top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LOFPRYSING (2) – JESUS CHRISTUS REKEN OP ONS GETUIENIS!


Rom. 16:27 – “Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen.”


Paulus eindig sy brief aan die Romeinse Christene in ‘n crescendolied, ‘n lied wat by uitnemendheid, oor die verheerliking van God deur Jesus Christus gaan! Elkeen wat só aan God se almag en Sy alwyse handelinge dink, kan nie anders as om Hom te prys nie. Hy is die Alwyse God, die Almagtige en Enigste God. Daar is niemand soos Hy nie, ten spyte van menslike slimmigheidjies wat Hom iets anders of iemand anders, wil maak.


Ek kan my indink hoe Paulus se gemoedstoestand was met die voltooiing van hierdie brief: aan die een kant dankbaar dat hy kan terugkyk op die geseënde volvoering van sy roeping in die Oostelike helfte van die Romeinse Ryk en daarmee saam die uitsien na sy besoek aan Rome en ‘n nuwe werkkring in die Weste, veral in Spanje. Ek dink toe Paulus op hierdie stadium ‘n optelsom van sy prestasies gemaak het, het hy miskien by één verskriklike feit vasgesteek: “Ek is die geringste van die apostels en is nie werd om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die kerk van God vervolg het” (1 Kor. 15:9).


Ons wil amper sê: “Komaan Paulus, gee jouself bietjie krediet man. Jy het ná jou bekering baie verduur ter wille van die evangelie en baie mense het deur jou prominente koninkrykswerk tot bekering gekom, en kom vandag nog steeds, soos byvoorbeeld deur jou Romeinebrief, tot bekering.” Maar Paulus het sy aandeel tot hierdie bydrae, op ‘n skaal voor God gesit en sy onmag besef: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie; inteendeel, ek het harder gewerk as hulle almal (die ander apostels); eintlik was dit nie ek nie, maar die genade van God wat by my is” (1 Kor. 15:10).


Ons is vandag slegs twee weke in Paastyd in, onthou ons nog van Jesus se kruisiging, Sy opstanding, alles wat oor ons gekom het as gevolg van hierdie gebeurtenis 2 000 jaar gelede, of was hierdie genadegeskenk van God aan ons, tevergeefs? Hoe wonderlik dat Paulus nie hierdie genade eenkant toe gegooi het nie, maar die tweede kans wat God hom gegee het, met albei hande aangegryp het. Dit oorweldig my ook, dat as dit nie vir die ontfermende, onverdiende genade van dieselfde God was nie, sou ek dit nooit gemaak het nie. En wanneer ek daaroor peins, veral in die nag, laat dit my onteenseglik saam met Koos Doep sing: “Wat ek is, is net genade, wat ek het is net geleen.” Paulus se woorde word dan ook myne: “Maar deur die genade van God is ek wat ek is.”


Iemand vertel die storie van ‘n engel wat vir Jesus gegroet het na Sy tuiskoms in die hemel en vir Hom gesê het: “U moes seker verskriklik gely het vir al die mense daar op die aarde, kyk net na al U wonde. Weet hulle almal dat U hierdie lyding, dood en opstanding, namens hulle deurgemaak het?” Jesus antwoord hom: “Nee, nog nie, maar Ek het vir Petrus, Johannes, Jakobus, Paulus en ál die ander apostels gevra om dit vir ander te vertel, en die ander sal weer vir ander vertel totdat almal op die aarde daarvan sal weet.” Die engel het twyfelend Jesus gevra: “Sê, nou hulle begin moeg word, of hulle gaan dood voor almal weet. Gaan die mense in die 21ste eeu byvoorbeeld weet van God se genade en U verlossing?” Jesus het beslissend geantwoord: “Ek reken op hulle!”


Jesus het gesterf en opgestaan om vir ons die evangelie te gee en Hy reken op ons om dit verder te versprei. Dit is nie net Paulus se koninkrykswerk, soos byvoorbeeld sy Romeinebrief wat betekenisvol is nie. Ook nederige sekretariswerk soos dié van Tertius wat die skryfwerk hanteer het terwyl Paulus aan hom dikteer, of om die brief veilig in Rome af te lewer soos Febe, is vir Jesus belangrik. As jy voel jou beskeie bydrae in die Here se koninkryk is nie regtig iets werd nie, dink weer. Hoeveel armer sou ons nie gewees het as Febe nie haar deel gedoen het nie en die Romeinebrief in die snippermandjie gegooi het?


Raadpleeg die Here oor Sy wil vir jou, God het ander planne vir elkeen van ons in die raamwerk van Sy genade. Met tyd en omstandighede, sal die Heilige Gees jou lei om te getuig dat Jesus Christus vir jou sonde gesterf het en dat Hy uit die dood opgewek is vir jou ook. Dit is die hart van die Christelike geloof. Jesus reken op jou om dit aan ander te vertel en uit te lééf! “Aan Hom, die enigste en alwyse God, behoort die heerlikheid deur Jesus Christus tot in ewigheid! Amen.”


“God se genade is die gom wat gebroke mense vanaf hulle geboorte, aanmekaar hou en sorg vir heling” (Eugene O’Neil).


Gebed: Here, wanneer ek my lewe in oënskou neem, besef ek soos Paulus en Koos Doep dat alles wat ek het en wat ek is, net genade is. Here, elke keer wanneer ek probeer wees soos wat U wil hê ek moet wees, misluk ek daarmee. Ek is al só moeg om te probeer om waardig te leef en maar net weer U teleur te stel. Dankie dat U soveel keer wanneer ek my eie kop wil volg en wou wegbeur, U nie moed opgegee het met my nie, en dan weer genaglik nader getrek het. Die wonder dat U geduldig wag om my genadig te wees, is te veel vir my menseverstand. Ek wil U loof dat U dit vir my moontlik gemaak het om ‘n kind van God te wees, en ek geen teenprestasie daarvoor hoef te lewer nie. Jesus, U kan op my reken, ek sal uit dankbaarheid getuig oor dít wat U deur God se genade, vir my gedoen het. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page