top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Op die 14 punt ster by Jesus se geboorteplek, is in Latyn gegraveer: “Hier het die maagd Maria geboorte geskenk aan Jesus Christus.”

DIE EVANGELIE VOLGENS MATTEUS


BESOEK UIT DIE OOSTE (1) – DIE KONING IS TE VINDE DEUR ELKEEN WAT HOM SOEK!


Matt. 2:1b-4 – “Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gevra: ‘Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.’ Toe koning Herodus hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word.”


Kort na Jesus se geboorte kom daar sterrekykers uit die Ooste by koning Herodus in Jerusalem aan en doen navraag oor die geboorte van die koning van die Jode. Volgens hulle het ‘n ster sy geboorte aangekondig en met hulle kamele en kosbare geskenke trek hulle bedags deur die versengende hitte van die woestynson en in die koue van die nag, en kom by die prag en praal van die aardse heerser, Herodus uit. Hulle is by die regte plek want ‘n koninklike sal mens mos in ‘n paleis vind. Só vind hulle ‘n koning, maar nie dié Koning nie.


Dit is opvallend dat dit moontlik sterrekykers is uit die destydse Persië (Iran vandag), wat hulde aan Jesus wou bring, Hom as Koning kom erken en met luukse geskenke hul verering laat blyk het. In die antieke tyd is sterrekykers, “magoi of magiërs (magic)” in Grieks, herken as die elite van die destydse heidendom wat hulle besig gehou het met diepsinnige teorieë oor die mens en natuur. Kontrasterend daarmee is “Herodus en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld.” Terwyl Jerusalem ontsteld is, berei God vir sy Messias lof voor vanuit die heidene. Hulle herken Sy ster vanaf die Ooste terwyl Sy eie mense geen begrip openbaar nie!


Herodes die Grote is deur die Romeine as koning oor Palestina aangestel en was bekend vir sy glansryke bouprojekte (onder andere die vergroting van die tempelkompleks), maar ook berug vir sy wreedheid. “Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word.” Opvallend dat die sterrekykers navraag doen na die Koning van die Jode, terwyl Herodus by die godsdiensleiers van Jerusalem wou uitvind “waar die Christus (Messias) gebore sou word.” (Christus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord Messias). Hiermee word Herodus dus die eerste persoon, na Matteus self, wat na Jesus as die Christus (Messias) verwys.


Die “priesterhoofde” het bestaan uit die hoëpriester, gewese hoëpriesters en ander vooraanstaande priesters wat as ’n uitvoerende komitee van die Joodse Raad opgetree het. “Skrifgeleerdes” was godsdienstige leiers wat beskou is as gesaghebbende vertolkers van die Skrif asook van die mondeling oorgelewerde godsdienstige gebruike van die voorgeslagte. Baie van hulle was Fariseërs. Die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde het die Joodse Raad (Sanhedrin) gevorm. Herodes soek dus die antwoord by hulle wat die Skrif kén.


Tragies dat hierdie priesterhoofde en Skrifgeleerdes wat die Skrif tot in die fynste detail kon uitlê en dus geweet het dat die Messias in Betlehem gebore is, nooit gaan kyk het nie. Hulle neem net kennis, Herodus neem kennis, die heidense sterrekykers gaan soek en vind. Hulle maak dit ‘n geestelike waarheid – God se Koningskap het vir hulle waarheid geword! ‘n Koningskap wat met almal en alles te make het, selfs die natuur. Die vernaamste mense in Jerusalem, God se volk, neem egter net kennis en laat dit daar???? Wonderbaarlik dat hierdie verhaal tot vandag toe nog vertel word en mense vandag nog steeds die pad na die Kindjie in die krip kan vind, die pad na Christus, die Koning wat deur almal gehuldig mag word. Hy deur wie die hele skepping, en ook die mens, tot stand gekom het, kom en word self ‘n mens! Kontrasterend is daar steeds miljoene wat egter net kennis neem van Hom en dit daar laat??


Matteus gebruik buitestaanders, sterrekykers uit ‘n heidense land om ‘n vraag te vra wat vandag steeds in ons gelowiges se ore weerklink: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?” Vir hulle het ‘n nuwe ster op die horison verskyn, iets buitengewoons. Vandag beskik ons egter oor die regte antwoord. Ja, daardie ster van destyds was iets besonders, iets bonatuurliks, dit was ‘n Kind, ‘n baie spesiale Kind wat alles op die aarde sou kom verander het. Ons hoef nie na die sterre te kyk om agter te kom wie hierdie Koning is wat gebore is of waar ons Hom kan vind nie. Ons wéét Sy Naam is Jesus, die Messias, die Seun van God en elkeen wat Hom soek, sal Hom vind, of liewer, Hy sal jou vind. Sy gesag strek nie net in Jerusalem nie en is ook nie beskore net vir mense uit die Ooste nie. Hy is Koning tot aan die eindes van die aarde, Koning van elkeen wat verdwaal het in die sonde en bereid is om deur Hom gevind te word. Jesus se ster het nog nie verskiet nie, ons moet net gedurig bid dat die Heilige Gees ons oë gevestig hou op Sy helder ster.


“O mens, troos jouself hieraan: Jy sou Jesus Christus nie gesoek het, as Hy jou nie reeds gevind het nie” (Blaise Pascal).


Gebed: Jesus, my Koning, ek kan myself identifiseer met die sterrekykers se begeerte om U te sien of dalk met Herodus en die hele Israel se magsbeheptheid om U uit te wis. Maar dankie Gees van God dat U die regte keuse in my hart laat posvat het en ek vir U, Jesus gekies het. Here, laat die helder lig van U ster op hulle skyn wat deel is van die duisternis en lyding van ons tyd, aan die laste wat so baie moet dra. Jesus, bly by ons, Verlosser wat ons swakhede op U geneem het. Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde in die mense in wie U ‘n welbehae het. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page