top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


VERGELDING (4) – DIE KRAGTIGE GETUIENIS VAN ‘N CHRISTEN!


Matt. 5:39 en 41 – “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie … As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer.”


Vergelyk ook 1 Pet. 2:12 – “Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”


Jesus se derde illustrasie het seker elke luisteraar daar teen die hange van die berg, langs die See van Galilea, rooi onder die kraag gehad. Om hierdie illustrasie van Jesus beter te verstaan, moet ons onthou dat Palestina in Jesus se aardse tyd onder die Romeinse wet gestaan het en die Romeinse soldate soms ver, van plek na plek met “full kit” moes marsjeer. Daarvolgens kon ‘n soldaat te eniger tyd, soms dreigend met swaard of spies, ‘n Jood beveel om te help dra aan sy toerusting. Die praktyk is egter algemeen misbruik, en daarom is ‘n wet ingestel dat die gevoellose soldaat, die Joodse burger kon opkommandeer om sy bagasie vir nét ‘n duisend treë mag dra. Sou die soldaat die Romeinse wet oortree, kon hy beboet word, en daarvoor was hulle baie versigtig.


Nodeloos om dit te noem, maar die onderdrukkende Jode het hierdie reël gehaat! Nou verwag Jesus dat dit vir die gehate besetter selfs twee kilometer gedra moet word – Jesus sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is… maar Ek sê vir julle…, moenie julle teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As dit met jou gebeur, bied aan om dit ’n tweede kilometer te dra.”


Dink aan daardie soldaat se verbasing wanneer hy sy bagasie na ‘n duisend treë (een kilometer) wil terugneem en jy weier om dit te oorhandig en ewe gedweë die tweede kilometer dra. Hy is bang vir ‘n boete en dring daarop aan dat jy die bagasie moet terughandig, maar jy stap horende-doof en al singende voort, want Jesus sê jy moet dit doen. Jy doen dit nie om ‘n plek in die hemel te verdien nie, maar daardie ekstra kilometer verhang jy die kwaadwillige se bordjie. Vir elke ekstra tree wat jy gee, maak jy hom skaam want jy wys vir hom dat ‘n Christen met blymoedigheid diens verrig. Dink net wat die uitwerking op daardie Romeinse soldaat gaan wees wat die kragtige en onverwagse getuienis van Christen dissipelskap, gade geslaan het!


Wat Jesus eintlik hier vir ons leer, is elke keer wanneer jy te doen kry met iemand wat jou benadeel, moet jy as dissipel van Hom, nie die wet van vergelding soek vir enige onreg wat jou aangedoen is nie, maar die ware hart van God weerspieël. Daar is ‘n ander beginsel wat jou lewensbesluite moet bepaal: Moenie altyd aan jou eie regte dink nie, maar ook die voorreg wat jy geniet om ander tot diens te wees. Wees die minste en lewer die diens blymoedig. Dit is nie nodig om hewige teenstand te bied om die taak te doen, veral as dit van ‘n buffel van ‘n baas af kom; of die bevel weier, om te draai vloekend wegstap; of net doen wat gevra word en nie ‘n duit meer nie; of die hele tyd te kla en mompel terwyl die taak gedoen word; of die opdraggewer in ons binneste te verwens, nie.


Jesus verwag van Sy dissipels dat ons nie altyd moet dink aan ons vryheid om te doen wat ons graag wil nie, of net soveel te doen as wat jý as genoeg beskou nie. Dink eerder aan ons voorreg om uit God se genade, ander te dien. Selfs wanneer die taak ondraaglik, haatlik en onredelik is, behoort ons as Sy kinders dit te doen asof ons dit vir Hom doen, en nie vir iemand wat bo ons aangestel is nie. Dit moet nie net so goed as moontlik gedoen word nie maar beter as wat verwag word! Om Jesus se voorbeeld te volg is nie om te doen wat ons wil en hóé ons wil nie, maar om dit as ‘n voorreg te beskou dat ons tot hulp kan wees.


“Ons wil almal graag groot en edel dinge bereik, maar wat meer tel, is om klein takies te doen asof hulle groot en edel is” (Helen Keller).


Gebed: Here, help my asseblief om te onthou dat die glorie en genot van hierdie lewe kortstondig is. Help my daarom om my beste te lewer in alles wat ek doen, al is dit soms teen my sin. Vergewe my die trots in my hart wat maak dat ek op myself vertrou en U vergeet. U genade is my vreugde! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page