top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Een van die 8 Saligsprekinge wat binne die 8 glasuurde vensters aangebring is. Elke Saligspreking begin met “BEATI” wat Latyn is vir “Blessed of Salig”

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


VIERDE SALIGSPREKING (1) : VERLANGE NA GOD!


Matt. 5:6 – “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”


Honger en dors se oorspronklike betekenis bring ons gewoonlik tot ‘n waarneming van swaarlywigheid of ondervoeding, en die oopdraai van ‘n waterkraan en niks kom uit nie, of heerlike suiwer water stroom daaruit. Die feit is dat in die destydse wêreld, die gewone werkende mens se salaris, gelykstaande was aan 3 sent per dag. Die meeste mense op die platteland was gevolglik baie arm en het onder die broodlyn geleef, op die rant van werklike hongersnood. Die warm woestynson en wind, het hulle ook genoodsaak om gedurig na water te smag wat nie altyd en oral beskikbaar was nie. Dit is met hierdie agtergrond in gedagte wat ons na Jesus moet luister. Jesus deel nie sommer net ‘n klomp uitsprake wat in Sy kop was met die skare mense rondom Hom nie, Hy praat woord vir woord oor dit wat vir hulle bekend was.


Dit is nie ‘n klomp dooie woorde wat Matteus vir ons in die Bybel opgeteken het nie, dit is lewende woorde want dit kom van ons lewende God! Maar dit is egter nie waarna Jesus hier verwys wanneer Hy oor hongerte en dors praat nie. Hy verwys na ons geestelike toestand – ons sal volkome versadig word indien ons honger en dors na Christus en Sy geregtigheid. Ons word wakker geskud uit ons droomwêreld van alles is maar okey, tot die besef van ons swak geestelike toestand. Ons erken ons geestelike armoede daarom treur ons oor ons sondes en in sagmoedigheid ontdek ons God opnuut weer. Ons soek uitkoms deur geestelik honger en dors te word na wat reg is volgens God se maatstawwe, want ons is afhanklik van Hom.


Die begeerte van honger en dors na God se geregtigheid behoort ‘n obsessie by ons te word. Indien dit nie so is nie, het Jesus se preek geen verskil gemaak in ons lewe nie en sal ons ook nie ‘n verskil kan maak in die wêreld waarin ons lewe nie.


Hoe honger is ons? Hoe dors is ons? Jesus verwys nie na ‘n vinnige broodjie of slukkie water of koppie koffie wanneer ons honger of dors is, inteendeel, Jesus daag ons eintlik uit: Soek wat reg is deur God soos ‘n sterwende sonder kos en water. “Die Here het ons bekend gemaak van wat goed is. Hy vra van ons dat ons reg sal laat geskied, dat ons in liefde sal optree teenoor God en ons naaste!” (Amos 6:8).


Jesus se taal is eenvoudige taal: “Volg My!” Jesus nooi ons uit na Sy bankettafel, maar slegs “dié wat weet hulle is siek en ‘n dokter soek” (Matt. 9:12). “Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet ons smag na die geestelike melk, sodat ons kan opgroei en die saligheid verkry” (1 Pet. 2:2). Ons moet smag na die geregtigheid wat ons só nodig het, en die enigste plek waar ons dit sal vind is by Jesus want dit is die enigste plek waar dit reg is: “Salig is dié wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matt. 5:6 – ’53 vertaling).


“Mense sal eerder ‘n lang pad vat om reg te laat geskied, maar sal nie ‘n voet lig om die pad na Christus te neem waar sy honger en dors na geregtigheid vir ewig versadig kan word nie”

(Thomas Kempis).


Gebed: Drie maal Heilige God, U nooi my uit met eenvoudige taal: “Volg My en jy sal versadig word.” Ag Here, ek skryf so maklik met verskoning-taal bo-oor U uitnodiging. Vergewe my daarvoor en laat my siel nooit ophou honger en dors na die Lewende Water nie. Ek soek na U en U wil vir my lewe, bó my eie status en plesier. Help my Heer, dat my hart voluit aan U kan behoort en ek met ‘n Christushart na ander kan uitreik. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page