top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JOHANNES DIE DOPER EN SY PREDIKING (4) – SKUUR OF VUUR?

(Mark. 1:1-8; Luk. 3:1-9; Joh. 1:19-28)


Matt. 3:11-12 – “Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met die onblusbare vuur verbrand.”


Tydens sy prediking maak Johannes die Doper bekend dat Jesus met die Heilige Gees en met vuur doop en wanneer hy dit sê, beteken dit nie dat dit ‘n sigbare handeling is wat plaasvind nie. Dit beteken prakties dat Jesus sy Gees vir élkeen gee wat in Hom glo. Wanneer Jesus iemand met die Gees doop, is dit eenmalig en dit beteken dat jy as bekeerde mens nie die Gees stukkie vir stukkie ontvang nie, dis ten volle: “Wie Sy gebooie gehoorsaam, bly in God en God in hom. Hiéraan weet ons dat Hy in ons bly: Hy het ons Sy Gees gegee” (1 Joh. 3:24). Wanneer jy Christus in jou lewe ontvang het, het jy ook die Heilige Gees ontvang, want Christus en die Gees kan nie van mekaar geskei word nie!


Dit is ‘n oorweldigende gedagte dat wanneer Jesus ons met die Heilige Gees doop, Hy oor ons die heerskappy voer en Homself aan ons verbind deur te belowe dat Hy in ons sal bly (Joh. 15:4). Ons ontvang dus nie éérs vir Jesus en op ‘n later stadium Sy Gees nie, Hy is deur Sy Gees reeds in elke gelowige teenwoordig, dit is juis die Gees wat ons aan die Bron Koppel. As ons vir Christus het, het ons ook die Heilige Gees – “Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor. 12:3). Die doop met die Heilige Gees is nie ‘n bykomende “ervaring” of gawe wat eers later by ons Christene se lewens bygevoeg word wanneer ons kinders van God geword het nie, die Heilige Gees is en bly in ons die oomblik wanneer ons geloof in Jesus Christus waaragtig word!


Bybelverklaarders verskil oor die vreemde uitspraak van die Doper wanneer hy verwys dat Jesus met vuur sal doop. Het Jesus se doop met vuur enige betrekking op gelowiges én ongelowiges? Miskien is dit nie nodig om ‘n keuse tussen die twee te maak nie en eerder te toets aan die Bybel. Petrus skryf oor die “allerhande beproewings” wat ons gelowiges tref en ons bedroef laat: “Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus” (1 Pet. 1:7).


Behou ons die egtheid van ons geloof wanneer ons deur “allerhande beproewings” gaan soos byvoorbeeld siekte, lyding, moeilike lewensomstandighede, ‘n geliefde wat vermoor word? Beproewings is dus ‘n manier om te verseker dat wanneer Jesus weer kom, ons gelowiges se geloof wat gedurende ons leeftyd met vuur gelouter is, só eg bevind word dat dit aan ons Messias lof en eer sal bring.


Die Bybel self kan natuurlik ook groot wonde in ons lewe toedien: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees, gewrigte en murg … en beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Heb. 4:12). God se woord is soos ‘n vuur wat sondes uitbrand. Die Heilige Gees maak al die woorde in die Bybel vlymskerp sodat dit diep in ons lewe indring en lê elke verkeerde daad en gedagte bloot. God sê self Sy “woord is soos vuur” (Jer. 23:29), veral wanneer vals profete leuenagtig God se woord verander om hulle sogenaamde “boodskappe” wat geen krag het nie, te verkondig.


Vir ons gelowiges is daar hoop – God sny net met Sy “woord van vuur” om te genees. Hy lê alles bloot wat in ons troebel harte aangaan omdat Hy ons wil aanraak waar dit seer is. Wanneer ons deur ons sonde stukkend en naak by die hemelse poorte opdaag, kan ons weet Jesus het dit klaar genees. Wanneer die lewe vir jou glimlag, hou jou geloof in Jesus Christus lewend en kragtig, die Heilige Gees sal jou dan help om aan daardie “geloofsanker” vas te hou wanneer storms om jou losbreek. Geloof bereik ‘n edel klimaks wanneer alles om jou donker en onseker lyk.


Vir die ongelowiges is natuurlik die slegte nuus dat “Christus sy skop in sy hand het en Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met die onblusbare vuur verbrand.” Die koring gaan skuur toe en die kaf gaan vuur toe! Daar sal geen kaf by die koring wees nie en geen koring tussen die kaf wees nie, want Jesus sál “Sy dorsvloer deur en deur skoonmaak.” Die duiwel is hard aan die werk om soveel mense moontlik te verlei deur hulle aan valse leerstellings te laat glo en valse leermeesters aan te hang, maar vir hulle het die Bybel ‘n boodskap: “Wanneer die Here Jesus met sy magtige engele in ‘n vuurvlam uit die hemel verskyn, sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy magtige heerlikheid” (2 Tess. 1:7-9).


Skrikwekkend!!! Jesus wat met vuur doop se vuur is die onblusbare vuur van die verdoemenis en wanneer jy jou daarin bevind, is jy vir áltyd geban uit Sy heerlike teenwoordigheid. Skuur toe of vuur toe – die keuse is joune.


“God skenk aan elke mens sy keuse tussen waarheid en onverskilligheid. Kies watter een jy wil hê, jy kan nooit albei besit nie” (Ralph Emerson).


Gebed: Gees van waarheid, vernuwe my denke sodat ek in hierdie lewe kan onderskei wat vir God aanneemlik is. Vestig ‘n lewende geloof in my om met vasgelegde vertroue aan ons Messias getrou te bly. Dankie dat selfs wanneer my sonskyndae in skielike donkerte verander, ek steeds met die Heilige Gees gedoop is en daarom wéét dat “selfs die suiwerheid van goud met vuur getoets word, en die egtheid van my geloof ook getoets moet word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus”. Dankie Gees, dat U my geloof in Jesus Christus kragtig hou wanneer storms in my lewe losbreek, want dan weet ek die lewe sal weer vir my glimlag. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page