top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE VYFDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


VERGELDING (2) – SAL JÝ DIE ANDER WANG DRAAI?


Matt. 5:39 – “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.”


Wat bedoel Jesus met Sy uitspraak wanneer Hy sê ons moet ons “nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie?” Jesus gebruik vier voorbeelde om te verhoed dat Sy volgelinge hulle wêreld aan satan en alle wetverbrekers oorgee! Die eerste voorbeeld van slaan op die “regterwang” is nie ‘n slaan op selfverdediging nie of selfs tydens ‘n geveg nie, maar ‘n klap wat bedoel was om te beledig. Wanneer ‘n regshandige persoon regoor iemand staan en hom klap met die plathand, sal die linkerwang getref word. Om die regterwang te tref moet daar dus met die rugkant van die regterhand geslaan word en dit is destyds as dubbel so ‘n belediging beskou as om met die plathand geklap te word. Dit sou impliseer dat die een wat geslaan is, die slaner se mindere is (slaaf, kind of selfs ‘n vrou).


As Jesus dan die voorskrif gee om die ander wang te draai, is dit nie ‘n goedkeuring van geweld nie. Ons moet onthou die skare met wie Jesus hier op die berg praat, is die mense wat aan die ontvangkant van die klappe gestaan het, die minderwaardiges in die samelewing onder Romeinse druk. Hy praat met die mense wat in elk geval nie mág terugslaan nie, want dan sal húlle doodgeslaan word!


Jesus sê geensins dat die beledigende klap aanvaarbaar is nie, inteendeel, Hy verwag van ons dat wanneer iemand ons selfs dubbel beledig, ons nie moet vergeld, weerwraak neem of selfs beledig voel nie. Om die ander wang te draai is ‘n figuurlike uitdrukking en dit is ‘n kragtige tentoonstelling van die “Evangelie van die Liefde.”


Om die ander wang te draai is in kontras met wat die kwaadwillige mens verwag in sulke omstandighede. Wraak klap terug terwyl liefde die ander wang draai, om hom rooi van skaamte te maak in die hoop dat hy sy lewe sal verander. Dit sal hom of haar laat wonder wat aan hierdie persoon is wie hy/sy geklap het? Wat maak hom anders? Dit kan dalk vir die agressiewe persoon die eerste stap wees om die Christen se voorbeeld na te volg, om ook selfs in moeilike situasies, met moed en oortuiging, liefde en vergifnis te wys.


Maar Jesus, met respek, ek weet nie of dit gaan werk as iemand ’n pistool teen my kop hou en sê ek moet uit my motor klim nie, hy skiet dalk; en wat van vrouens wat as minderwaardige vloerlappe deur sommige mans gebruik word, moet hulle dit maar gedwee aanvaar?; en kinders, selfs onderwysers wat in ons skole deur bullebakke geboelie word?; en wat moet die armes en onderdruktes doen as hulle besteel word deur ’n gewetenlose owerheid?; en wat van …, en …, en …?


Wanneer ’n slegte mens geweld teenoor ons gebruik, het ons gewoonlik net een van twee opsies: “fight or flight!”. Wanneer ’n geweldenaar die mag in sy hande het, help dit nie om te veg nie, en om te vlug is nie altyd moontlik nie, hy trek dalk ‘n “gun” op jou. Jesus roep ons op om die inisiatief te neem om allerlei kreatiewe maniere te bedink en in werking te stel om geweld met liefde teen te staan. Geweld kweek geweld terwyl liefde en respek, wedersydse liefde en respek kweek. Paulus voeg by dat ons “nie eiewys moet wees nie, goedgesind moet wees teenoor alle mense en as dit moontlik is, sover dit van ons afhang, in vrede moet leef met alle mense. Ons moenie self wraak neem nie maar die oordeel oorlaat aan God” (Rom. 12:16b-19).


Alles wat verganklik is sal tot niet gaan, selfs dit wat deur die smet van die sondeval aangetas is, sal tot niet gaan. Mense wat gedurig vergelding soek se menslikheid word stelselmatig afgebreek. Die ou spreekwoord: “Hy wat ‘n ander jaag, staan self nie stil nie”, getuig daarvan. God is nie ‘n Vernietiger nie, Hy is ‘n Herskepper, Hy maak nuut. Daar wag ‘n nuwe bedeling op ons waar alles nuut sal wees en waar die wil van God sal heers. Petrus getuig daarvan: “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” (2 Pet. 3:13).


“Elke stukkie genade en menslikheid, elke onselfsugtige daad wat ons die wêreld instuur, het ‘n positiewe invloed op die harte en gedagtes van die mensdom in sy geheel” (Albert Schweitzer).


Gebed: Dankie Here dat U onderskei tussen die regverdige en die goddelose. Dankie dat U geweld haat en mense liefhet wat regverdig en opreg handel (Ps. 11). Skenk my die wysheid om te strewe na selfbeheersing sodat ek geweld met liefde kan weerstaan, dat ek nie vergelding sal soek elke keer wanneer daar ‘n drif in my ontstaan om wraak te neem nie. Laat my U liefde openbaar. Here, help my om elke keer wanneer ek iemand anders in die gesig kyk, te laat besef dit is my broer of suster. Laat U nederigheid ook ‘n kenmerk word in ander se lewens. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page