top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Die koepel van die “Kerk van Saligsprekinge” op die heuwel langs die See van Galilea. Die 8 Saligsprekinge is in Latyn binne die 8 vensters in die koepel aangebring.

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK : DIE BERGREDE – DIE GESEËNDES!

(Matt. 5-7)


DERDE SALIGSPREKING (3) : HOE SAL JESUS SE GETUIGSKRIF JOU BESKRYF?


Matt. 5:5 – “Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”


Vergelyk ook Gal. 6:1 – “Broers (en susters), as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.”


Met respek gesê: Jesus is nie maar net liewe Jesus wat eeue gelede in Palestina se stofstrate met ‘n lang rok en sandale rondgeloop het om mense gesond te maak, te preek en wonders te doen nie. Hy is Here!! “Hy was in die gestalte van God.” (Fil. 2:6). Die Prins van die hemel het die Kind van die krip kom word, “gestalte van ‘n slaaf aangeneem en aan mense gelyk kom word,” en tog het Hy in totale afhanklikheid van God geleef tydens Sy aardse bestaan en die beste voorbeeld van sagmoedigheid kom tentoonstel.


As Prins van die hemel het Hy nie arrogant opgetree nie. Hy het saam met tollenaars geëet en met sondaars omgegaan want Hy het meer omgegee vir verlore siele as oor Homself. In stilte en onskuldig, het Hy vervolging, bespotting, veragting en leuens teenoor Hom verdra. Terwyl hierdie sagmoedige Christus hang aan ‘n kruis, uiter Hy met ‘n swak, sterwende stem: “Vader vergeef hulle ...” Die voorbeeld van Jesus is vir ons dat ons ‘n stukkie van Sy natuur deelagtig kan word, dat ons soos Hy kan word. Met Jesus word dit ‘n God-welgevallige lewenswyse. Sy taal is hooptaal – ewige taal!


Dieselfde sagmoedige en mensliewende Jesus het op ‘n donkie se rug, Jerusalem binnegery, maar as Sagmoedige die geldwisselaars met ‘n sweep uit die tempel gejaag (Joh. 2:15). As Sagmoedige waarsku Jesus die mense om nie die voorbeeld van die skrifgeleerdes en Fariseërs wat soos huigelaars en dwase en witgeverfde grafte optree, te volg nie (Matt. 23:1-36). As Sagmoedige laat Hy selfs hardkoppige sondaars uit die kerk uitwerp (Matt. 18:17). Hierdie strengheid of hardheid het nie Sy sagmoedigheid beïnvloed nie, inteendeel, dit is juis Sy liefde vir sondaars wat Hom so laat optree het. Jesus het tussen ons kom loop om ons terug te dra na die Vader toe.


Dit is soms nodig om nie net te skik vir alles omdat ons sagmoedige Christene is nie. Wanneer dinge verkeerd loop, “as iemand in die een of ander sonde verval,” moet dit aangespreek word. Ons mag onsself nie blind hou vir ander se foute nie? Inteendeel, Jesus verwag nie dat ons sienderoë ‘n ander se foute moet toelaat nie, maar Hy verbied ons om ‘n mede sondaar te straf. Ons is nie aangestel om God se regters te wees nie. Om te haat is menslik, maar dis beslis nie Goddelik nie. Haat pas nie by mense wat inval by God se wil nie.


Wanneer ons deur die oë van die Here kyk, kan ons gelowiges ons eie én ander se sonde in perspektief raaksien en dan teen ons naaste optree soos wat ons graag wil hê hulle moet optree teenoor ons. Deur jou te wreek word jy deel van ‘n sneeubal van geweld. As jy jou daaraan oorgee sal die kwaad mettertyd die goeie vernietig en dan verloor jy fokus op jou verhouding met God. Om saam met Jesus te loop kan gevaarlik wees. Om Sy voorbeeld van sagmoedigheid te volg is om ‘n kans te vat. Jy verloor jou naam daar, jy word herdoop na “softy”, jy word die “joke” van die dag. Indien dit nog nie met jou gebeur het nie, is jy nog nie naby genoeg aan Jesus nie. Die verskil tussen sagmoedige kind van God en die wêreld, is van gee wanneer ander wil neem, van dien wanneer ander wil heers!


“Maar wat nou van daardie mense wat my verontreg het, hulle wat my softy noem? Ek kan hulle nie net so los nie, ek moet hulle ‘opfix’, dit sal immers my laat beter voel.” Nee, God het nie my oortredinge teenoor Hom gewreek nie, Hy het dit nie ‘opgefix’ nie, Hy het dit ‘gefix.’ As ontvanger van Sy liefde, mag ek nie anders optree as om dieselfde liefde vir die wêreld te wys nie. Buitendien, God slaap nie, Hy sien en weet wat misdadigers doen. Hy het al die feite tot Sy beskikking en Hy staan nie parool toe aan sulke oortreders nie. “Dit is Sý reg om te straf; Hý sal vergeld” (Rom. 12:19). Hy sal weet wat om met die misdadigers en moordenaars te doen, al dink hulle nou dat hulle die vangnet van die gereg systap.


Hoe lyk Jesus se getuigskrif oor jou sagmoedigheid? Kan Hy daarin meld dat jy ferm optree wanneer God se eer aangetas word en ten spyte daarvan, nog respek afdwing? Wanneer ons in afhanklikheid ons hand in die hand van God plaas en Hom vertrou, raak ons rustig – sagmoedig. Die Here sal sorg. Hy sal voorsien. Dít is presies wat Jesus sê en Dawid het dit eeue vantevore al bevestig in Psalm 37:22 met: “Dié wat deur die Here geseën word, sal die land besit; maar dié wat deur Hom vervloek is, sal uitgeroei word.”


Om Jesus se gesindheid in hierdie geval uit te dra, verg baie gebed, want, dit is vir die mens ontsettend moeilik om stil te bly as ander jou onregverdig behandel. In sulke tye het ons ‘n goeie porsie van God se liefde en genade nodig sodat ons nie mense begin haat wanneer ons te na gekom word nie: “ ... Ons word uitgeskel, en ons antwoord met seënwense; ons word vervolg, en ons verdra dit; ons word beledig, en ons bly vriendelik ...” (1 Kor. 4:12-13).


“Elke stukkie genade en menslikheid, elke onselfsugtige daad wat ons die wêreld instuur, het ‘n positiewe invloed op die harte en gedagtes van die mensdom in sy geheel” (Albert Schweitzer).


Gebed: Here, hoe meer ek U hoor praat, hoe meer ontdek ek my tekortkominge. Ek vra dat U koninkryk moet kom, maar die koninkryk lê nog by my. Dit is onmoontlik om ‘n selfgesentreerde lewe in U koninkryk te handhaaf. Ag Here, hoe kan ek verwag dat U my sonde nie moet beoordeel nie, terwyl ek reeds my mede sondaar gestenig het? Vergewe asseblief my kritiese en beoordelende gees. Dankie dat U volwaardig kom mens word het sodat ek U voorbeeld kan volg. Alleen kan ek dit egter nie doen nie, daarom pleit ek by U, o Gees, vir leiding. Dra my, help my, vernuwe my. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page