top of page

Gedagte vir Vandag


Vergun ons om elkeen van julle E-Kerk lesers uit te nooi na ons jaarlikse FAMFEST wat vandag plaasvind op NG FOCHVILLE NOORD se gronde vanaf 10h00 tot laat. Kom beleef en geniet die verskil in ons Basaar vir oud en jonk. Aan julle lesers wat in die buiteland en oorsee woon, bid asseblief saam met ons; bid dat niks buite ons Here se voorsienigheid val nie en dat hierdie gebed dwarsdeur die dag sal voortgaan; bid dat Hy vir elkeen wat daar werk én elke besoeker, sal sorg, dat alles vir ons, Sy kinders, ten goede sal meewerk, want sonder Hom, kan ons niks doen nie!


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE TWEEDE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


KUISHEID (1) – HOU DIE HUWELIKS-OOG OP CHRISTUS GERIG!


Matt. 5:27-28 – “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”


Jesus gebruik met Sy tweede teenstelling, die huwelik as voorbeeld om sodoende die wet met liefde as beginsel, te gehoorsaam en toe te pas. Daardeur wil Hy die verhouding tussen ‘n getroude man en sy vrou normaliseer en weerlê Hy wéér die interpretasies van die Fariseërs oor die wet, wanneer Hy hierdie keer verwys na die sewende gebod.


Die Fariseërs en skrifgeleerdes was net gefokus op die eksterne interpretasie daarvan: “’n Man is net skuldig aan egbreuk indien hy ‘n seksuele verhouding met ‘n getroude vrou het.” In daardie wêreld kon ‘n man destyds, bo en behalwe sy vrou, ander minnaresse ook gehad het, solank die minnaresse net ongetroud was. Jesus waarsku egter dat jy reeds egbreuk gepleeg het met die oog wat sien, wellus in die hart wat volg op die begeer van die oë en die hand wat verkeerd doen, al was jy nog nie eers naby die vrou nie!


Net die fisiese daad van seksuele wellus het destyds saak gemaak. Waar het die Fariseërs fouteer? Hulle het nie die Skrif met die Skrif ge-interpreteer nie. Hulle het net inhoud gegee aan die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie” en gerieflikheidshalwe die tiende gebod ignoreer: “Jy mag nie iemand anders se vrou begeer nie.” Hulle ignoreer ook die profete se leringe: “Soos bronstige hingste het hulle geword, hulle runnik elkeen agter sy naaste se vrou aan” (Jer. 5:8) en Miga wat verwys na “hulle wat op die bed lê en beplan, wat wag vir die son om op te kom sodat hulle iemand kan gaan verkul” (Miga 2:1-2).


Jesus se preek gaan oor die heiligheid van die huwelik. Die getroude vrou se posisie in die destydse samelewing was uiters kwesbaar. Dit was eensydig háár plig om aan haar man getrou te bly deur vreemde mans, se begerige oë en hande te ontwyk. Die Fariseërs het vroue as gevaarlik beskou want volgens hulle was vroue daarop uit om ‘n man te verlei. (Dit word vandag steeds in verskeie Oosterse lande verwag dat vrouens, wanneer hulle op straat verskyn, gesluierd moet wees en hulle hare ook bedek wees.) Jesus neem nou die vrou en daardeur die huwelik, in beskerming. Die man moet met die regte oog na die vrou kyk. Die vrou sal dit dan makliker hê en die huwelik onaangeraak bly.


Dit gaan nie oor die onnatuurlike onderdrukking van die seksuele gedagtes nie, maar oor die oorvloediger geregtigheid van die koninkryk van die hemel, waar die man nie gedurig op die loer is na watter vrou hom ten prooi kan val nie. Ons oë kan ons maklik in die moeilikheid bring want dis só maklik om skelm na sonde te kyk – Dawid wat Batseba se lyf begeer het sonder dat sy eers bewus was daarvan – en dan te begin begeer.


Dwalende oë van “elkeen (Jesus verwys hier na mans) wat na ‘n vrou kyk en haar begeer”, kyk hulle harte uit na verbode dinge en vul hulle gedagtes met vernietigende begeertes. Die beste om hierdie gedagtes die hoof te bied, is om ons gedagtes aan Christus te wy, sodat daar nie tyd en plek is vir ander gedagtes nie. Miskien sal dit nodig wees om sommer vir ‘n oogtoets ook te gaan om ons sig beter te laat instel deur Christus. Ons kan Jesus se “oogsalf aansmeer sodat ons beter kan sien” (Op. 3:18). Dit sal sorg dat sondekyke vervang word om God se dinge raak te sien.


“The inevitable law of human nature is that the more a man says he will not think of something, the more that something will present itself to his thoughts” (William Barclay).


Gebed: Vader, dit wat U mooi gemaak het tussen huweliksmaats, het die mens die lelike daaruit gehaal deur dit te misbruik. Ek, Christen mens se natuurlike behoefte van liefde, het in wellus sonde verval en daarmee ruk ek U instelling van die huwelik uitmekaar. Lei my om ander te aanvaar soos wat U, Jesus my aanvaar het, tot eer van God (Rom. 15:7). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page