top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE GEBOORTE VAN JESUS CHRISTUS (3) – LEWE BEGIN ÉN EINDIG BY GOD!

(Luk. 2:1-7)


Matt. 1:22-25 – “Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: ‘Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons. Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.”


Maria was ’n maagd en het swanger geword terwyl sy ’n maagd gebly het totdat “sy haar Seun in die wêreld gebring het”, omdat die Kindjie wat in haar was, nie op die gewone manier verwek is nie, maar deur die wonderwerkende krag van God: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek” (Luk. 1:35).


Die maagdelike geboorte van Jesus bly vir ons gewone mense se verstand, onverklaarbaar, maar net so is daar baie dinge wat in die Bybel geskryf is, vir ons óók onverstaanbaar en onverklaarbaar. Daarom sê God vir ons deur die prediker skrywer: “Net so min as wat jy kan verstaan hoe gees en liggaam by mekaar uitkom in die skoot van ‘n swanger vrou, net so min kan jy die werk van God verstaan. Hy doen dit alles” (Pred. 11:5).


Johannes voer die onverstaanbare nog verder en stel ons voor, in aangrypende eenvoud, aan die onpeilbare diepsinnigheid van die wese en werking van God: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God” (Joh. 1:1). Hy verwys na die “Woord” as ‘n goddelike Persoon en hierdie Woord staan in ‘n besonderse verhouding tot God. Matteus voer die herkoms van Jesus terug na Abraham, die vader van die Godsvolk; Lukas gaan daarmee verder terug tot by Adam, die vader van die mensheid (Luk. 3:38), hoewel hy byvoeg dat Adam “die seun van God” was. Johannes weet nie van ’n beginpunt in die tyd nie. Hy staan voor die geheimenis van die ewigheid: die Woord, Jesus, het nie geword nie; Hy was reeds “in die begin” daar, nog voor die wêreld geskep is.


God is ‘n verhewe mag wat doen wat Hý wil, ons ken nie Sy wil nie en het ook nie daaroor beheer nie, dus … moenie God probeer verklaar nie, aanvaar eerder Sy misterie, glo en vertrou! Die Goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee beklemtoon, die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie, sowel as die menslikheid daarvan - Jesus is uit Maria gebore, nie uit ‘n engel of een of ander geestelike wese nie. Josef het aan Jesus Sy naam gegee binne die familie konteks en sodoende ook gesorg vir Jesus se menslike tuiste. Johannes bring Jesus nog nader aan ons: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid en veral aan ons as Christene, die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring, meegedeel! Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug.


Die storie word vertel van `n vrou wat kanker gehad en sterwend was. Tydens die dokter se besoek het sy in die teenwoordigheid van haar man en klein dogtertjie, gevra hoeveel tyd sy nog oor het. Die dokter het geweet dit was nie meer lank nie en vestig haar aandag op ‘n akkerboom buite die kamer. Omdat dit herfs was, het die boom sy verkleurde blare begin verloor en op ‘n baie simpatieke wyse het hy gesê: “Mevrou, wanneer daardie akkerboom al sy blare verloor het, sal jou tydjie verby wees.” ‘n Rukkie later kyk die pa by die venster uit – en wat hy daar sien, het sy hart gebreek. Hulle dogtertjie was besig om die blare van die akkerboom wat op die grond gelê het, een vir een op te tel, en met ‘n toutjie probeer om dit aan die boom vas te bind.


Matteus vertel toe die engel aan Josef verskyn het, het die engel gesê: “Jy moet Hom Jesus noem, want DIT IS HY WAT SY VOLK VAN HULLE SONDES SAL VERLOS.” Johannes sê die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons is daarom nie meer alleen nie. Die vleeswording van Jesus is dié bewys dat die Almagtige God gekom het om Sy woning tussen mense te maak en vir ewig in ons lewe en harte te wees. Hy is die Een wat ons gelowiges van ons sonde sal verlos en ons kinders van God maak (Joh. 1:12), kinders wat nie met ‘n toutjie hoef te probeer om die dooie blare van elkeen se lewe weer terug aan die boom vas te hang nie, maar kinders wat lewe, wat in die toekoms in lewe om nuwe blare voort te bring.


Hoe hard daardie dogtertjie ook al probeer het om die blare weer aan die boom vas te maak, sou sy nie God se gang van die lewe kon keer nie. Hy bepaal elkeen van ons se geboorte soos Hy die dag bepaal wanneer ons sal sterwe. Selfs ons eie pogings om ons dooie blare van sonde terug te hang aan die boom, met die hoop dat hulle sal verander, sal nie werk nie, net God kan dit verander. Deur Sy bewaring en liefde oorleef ons as hulpelose suigelinge in ‘n wêreld vol gevare omdat God sy Seun daardie stille heilige nag, as mens laat gebore word, sodat ons kan nuut word. Deur Sy genade het Hy sy Seun aan ‘n “boom” laat hang, sodat ons altyd Sy teenwoordigheid kan beleef, al “verwelk” ons lewe soos ‘n veldblom, al verloor ons al ons “blare”, Hy gee lewe. Lewe begin en eindig by God!


“Christus was God wat Homself in ‘n taal kom uitspel het wat mense kan verstaan”

(Billy Graham).


Gebed: Hemelse Vader, deur U onverdiende genade het U die grootste gebeurtenis in die heilsgeskiedenis van elke mens laat plaasvind. Dankie dat U kom mens word het en onder ons kom woon het. Dankie dat U Christus kom word het ter wille van my. Daardeur ervaar ek weer die avontuur van kinderlike geloof waar alles moontlik is. Ek kniel in verwondering voor U en draai ‘n oomblik van my gewone paadjie af om op U pad van verwondering en ewige heerlikheid te loop. Ek verbly my opnuut aan U onpeilbare liefde en ek deel met blydskap die werklikheid en die misterie van Christus se geboorte. Dankie dat U daardeur, die ou verlepte ek, nuut maak, weer mooi maak. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page