top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Jesus kom maak die deur van ons sondige “woestynlewe” oop na ‘n lewe wat ons só moet leef sodat ander in ons kan sien hoe Christus lyk (Gal. 4:19)

WELDADE AAN BAIE MENSE – JESUS BEGIN MET GOD SE GESAG OPTREE!

(Luk. 6:17-19)


Matt. 4:23-25 – “Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van die duiwels was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea, en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.”


Matteus lei nou ‘n nuwe fase van sy verhaal in en dit is amper asof hy die gebeure wat gaan volg, hier vir ons kortliks saamvat. “Jesus het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.” Jesus se optrede behels onderrig in die sinagoges, (Grieks=om saam te kom), van Galilea (noordwes) se gemengde bevolking, asook skares van mense uit die Dekapolis (die heidense tien stede noordoos, aan die oorkant van die Jordaan), Judea (suidwes), en ook Perea (suidoos) oorkant die Jordaan, wat Jesus begin volg het. Só word eintlik die hele gebied van Palestina in die Nuwe-Testamentiese tyd, met uitsondering van Samaria, aangedui.


Die doel van hierdie hulpsoekende skare, was om Jesus te hoor. In ‘n harde wêreld waar die Romeine met ‘n fel hand regeer het en die meerderheid mense op die rand van armoede en lyding geskuif is, was dit nodig om weer goeie nuus te hoor. Op grond van die “berigte oor Hom” wat vinnig versprei het, het skares na Jesus toe gestroom. Die tafel was spreekwoordelik gedek sodat Jesus met Sy optrede, die koms van God se koninkryk nou in woord en daad, ‘n werklikheid kon laat realiseer. Wanneer Jesus “elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond maak”, beteken dit dat Hy die mense hulle menswaardigheid in die samelewing weer teruggee, want in God se koninkryk, is daar nie onderskeid tussen mense nie. Dit is asof Matteus vir ons wil sê dat feitlik álmal van die destydse wêreld, gekom het om na Jesus te luister, te leer, en gesond gemaak te word, gereinig te word van die sonde wat aan hulle vaskleef!


Jesus begin hier in Kapernaum met Sy aardse bediening om te onderrig, te verkondig en te genees. Mense het nodig om “geleer te word wat die beginsels van God se koninkryk is”, ook nodig om deur “verkondiging die roepstem tot bekering” te hoor wat indruis teen die geneigdheid wat ons het om tevrede te wees met die gebrokenheid van die wêreld en ons eie sondige lewe, en ons het ook “genesing nodig van die siektes en kwale waaraan ons ly.” Geen wonder die mense het die berigte oor Jesus ter harte geneem en van oral gekom om te luister na Hom, kom kyk wie Hy is en kom voordeel trek uit Sy deernis.


Jesus het ons kom “leer” sodat alle wanbegrippe van God se koninkryk uit die weg geruim kan word. Hy het met Sy koms na hierdie aarde toe 'n "genadejaar" kom aankondig sodat stukkende mense se lewens weer heelgemaak kan word. Hy het vir elke mens op aarde, ‘n nuwe kans kom gee en maak nie saak waar jy vandaan kom nie of wie jy is nie, in God se koninkryk is party mense nie beter of slegter as ander nie, almal is gelyk. Jesus is dié aangesig van God se genade: “Almal het gesondig en is ver van God af, maar ons word, sonder dat ons dit verdien, op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:23-24). Jesus het ons kom leer dat God se liefde en genade groter is as Sy oordeel.


Hierdie bediening van Jesus gaan vandag immers steeds voort! God soek vandag nog steeds mense wat Hy kan gebruik: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou” (2 Kron. 16:9). Is jy iemand wat God dalk kan gebruik daar waar jy werk, waar jy bly, waar jy rondbeweeg? Is jy bereid om God se doel, in jou tyd te dien?


“Jesus came preaching that he might defeat all ignorance. He came teaching that he might defeat all misunderstandings. He came healing that he might defeat all pain. We, too, must proclaim our certainties; we, too, must be ready to explain our faith; we, too, must turn the ideal into action and into deeds” (William Barclay).


Gebed: Here Jesus, maak my sensitief vir mense se diepste behoeftes. Help my om met U sagtheid en U gesindheid, troos en liefde aan ander om my, by my en selfs dié teen my, uit te stort. Laat my met U sagte hande, dié wat ek teëkom, met my aanraking vertroos. Stuur my voete in die rigting van iemand wat op hulp wag. Maak my deursigtig sodat mense nie van my sal weet nie, maar U agter my sal sien. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page