top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE SESDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


LIEFDE VIR DIE VYAND (2) – KINDERS VAN ONS VADER IN DIE HEMEL TREE LIEFDEVOL OP!

(Luk. 6:27-28, 32-36)


Matt. 5:44-45 – “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”


Vergelyk ook Joh. 13:34-35 – “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”


Jesus gaan verder en sê ons moet nie net ons vyande liefhê nie, maar ons liefde moet oorgaan in dade: “Ons moet ook bid vir hulle sodat ons kinders kan wees van ons Vader in die hemel.” Jesus verwys hier nie net na die Vader nie, maar beklemtoon “julle Vader in die hemel.” Ons Vader wat in die hemel is wie se Naam nie sommer rondgeskommel word in die mond soos ‘n stuk kougom en deel van mens se asemhalingwoorde – “oh my God” – is nie. Dít is dieselfde Vader wie in Sy majesteit die son laat opkom oor almal, nie net oor die goeie mense nie en die slegtes in die donker laat nie.


Dit is dieselfde Vader wie se liefde waarde het, liefde wat gekoppel is aan oorvloedig géé – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het …” (Joh. 3:16). Ons Vader het nie sy Seun aarde toe gestuur net vir dié mense wat waardig is nie, maar aan die “wêreld”, en dit sluit álle mense van die wêreld in, en juis, die onwaardiges. God het nie Sy liefde verdeel tussen die slegtes en goeie mense nie, nee, Hy het juis toegelaat dat Jesus sy lewe afgelê het vir álmal sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar “kinders kan wees van ons Vader in die hemel.”


God het nie ‘SY’ son gestop om op te kom nadat Hy dit geskep het nie, inteendeel, Hy onderhou dit nog steeds net soos Hy ons as mense onderhou: “Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27b-28). Dit sluit die slegte mense ook in. “Hy laat selfs reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.”


Jesus kom nou met ‘n troefkaart hoe kinders van God optree. As Sy nuutgemaakte kinders dink en tree ons anders op teenoor ander. Ons bly standvastig as kinders van God ten spyte van fisiese of sielkundige mishandeling deur ons vyande. Ons bid selfs vir hulle dat hulle dieselfde vreugde, vrede en liefde van God sal ken en ervaar as ons. Wat is ons en besit ons wat ons nie ontvang het nie? (1 Kor. 4:7). As Christus ons vrede is, beteken dit dat ons harte vol vrede moet wees. Hierdie vrede vind neerslag in elke faset van ons lewe. Ons gemoed en denke, ons wil, ons alles – is daarvan deurdrenk, want “die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor ons harte en gedagtes die wag hou” (Fil. 4:7). Dit is Hy wat ons waardig maak!


Daarom is ons liefde vir ons vyand, God-gesentreerd. Ons vestig ons hoop, liefde, vrese, geluk, ons álles, op Hom. Hy is ons voortbestaan. “Ons moet daagliks streef om ter wille van ander, ‘n mens te wees omdat ons ter wille van God, ‘n mens is!” (Ds. Johan Smit). Ons kan nie, nee, ons mag nie, self-gesentreerd wees nie. Dit is om ‘n afgod van onsself te maak. God se son skyn oor “slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” God se soort liefde is om vir die verkeerde mense liefde te betoon, vir hulle van wie ons nie hou nie. Kom ons vra die Heilige Gees om ons te help om vir mense te begin omgee, al hou ons nie van hulle nie.


“Elke stukkie genade en menslikheid, elke onselfsugtige daad wat ons die wêreld instuur, het ‘n positiewe invloed op die harte en gedagtes van die mensdom in sy geheel” (Albert Schweitzer).


Gebed: Ons Vader wat in die hemel is, hoe kan ek bid vir die koms van U koninkryk, terwyl ek nog in my eie koninkryk vasgevang sit? U asem gee lewe aan alles op aarde, U laat die son op sy tyd opkom en dit skyn oor almal. U spreek en die reën val, op almal. Skenk my wysheid Here om te verstaan wat U my wil leer – maak my oplettend vir U boodskap van die liefde, om lief te hê – vir almal. Help my om vir ander om te gee, al hou ek nie van hulle nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page