top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


LIEFDE VIR DIE VYAND (3) – LIEFDE HET SAGTE VERSORGENDE HANDE, NIE GEBALDE VUISTE!

(Luk. 6:27-28, 32-36)


Matt. 5:44 en 46-47 – “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê …, As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?”


Vergelyk ook Rom. 13:9b-10 – “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”


Jesus gaan verder en toon hier aan wat begrensde liefde beteken – ek het net dié lief wat my liefhet en ek groet net dié oor wie ek ‘n goeie gevoel het, hulle met wie ek oor die weg kom – dit beteken ook, selfsugtige liefde. Dit is dieselfde liefde wat die tollenaars en heidene se liefde aantoon. Jesus verlang meer, Sy liefde is ‘n onselfsugtige liefde, liefde wat gee, al kook dit binne jou selfs al dink jy net aan jou vyande.


Jesus gee ‘n opdrag aan ons om ons “vyande lief te hê en te bid vir hulle.” Hierdie liefde verwys na die Bybelse agapé-liefde. Ons kan byvoorbeeld nie bid dat iemand eers my vriend moet word voordat ek vir hom sal omgee nie – ek reageer dan op die liefde wat ek eers moet ontvang. Jesus se agapé-liefde is ‘n onvoorwaardelike liefde aan die persoon vir wie ons lief moet wees om sodoende, Sy opdrag na te kom. Dit is liefde in aksie en is gewoonlik nie van wederliefde afhanklik nie. Dit is om liefde te gee ten spyte van die ander persoon se reaksie. Daar is geen ruimte vir voorwaardes nie, inteendeel, God het ons eerste liefgehad (Joh. 3:16) daarom moet óns liefde ‘n reaksie daarop wees.


Met respek, weerspreek Jesus Hom nie dalk met hierdie opdrag nie? Die Bybel is immers vol van voorbeelde waar die vyand gehaat word. Dawid, die man na God se hart, het God gevra: “Moet ek nie ‘n weersin hê in mense wat teen U in opstand is nie? Ek haat hulle met ‘n uiterste haat, want hulle is ook my vyande” (Ps. 139:21); Paulus wens ‘n kopersmid God se vergelding toe (2 Tim. 4:14); Petrus stuur Simon, ‘n towenaar verderf toe omdat hy hulle wou omkoop (Hand. 8:20). Hoe nou? Al drie van hulle was Geesvervulde mense.


Nee, Jesus weerspreek Hom nie. Die Bybel is ook vol voorbeelde van die regte liefdesverhouding. In Jesus se donkerste uur het Hy hierdie agapé-liefde bewys terwyl Hy aan die kruis gehang het en met 'n sterwensasem kon uiter: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34), verruklike liefde vir die vyand wat pas Sy hande en voete met spykers deurboor het. Stefanus het agapé-liefde bewys terwyl hy op sy knieë gestaan het en die Jode besig was om hom dood te gooi met klippe. Hy bid vir sy vyande: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie” (Hand. 7:60).


Ons moet steeds Jesus se opdrag nakom, al voel dit soos ‘n verdoemende handeling. “Goed, ek sal vergewe maar nie vergeet” – klink dit bekend? Dit is deel van ons menslike natuur – om ‘n grief te vertroetel en om ou koeie uit die sloot te haal. Hierdie opdrag van Jesus is bindend en kan nie halfpad tegemoet gekom word nie. Ek sal jou liefhê “AS” jy my liefhet is om net dié lief te hê wat my liefhet, en dit is nie die antwoord op Jesus se opdrag nie. Die Here wys ons daarop dat ons bereid moet wees om die héle insident te vergewe én vergeet en dit nie weer in ons gedagtes toe te laat nie. Vergewe én vergeet is God se manier van bevryding. As jy net vergewe en nie vergeet nie, keer die wraakgedagtes terug, want satan krap weer die ou wonde oop en herinner jou daaraan om te haat.


Ons kindskap maak die verskil al is dit ook hóé moeilik. Die “AS” word dan vervang met: “As [my] getrouheid aan die wet meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs, sal [ek] in die koninkryk van die hemel ingaan” (Matt. 5:20). Dán beteken dit ek is in die regte liefdesverhouding: Om God en my naaste lief te hê! Vir dié wat “meer” as die skrifgeleerdes en Fariseërs doen, is daar by implikasie ‘n loon wat deur God se genade, kindskap van Hom beteken. Hierdie liefdesgebod verbied nie net ‘n gebalde vuis nie, maar vra ‘n uitgestrekte liefdeshand. Dit verwyder die onkruid van haat en woede en “as jy my …, dan sal ek jou …” in ons liefdestuin, word vervang deur agapantes, liefdesblomme uit God se koninkryk.


“Die liefdeswet van die wêreld werk met ‘n eweredige ruilskema: dit vir dat – dit is die aard van mense. Die liefdeswet van God wat moontlik gemaak word deur Sy Gees, is om liefde te gee sonder om iets terug te verwag” (Mary Carson.)


Gebed: Almagtige Vader, my liefde is só ontoereikend! My verskille teenoor ander word gemeet aan kleredrag, kultuur, tradisie, verskil in taal, velkleur, ag, en sommer nog baie ander verskonings om hulle nie as my naaste te aanvaar nie. Dit is soms belaglik dat ek aan onlogiese mensgemaakte opinies vasklou om juis nie U opdrag te wil uitvoer nie. Kortom Here, skenk my asseblief daardie fyn aanvoeling sodat ek kan onderskei om die regte ding te sê, te doen en te bid – selfs vir hulle wat my as hulle vyand beskou. Skoffel my onkruid tuin van haat en woede skoon en vervang dit met agapé-liefde – liefde ten spyte van ... onderdanig ten spyte van ...! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page