top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE GEBOORTE VAN JESUS CHRISTUS (2) – JESUS, DIE NAAM WAT IN HOOFLETTERS ORAL MOET PRYK!

(Luk. 2:1-7)


Matt. 1:20-21 – “’n Engel van die Here het in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: ‘Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”


God kom verander Josef se lewe vir altyd. Hy kom herskryf as’t ware Josef se hele lewensverhaal en stel hom gerus om nie “bang te wees om met Maria te trou nie”, want Hy smoor al die stories wat moontlik oor Maria versprei kon word, net daar in Josef se droom. Sy is steeds ‘n maagd, en die Seun “wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.” Dit is dieselfde Gees wat die Jode geglo het, die Gees van God was wat in die begin van die skepping, oor die donker diep waters gesweef het en chaos verander het om ‘n aarde te word (Gen. 1:2). Dit is dieselfde Gees van God wat aan die werk was soos nog nooit in hierdie wêreld beleef is nie – die Gees wat God se waarheid na die mens toe bring; die Gees wat mens na Jesus as die Weg, die Waarheid en die Lewe toe lei (Joh. 14:6); die Gees wat die menslike siel kan verander wanneer dit sy sin verloor het.


Josef word gerusgestel, dit is nie sy skuld dat Maria swanger is voor die huwelik eendag voltrek kan word nie. Die swangerskap is die gevolg van die Heilige Gees se werk. Josef kan dit maar aanvaar en sy verantwoordelikheid nakom deur voort te gaan met die naamgewing. “Josef, die seun van Dawid”, word benadruk dat Jesus wetlik tot Dawid se geslag behoort, hoewel Hy nie op ’n natuurlike manier uit hierdie geslag gebore is nie. God self kom gee Jesus se Naam, wat die Griekse weergawe is van die bekende Hebreeuse naam Jesua of Josua, wat beteken Jahwe is heil, redding, verlossing. Josef was maar net die instrument met die naamgewing van Jesus, die Verlosser – soos ‘n Dawidiese koning sal Hy die Verlosser wees, egter nié as nasionale bevryder van politieke vyande soos in daardie tyd verwag is nie, maar dat Hy sy volk van hulle sonde sal verlos (Ps. 130:8).


Die Naam Jesus is vir ons gelowiges heilig en dit moet so wees, want God het Self die opdrag gegee dat Hy Jesus genoem moet word. Dit is dan ook interessant dat die Naam van Jesus, net in die vier evangelies, 600 keer gebruik word. Jesus, die Seun van Dawid, die Seun van Josef en Maria, en bo alles, die Goddelike Seun, verwek deur die Heilige Gees – dit oortref alles in die lewe: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word …, aan Sy koningskap sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:32-33). Die ironie is dat baie nie Sy Koningskap aanvaar nie, baie wíl Jesus nie as die Verlosser erken nie. Vir ons gelowiges egter, kan ons vashou aan Jesus, ons Anker!


Die Naam Jesus is vir baie die mees geliefde Naam in die ganse wêreld. Jesus beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Elke mens het ‘n verskillende perspektief van Jesus, en dit is nie van vandag af so nie. Twee duisend jaar gelede toe Jesus se geboorte aangekondig is, het die heersers van daardie tyd, die Romeinse Ryk, ‘n mengelmoes van gelowe en teenstrydige etiese godsdienste en stelsels aangehang. In vandag se wêreld het dit nie veel verander nie. Die boodskap van die verlossing deur Jesus alleen, is beslis ‘n ongewilde siening in baie mense wat glo dat hulle geloof, die enigste waarheid is.


Op ‘n spesifieke tyd en plek, op ‘n wyse wat alle menslike verstand en gebeure oortref, het God in die wêreldgeskiedenis ingegryp deur die geboorte van sy Seun, tot redding vir jou en my, en almal wat dit glo. Wanneer jy eensaam is, is Jesus die vriendskap en liefde vir jou; wanneer jy siek is, beteken Jesus genesing; wanneer jy skuldig is, beteken Jesus vergifnis; wanneer jy in die modder lê, beteken Jesus optel en herstel; wanneer jy stukkend is, beteken Jesus die medisyne vir jou wonde; wanneer dit donker is om jou, is Jesus die lig; wanneer jy terneergedruk is, beteken Jesus hoop en wanneer jy sterf, beteken Jesus die lewe anderkant die graf! Wat beteken die Naam Jesus vir jou?


“Die Naam van Jesus is in my gedagtes soos ‘n vreugdevolle lied, in my ore soos hemelse musiek en in my mond so soet soos heuning” (Richard Rolle).


Gebed: Jesus, ek wil vandag saam met die liedjieskrywer U Naam besing: “Die klank van U Naam is soet vir die gelowige hart, dit heel my wonde in my gemoed, verban my vrees en smart” (Hal. 61:1). Ek wil ook bid vir hulle wat steeds in ‘n verwarrende wêreld leef, hulle wat die Naam Jesus nie ken nie, hulle wat U maagdelike geboorte nie wil aanvaar nie, hulle wat groot word in ‘n onstabiele omgewing, hulle wat oral soek na “betekenis en vervulling” by die verkeerde, hulle wat oorgelewer is aan verkeerde invloede en verleiding, aan moedeloosheid en depressie. Jesus, versterk hulle met U teenwoordigheid. Ek vra dit in die mooiste Naam wat ek ken, Jesus Christus. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page