top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERSOEKING IN DIE WOESTYN (2) – DIE TEENVOETER: GELOOF IN JESUS CHRISTUS!

(Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)


Matt. 4:5-7 – “Daarna neem die duiwel Hom na die Heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan en sê vir Hom: ‘As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie. Jesus sê vir hom: ‘Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”


Die duiwel gooi ongelukkig nie so maklik die handdoek in nie en nou kom gebruik hy Jesus se antwoord op die eerste versoeking, tot sy voordeel. Jesus het satan getroef dat ‘n mens in gehoorsaamheid op God kan vertrou vir jou daaglikse behoeftes want “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (v. 4). Net om vir Jesus te wys hy ken ook die “Woord van God”, neem hy Jesus nou na Jerusalem toe, die stad van God; en spesifiek na die die hoogste punt van die tempel toe, die sogenaamde woning van God. Dáár kan Jesus op skouspelagtige wyse Sy Messiasskap mos bewys. Satan haal selfs uit die Woord aan en versoek Jesus om daar af te spring want “die Here sal sy engele opdrag gee om Jesus op hulle hande te dra sodat Hy nie sy voet teen ‘n klip sal stamp nie” (Ps. 91:11-12).


Dit gaan weer nie oor die moontlike effek op enige toeskouers nie, maar oor Jesus se verhouding tot God en die aanwending van Sy mag vir Homself. Dit gaan om die uitvoering van die versoeking tot Sy eie eer te gebruik en sodoende die kalklig te steel, in plaas daarvan om aan sy Vader al die eer te gee. Maar Jesus ken God en sy Woord beter as die duiwel – Jesus is dan sélf die Woord wat lewend geword het (Joh. 1:1) – en kan die Messias die duiwel se misbruik van die Woord ontmasker en antwoord: “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie” (Deut. 6:16). Jesus se aanhaling verwys na Israel toe hulle in die woestyn vir God beproef het deur Hom basies te manipuleer om water uit ’n rots te voorsien. Net soos dit van Israel verkeerd was om vir God te beproef om hulle ‘n teken van versekering te gee van Sy teenwoordigheid en beskerming, net so verkeerd sou dit van Jesus gewees het as Hy sekerheid gesoek het van God se versorging en beskerming deur van die tempel se hoogste punt af te spring.


Dít is presies dieselfde met ons en satan. Ons is ook gedurig in stryd met hom en hy is ‘n uitgeslape opponent met wie daar deeglik rekening gehou moet word. Hy is ’n strydlustige leuenaar wat nie met twee horinkies en ‘n vurkie in die hand op soek is na nog nuwe teenstanders en maklike teikens nie. Hy is die meester-bedrieër en hy doen hom voor in die mooiste gedaantes en versuiker die pad na verderf met ongeoorloofde genot. Hy teiken veral vir ons, kinders van die Here, die gelowiges wat hulle lewens toevertrou aan die Here. Sy teikengebied is juis dáár, by die kerk waar hy reken ‘n mens die naaste aan God en die engele is. (Asof God net daar is, hy behoort mos te weet dat God oral is!)


Hy mors nie sy kosbare tyd en energie op sy eie kinders, diegene wat reeds die verderf in is nie. Hy is oral besig om self vir hom “dissipels” bymekaar te maak, veral waar die Heilige Gees ons op ons geloofspaaie lei. Hy wag geduldig dat ons net die verkeerde stap neem, dan slaan hy toe. En as ‘n mens eers een maal in sy lokval beland het, maak hy dit byna onmoontlik om te ontsnap en dan verorber hy sy prooi, stukkie vir stukkie!


Indien Jesus toegegee het om van die tempel se dak af te spring, sou Hy geswig het voor Sy eie behoefte aan magsvertoon voor Sy vyand. Die belofte dat God ons gelowiges sal beskerm, loop soos ‘n goue draad deur Sy Woord. Dit is nie nodig om God op die proef te stel om vir die wêreld te wys dat Hy sy woord gestand sal doen nie. Dit is nie nodig om ons lewens in gevaar te stel om deur ons optredes of selfs net gedagtes, God op die proef te stel en waaghalsige dinge aanvang om net seker te maak God hou by Sy woord nie. Om aan versoekings toe te gee, en dan te hoop en vertrou om hulp van God te kry as dinge werklik begin skeef loop, is soos om in ‘n rivier vol krokodille te gaan swem en te hoop dat God hulle bekke sal sluit. Nee, ons moet in geloof vertrou op God en Hom met ‘n onverdeelde hart volg.


“As ons aan God gebonde bly, sal ons ‘n eie geheime atmosfeer saam met ons dra. Al is ons midde in die see van sonde, sal ons vlekkeloos bly omdat ons omhul is met die magtige teenwoordigheid van God” (Henry Ward Beecher).


Gebed: Jesus, dankie dat U geweier het om van daardie dak af te spring, al kon U. Was dit nie daarvoor nie, was ek vandag nog steeds ‘n slaaf van satan se bose mag. Daarom kan ek nou met vrymoedigheid by U skuil wanneer die duiwel op my spoor is. Maar Here, hy bly lastig, hy val my gewoonlik aan waar U Gees met my besig is en hy probeer sy uiterste bes om die eenheid tussen U en my te breek, om twyfel oor my geloof in my gedagtes te saai. Dankie Here dat U nie vrae vra wanneer ek nie standvastig is en onbestendig optree nie. Dankie dat U nie tyd spandeer aan verwyte nie en dat U wysheid gee sonder voorbehoud. Skenk my die krag om in geloof en vertroue U wysheid te aanvaar en met ‘n onverdeelde hart, na te volg. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page