top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


DIE SOUT VIR DIE AARDE (3) – (S)MAAK DIE VERSKIL!

(Mark. 9:50; Luk. 14:34-35)


Matt. 5:13 – “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.”


Vergelyk ook Gal. 6:7 – “Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.”


Wanneer sout verslaan het, het dit geen waarde meer nie en word dit “buitekant weggegooi.” Dit was die gebruik in die vroeë sinagoges dat ‘n Jood wat afvallig geraak het van die kerk, nie sommer maar net kon terugkeer nie. As boetvaardige moes hy berou bewys deur voor die deur van die sinagoge te gaan lê, sodat almal wat die sinagoge betree het, op hom moes trap. Nadat “die mense hom vertrap” het, is hy weer toegelaat tot die sinagoge.


Jesus waarsku teen die sout wat verslaan het. Egte sout (NaCl) kan nie verslaan nie, maar ’n onsuiwer soutmengsel sou kon. Jesus gebruik dus hierdie metafoor om dissipels wat hulle onderskeidende kenmerk as dissipels verloor, ernstig te waarsku. Die gepaste reaksie van dissipels is bekering (Matt. 3:8), geregtigheid (Matt. 3:15) en om te leef uit die Woord van God (Matt. 4:4).


Wanneer ‘n dissipel van Jesus nie effektiewe sout vir die aarde is nie, is hy “niks meer werd nie” en dus nutteloos. Wanneer die dissipel se voorbeeld sy Christen-boodskap weerspreek, raak ander mense deurmekaar. Instede daarvan om die sout te wees wat verrotting voorkom, raak hy self verrot. Instede van verandering te bring sodat mense deel van God se huisgesin word, verander hy soos die wêreld en sleep hulle saam met hom ashoop toe. Dan word hy wêreldgelykvormig in plaas van Christusgelykvormig.


As die sout nie souterig is nie, kan reiniging en voorkoming van verrotting ook nie volkome wees nie. Dit is dan wanneer die hemelse heerlikheid vervang word met die vullishoop van wêreldse geskiedenis. “Sout is ‘n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg” (Luk. 14:34-35). Jy word soos ‘n soutlose wat op pad is ashoop toe!


Hoe toets ons of ons lewe die regte “smaak” het, of ons “smaak” gee aan die “smaaklose” spul rondom ons, of ons ‘n verskil maak? Begin by jou gesin – is jy vir hulle ‘n voorbeeld wat vernietigende invloede van die wêreld kan beheer? Hoe lyk dit by jou werkplek? Maak jy ‘n verskil om die “sout” van die evangelie tussen werksmense te “strooi”, om vir iemand anders van Jesus te vertel en saam met hom of haar te bid en te ervaar hoe die “sout” daardie persoon verander? Is jou gemeenskap ‘n beter plek omdat jy gehoorsaam is aan die Woord van God en die “sout” is wat ‘n verskil maak in stukkende lewens? Laat toe dat die Here jou gebruik en word die “preserveermiddel”, (s)maak ‘n verskil, wie weet – dalk is dit die verskil tussen ewige lewe of ewige dood. “God laat nie met Hom spot nie. Wat ‘n mens saai, dit sal hy ook oes.” Skrikwekkend!


“The saltless salt or the non-Christian Christian will not only be thrown out as useless trash in God’s sight, but will also be trampled underfoot by men” (Brian Schwertley).


Gebed: God van die heelal, ek wil só graag deur my voorbeeld U wil in die wêreld weerspieël. Ek gaan dit egter nie alleen regkry nie. Laat U Gees my lei om sout vir die wêreld te wees, dié gesindheid van ‘n nederige dienaar. Help my om effektiewe sout te wees vir ander en om nie deel te word van die verrotting nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page