top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Die innerlike gesindheid van barmhartigheid ♥♥♥♥♥!

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


VYFDE SALIGSPREKING (1) : GEE OM MET ‘N CHRISTUSHART ♥!


Matt. 5:7 – “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”


Barmhartigheid begin nie by die uiterlike handeling nie, dit begin by die innerlike gesindheid waarmee die handeling plaasvind. Hierdie innerlike gesindheid se oorsprong is om totaal afhanklik te wees teenoor God – om die wêreld deur God se oë te sien.


Is dit nie maar wat God gedoen het deur Jesus nie? Toe God letterlik ín Jesus aarde toe gekom het, het Hy as volkome mens gekom. Hy het nie geïsoleerd en afgesonderd gaan leef nie – Hy het dinge ervaar soos die aardse mens, is versoek soos die mens; gesien met die mens se oë; gevoel met die mens se hande; geloop met die mens se voete; emosies ervaar soos die mens (Hy het gehuil: Joh. 11:35); gedink soos die mens dink – God weet hoe die mens leef en is, want Hy het “binne” die mens in gekom en Hy het tog die mens geskep!


William Barclay, die bekende Skotse teoloog, op sy beurt reken barmhartigheid beteken letterlik om saam te ly. Om saam met iemand wat swaarkry te stap sodat hulle nie alleen is nie. Om nie die pyn wat iemand het, te probeer oplos nie, maar saam te ervaar, feitlik binne daardie persoon se skoene in te klim.


Dit laat my dink aan ‘n storie van die dogtertjie wat iets by die winkel moes gaan koop. Sy het lank weggebly en mamma het al begin bekommerd raak. Met haar tuiskoms wou mamma weet hoekom sy so lank weg was. Met betraande ogies en ‘n snikkende stem kon sy mamma vertel van haar maatjie se pop wat gebreek het. Mamma vra toe: “O, toe het jy gebly om haar te help om die pop reg te maak?” Met ‘n stukkende hartseer stemmetjie antwoord die dogtertjie: “O nee, ek het gebly om haar te help huil!”


Barmhartigheid is omgee met jou hele hart, om ‘n verskil te maak, om betrokke te raak en nie net betrokkenheid te praat nie. Ons geloof in Christus behoort die aard en kwaliteit van ons barmhartigheid en totale verhouding met ander mense te bepaal. Is dit nie dalk nodig om dinge te probeer waarneem vanuit die persoon wat swaarkry se oë, dinge te dink met sý gedagtes en voel wat hý voel nie? Dit is presies wat nie gedoen word nie. Elkeen is só besig met sy eie gewaarwordinge en probleme dat ander se probleme blindelings verby gaan. Ons staan dus nog “buite” daardie persoon. En wanneer ons uiteindelik ‘n vlugtige kansie kry om barmhartigheid te betoon, dan is dit op ons voorwaardes, of daardie persoon daarvan hou of nie.


Elke hartseer het ‘n rede en wanneer die kern van die rede verstaan word, word dit makliker om barmhartig te kan wees. Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diégene op ons voorkeurlysie nie. Jesus was dié beste voorbeeld van barmhartigheid. God het gesien dat die mens in sonde en ellende verval en toe gaan God oor in aksie, Hy kom af na die mens op aarde toe – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). God het nie op Kersfees gekom om ‘n geskenk te kom ontvang nie, maar om ‘n Geskenk te gee – ‘n baie duur, onbetaalbare Genadegeskenk, sodat nie een van Sy dissipels sal wegraak nie. “Daarom moes Hy in elke opsig aan Sy broers gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen” (Heb. 2:17).


“He came to men, not as the remote, isolated majestic God; but as a man – the supreme instance of mercy!” (William Barclay).


Gebed: Wat ‘n Vriend het ons in U Jesus! U wat op ‘n dag U hemelse eer ingeruil het vir ons stukkende mense, U wat nie vasgeklem het aan U hemelskleed nie maar my sondebevlekte klere kom aantrek het! Here, maak my sensitief om saam met ander te ly. Laat U liefde my meer liefdevol optree. Laat U oorvloed my inspireer om vir ander om te gee. Laat die liefde van 1 Korintiërs 13 my lewenstyl word. Maak my ‘n kanaal van U barmhartigheid – “As dit is om mense te bemoedig, laat ek hulle bemoedig. As ek gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ek leiding gee, dan met toewyding. As ek ander help, dan met blymoedigheid” (Rom. 12:8). Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page