGE PLIGTE IS VIR ’N GEHOOR VAN DIÉ ÉÉN!


Matt. 6:1-4 – “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie … As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie ... Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”


Vergelyk ook Luk. 18:22 – “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.”


Jesus sluit hierdie gedeelte oor “armsorg” af met ‘n vermaning, wat miskien kontrasterend met Sy opdrag klink, toe Hy vir ons gesê het ons moet “ons lig so voor die mense laat skyn, dat hulle ons goeie werke kan sien …” (Matt. 5:16a). Nou klink dit asof Jesus Homself weerspreek deur te sê ons “moenie ons godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie.”


Die verskil is egter dat die Fariseërs se manier om liefdadigheid toe te pas, gedoen is om iets te verdién by God en deur mense geëer te word, en nié om “ons Vader wat in die hemel is, te verheerlik nie” (Matt. 5:16b). Hulle het al die regte godsdienstige bewegings gemaak, maar hulle het vergeet om op die regte plek erkenning te gaan soek, hulle wou hulle eie eer by mense ingestel kry!


Hulle het hulself deur hulle vroomheid voorgehou as modelmense. Dit was vir hulle belangrik dat die gewone man op straat hulle komplimenteer, hulle “deur mense gesien word”, mense wat sê: “Ai broer, ek wens ek was so godsdienstig soos jy, jy doen só baie vir die armes; jou liefdadigheid ken geen perke nie!”


Jesus was egter geensins beïndruk nie. Hy het tot in hulle harte ingekyk en wat Hy daar gesien het, was die “self” wat erkenning gesoek het, en dit het Hom nie opgewonde gemaak nie. Wat Hy daar gesien het was ‘n spul godsdienstiges wat verslaaf was aan mense se erkenning. Die mens wat gedurig bereken hoeveel hy gaan ontvang in ruil vir wat hy aan ander gee en doen, die mens wat God “gebruik” as sy rekenmeester. As ek sóveel doen sal ek sóveel terug ontvang – ‘n balanstaat van debiete en krediete. God, ek het nou soveel gedoen, dit is nou U beurt!


Binne die “Kerk van Franciskus” in die Italiaanse dorpie Assisi, is daar ‘n publikasie wat die volgende legende voorhou: “’n Engel het vir Franciskus besoek en vir hom gesê dat hy een wens wat waar sal word, kan neem. Hy het gewonder oor rykdom, roem, ‘n lang lewe, kennis en ander aardse dinge. Maar hy het uiteindelik besluit om elke dag goed te doen aan ander en dit só te doen, sonder dat hy self bewus sal word van wat hy doen. Hy kon nie wag om die engel sy wens mee te deel nie. Die engel het egter weggebly tot aan die einde van Franciskus se lewe. Franciskus wou by die engel weet waar hy al die jare was want hy wou sy wens vir die engel gee. Die engel het hom geantwoord: 'Ek het geweet wat jou wens was en dit aan jou geskenk. Jou hele lewe was een groot daad van diens aan ander. Geseënd is jy tussen al die mense in hierdie wêreld." (Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.)


Wat is ons gelowiges in Christus, se beloning? Doen ons godsdienstige dinge om God én mense te beïndruk, of om Hom te verheerlik? Ons Vader se liefde en genade is eindeloos want dit is nie materialisties nie, dit is gevul met ongelooflike seën. Die pad wat ons loop is nie altyd maklik nie, maar die satisfaksie wat daaruit verkry word omdat ons gehoorsaamheid aan Jesus openbaar, is vreugdevol. Die ewigheidsbeloning kan nie in geld bereken word nie, want God is ook daar. Hy deel Sy goedheid en krag uit aan elkeen wat saam met Hom dit waag en Hy voeg daagliks meer en meer by, sodat ons meer en meer diensbaar kan wees aan ander.


Dit is die moeite werd om ewige beleggings te maak in ‘n hemelse bankrekening. God word dan nie aangewend as jou “Rekenmeester” nie, Hy doen dan Sélf die berekeninge want jy het jou lewe by die regte “Bank” belê. Om op Jesus se pad te loop is om tyd en energie te spandeer aan ander, om diens te lewer, betrokke te raak by die Here van die dinge. Om net besorg te wees oor jouself is vervelig en buitendien laat jy al die kanse wat die Here jou bied om te dien, deur jou vingers glip. Bewys aandag, deernis en ontferming aan ander, dis wat Jesus vir ons gedoen het. Deur jouself te gee as dienaar, is die beste belegging by God, by Hom is gewaarborgde ewige wins!


“Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed” (Spr. 19:17).


Gebed: Hemelse Here, laat my lig só skyn dat mense my goeie werke kan sien. Nie om te sien hoe goed of oulik ek is nie, want dit is nie so nie. Laat dit egter wees om my Christenskap te openbaar en God te verheerlik, nié ‘n motivering om my eie populariteit te bevorder, of roem daarin, of om ander se goedkeuring te verkry nie, maar in die Naam van Jesus Christus, my Here. Want wanneer ek iets goeds doen, is dit vir ‘n gehoor van dié Een, en dis méér as genoeg. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page