top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE DOOP VAN JESUS (3) – DIE HEMEL HET OOPGEGAAN OM NOOIT WEER TOE TE GAAN NIE!

(Mark. 1:9-11; Luk 3:21-22; Joh. 1: 31-34)


Matt. 3:16-17 – “Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”


Jesus word hier deur Johannes die Doper gedoop, nie omdat hy sondes het en tot bekering moet kom nie, maar omdat hy sommer van die begin van Sy bediening af, wys dat hy deel uitmaak van die groter prentjie van God se plan met die wêreld. Dit is vir Matteus ook belangrik om aan sy lesers van destyds en vandag, aan te dui dat Jesus die wil van Sy Vader wíl doen. Dit staan lynreg teenoor aardse heersers wat hulle eie eise en voorwaardes stel. Hiermee onderstreep Matteus die belangrike saak dat Jesus die Seun van God is, en wanneer Hy deel word van die doopritueel, Hy hom verbind met ons as mense. Daarin lê ook vir ons die genade van volgelingskap opgesluit, die Sondelose en sondaars word hier saamgevoeg en só word God se wil, Sy geregtigheid vervul.


God kom gee aan sy Seun Jesus, Goddelike gesag om gedurende Sy aardse bediening op te tree. Geen wonder die “hemel het oopgegaan en die Gees van God soos ‘n duif op Hom neerdaal nie” – die drie-Eenheid kom dring sélf tot binne die geskiedenis van ons mense in!!! En dan breek God sy eeue-lange swye en openbaar Homself aan die Doper en al die omstanders daar by die “doopvont” in die Jordaan: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” God kom saggies “soos ‘n duif”, nie “as ‘n duif nie”, en sê vir almal wat wil hoor én luister, sien én glo, dat Jesus sy Seun is. Onbeskryflik groot!!!


As almal maar net gehoor en geluister het, gesien en geglo het – selfs die Joodse godsdiensleiers was getuies van die hemel wat oopskeur (Mark. 1:10) en God se stem gehoor kon word. Vir hulle wat die Skrif geken het, moes “Jy is my seun, vandag het Ek jou Vader geword” (Ps. 2:7), en “Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns, Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan al die nasies bekend maak” (Jes. 42:1), tog sekerlik hier by die doopplegtigheid in die Jordaan, in vervulling getree het en tot sy reg kom. Dit is egter hulle wat juis geroem het met hulle kennis oor die Skrif en dit wat die profete voorspel het, wat grootliks daarvoor verantwoordelik was dat Jesus, die uitverkorene Seun van God se Koningskap, verneder is tot ‘n kruis.


Psalm 2 was gewoonlik gelees as ’n nuwe koning ingehuldig word. Dit beskryf ’n koning aan wie die hele aarde onderdanig sal wees omdat God met Hom is. Maar ánders as die koning van Psalm 2, sou Jesus nie met eise, voorwaardes en ’n ystersepter regeer nie, maar met genade en liefde. God self het dit goedgekeur – God sélf skeur die hemel oop en vir ‘n oomblik word dit spreekwoordelik hemel op aarde en God verseël die beloftes van verlossing wat vervul word. God se bemoeienis met die wêreld loop alles anders! By daardie eenvoudige uithoek van die Joodse land, daardie doodse gebied in die woestyn, verander God dit in ʼn stukkie hemel op aarde! Die drie-Eenheid – Vader, Seun en Heilige Gees – kan nie meer van mekaar geskei word nie. Van hierdie gebeurtenis by die Jordaanrivier begin Jesus dan nou Sy openbare optrede met die Gees as Sy metgesel.


Daardie dag het die hemele, vir alle gelowiges in Jesus Christus, oopgegaan en, soos Martin Luther verduidelik het, staan die hemele sedert dáárdie dag steeds oop oor die hele wêreld, oor ons almal, almal wat Jesus Christus aanneem as hulle Saligmaker en Verlosser. Die hemel het ook vir my en jou oopgegaan! Is dit nie wonderlik nie? Die hemel het met genadige geweld oopgeskeur vir verlore en soekende mense – sondaars soos ons! En vandag begin God se genade reeds met die mens terwyl ons nog klein is, met die doop van ʼn swak babatjie! Daar is teoloë wat sê met Jesus se doop is ons water geheilig tot doopwater. Dit is steeds gewone water, maar dan as teken en belofte dat God Homself, met ál Sy verlossende genade in Christus, tot vandag toe nog aan ons en ons kinders verbind.


“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Vader, dat Matteus hierdie belangrike gebeurtenis van Jesus vir ons op Skrif kon vaspen: Die hemel skeur oop, die Gees daal soos ‘n duif saggies op Jesus neer, U knik as’t ware bevestigend U kop en plaas U goedkeuring op die gebeure en U kom bemoei Uself met ‘n wêreld in nood, ‘n wêreld wat nie weet wat om met ál sy sondes te doen nie, met my, sondaarmens! Soos ‘n duif word ek ook honderde kilometers van my tuiste afgelaai, in sonde weggelei van my Vaderhuis, maar U Gees lei my telkens terug na my ware tuiste, terug om opnuut weer U teerheid te vind en U bevestigende woorde hoor: “Jy is My geliefde kind …”, dankie, dankie, dankie Here! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page