top of page

Gedagte vir Vandag


Ons bid: Here, maak ons gesin vredemakende kinders van U

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)

SEWENDE SALIGSPREKING (3) : GOD SE KINDERS!

Matt. 5:9 – “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”


Vergelyk ook Num. 6:24-26 – “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”


Die titel van “God se kind” is ontsaglik. Dit beteken ons is deur Sy genade toegelaat om deel te word van Sy kring van vrede op aarde. Om “kinders van God genoem” te word is om soos die Vredevors wat hierdie wêreld ingekom het, te wees. Die vredemakers sal geseën word omdat hulle vrede verkondig en is navolgers van God in die hemel. Hulle maak vrede op ‘n vreemde, selfverloënde manier. Hulle is anders, eintlik wêreldvreemd. Hulle gaan soek vrede, draai die ander wang, loop die tweede myl. Hulle is “kinders van God” want hulle soek nie vrede ter wille van eie gewin en persoonlike voordeel nie, maar soek vrede om in dankbaarheid in God se koninkryk te kan dien.


Enigeen wat wedergebore is deur die Gees, het ‘n brandende begeerte om Jesus se vrede te omhels en ander daarvan te oortuig. Ons is as “kinders van God,” Sy ambassadeurs op aarde. As Christen gelowiges is ons God se “vredeskorps” wat ander moet oortuig van Jesus se vrede wat die engele aangekondig het 2000 jaar gelede. Dieselfde Jesus wat aan die kruis met Sy laaste sterwensasem kon uiter: “Vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Christus wat met ‘n verheerlikte liggaam, ná Sy opstanding, aan Sy bang dissipels verskyn en drie maal vir hulle sê: “Vrede vir julle.” Dít, nadat hulle almal uit vrees, weggehardloop het tydens Sy kruisiging, en nou ontvang hulle Sy ewige vrede!


Christus kom met sagte voetstappe van vrede ons lewe binne om daarin ‘n nuwe liefde te voorskyn te roep. Wanneer Hy ons lewens deur Sy Gees binnedring, word Hy alleenheerser in jou gees, word jy ‘n mens van vrede. Dan word jy nie iemand wat “ter wille van die vrede,” die verkeerde doodluiters aanvaar en maar laat voortwoeker nie, maar iemand wat eerste plek moet weet hoe afhanklik jy van God is, dat jy as vredemaker sigbaar treur oor jou sondige toestand en met ‘n sagmoedige nederige hart, dieselfde hart as Christus wil begin ontwikkel, om “die vrede wat Jesus vir ons wil nalaat wat nie die soort vrede is wat die wêreld gee nie” (Joh. 14:27). Dan kry jy dit reg om in harmonie met ander te leef, en wie weet, dalk veroorsaak jou voorbeeld van vredevolle liefde, dat hulle ook daarna sal hunker, “dat hulle ook hul voetstappe sal rig op die pad van vrede”.


Iemand het gesê dat “vrede liefde is wat rus vind in die Drie-eenheid”: God die Vader gee vrede (1 Tess. 5:23); Jesus Christus is die Prins van vrede (Jes. 9:6) en die Heilige Gees skep vrede in ons hart en lewe (Gal. 5:22-23). Daar is net een manier hoe ons verseker kan word van vrede en gemoedsrus in hierdie veeleisende en gejaagde lewe waaraan ons blootgestel is, dit is om God te ken en ‘n ware “kind van Hom” te wees: “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding” (Ps. 62:2). Om stil te word voor God in gebed, bring vir ons ware vrede want Hy is ons anker in die storms en onvrede wat in hierdie lewe om ons woed. Die vrede van God is een van die merktekens dat God deur sy Gees in jou lewe teenwoordig is.


“Vrede is nie die stilte wat kom as die oorlog verby is nie; vrede is die gevoel van broederskap wat ons verhoed om ‘n oorlog te begin” (Immanuel Kant).


Gebed: Dankie Here dat U my deel gemaak het van God se gesin. Help my om ander met God te versoen, vrede te bewerkstellig eerder as om vredeswil stil te bly en uit ander se pad uit te bly. Lei my as gelowige, om in vrede met alle mense te lewe (Rom. 12:18). Beëindig tog al die geweld in hierdie wêreld wat daarop uit is om mekaar te vernietig en uit te roei. Ek bid vir ons land wat ook deur ‘n tyd van ongekende onrus, opstand, geweldpleging en bloedvergieting, gaan. Ek bid dat geregtigheid en vrede die oorheersende kenmerk van ons land en die wêreld sal word – tot U eer. Lei ons terug van die weë van die dood na dié van die Lig. Om U Naam’s ontwil. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page