top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS CHRISTUS, OORWINNAAR OOR DIE DOOD!


Ons Koning leef! Hy het die dood finaal vir ons oorwin, daarom kan ons met vrymoedigheid aanneem dat almal nie anders kan, as om onherroeplik deur Jesus Christus se werke hier op aarde, verander te word nie. Ons gebed is dat u teen die einde van hierdie lydenstyd wat drie dae terug, op ‘n hoopvolle Opstandings Sondag geëindig het, weet wat Christus vir ons gedoen het en vervul is met die volheid en krag van God. Ons gaan van vandag af dan weer voort met Paulus se “Brief aan die Romeine”.



PERSOONLIKE GROETE (2) – CHRISTENGROETE!


Rom. 16:3-16 – “Groete vir Priscilla en Akwila, my medewerkers in Christus Jesus wat hulle lewe vir my gewaag het. Dit is nie net ek wat hulle dankbaar bly nie, maar ook al die gemeentes onder die heidennasies. Groete ook aan die gemeente wat gereeld in hulle huis bymekaarkom. My groete verder ook … Groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.”


Paulus meld vervolgens ‘n lang groetelys van mense aan wie hy persoonlik bekend was. Dit is vreemd dat hy so lang groetelys aanheg in sy brief, by verre meer as in enige van sy ander briewe, en dit terwyl hy nog nooit in Rome was nie. Dit is egter heeltemal verstaanbaar dat Paulus juis in sy brief aan Christene wat hom nog nie persoonlik ontmoet het nie, tog noem dat hy verskeie prominente mense onder hulle wel ken. Daarmee skep hy vertroue by die Romeinse Christen-gemeente en word die vreemdheid tussen hulle en hom, in ‘n mate oorbrug.


By enkele name van die vier en twintig Christene heg hy ‘n kort beskrywing van wat sy verhouding met hulle was, en beklemtoon hy wat elke kultuur en geslag in die destydse kerk gespeel het. Ons gaan nie elke Christen afsonderlik bespreek soos in die geval van Febe nie, maar wel die opvallende kenmerke wat uitstaan in die groetelys.


Eerstens betoon Paulus Christelike welwillendheid en hoflikheid aan sy Romeinse lesers. In sy hart het hy die behoefte ervaar om aan sy medegelowiges te wil erken dat hulle vir hom saak maak en dat hy hulle onbaatsugtige werk vir die Here, waardeer. Hy wys op hierdie manier dat hulle die saak van die evangelie met ‘n positiewe gesindheid bevorder en al het hy sy lesers nog nie persoonlik ontmoet nie, daar reeds talle bande is wat hulle aan mekaar verbind. Is dit nie dalk ‘n voorbeeld vir ons om erkenning te gee aan iemand wat jou by jou siekbed besoek het nie? Meld ons byvoorbeeld aan ons man of vrou, kinders, familie, vriende, predikant, wat ons van hulle waardeer, of beskou ons hulle optredes as vanselfsprekend?


Tweedens lê Paulus groot klem op die insette van diegene wat hulleself as werkers vir Christus beskikbaar gestel het, selfs wat vir die saak van die Here saam met hom in die tronk was (die egpaar Andronikus en Junia – v. 7). God het ons vir diens aan Hom geskep, nie selfgesentreerdheid nie. Jou dienaarshart gaan wys hoe volwasse jy is. Jy het byvoorbeeld nie ‘n spesiale talent of gawe nodig om voor of na ‘n kerkbasaar stoele op te stapel, of rommel op te tel, of te help opruim nie. Almal kan ‘n dienaar wees. Dit kos net karakter. Hoe weet jy of jy ‘n dienaarshart het? Luister wat sê Jesus: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Matt. 7:16).


Derdens is dit opvallend dat Paulus in sy groetelys, Christenvrouens ook uitsonder wat ‘n besonderse plek in die vroeë gemeentes ingeneem het. Sewe vroue word, na Febe, by die naam genoem en dan verwys hy nog na twee ander ook, alhoewel hy nie hulle name noem nie. Dit beteken dat vroue omtrent ‘n derde van die groetelys beslaan! Die evangeliediens van ses van die sewe vroue, word aangeprys, terwyl dit nie by die mans die geval is nie. Priscilla byvoorbeeld, se naam word voor haar man Akwila s’n geplaas, moontlik omdat sy meer prominenter in haar dienswerk as haar man gewees het. Paulus het net soos Jesus, aan die vrou ‘n prominente en gewaardeerde plek in die gemeente toegeken! Dit is miskien nie goed vir chauvinistiese mans se ore nie, maar vergun my ‘n persoonlike opinie: “Die byvoeging van vroue tot die kerkraad asook prominente posisies in die gemeente, het ‘n oplewing in ons gemeentelike dienswerk meegebring.”


Vierdens is dit treffend hoe die innige en liefdevolle Christenverbondenheid in die groetelys na vore tree. Die uitdrukkings “in die Here” en “in Christus” kom in die Griekse teks soos ‘n refrein voor. Hierdie eerste Christene was diep bewus van die feit dat hulle saam “in ‘n ewige werklikheid” gedeel het. Hulle was saam “in Christus” as ‘n groot familie saamgesnoer wat alle verskille, geslag en volksverband oorbrug het. Daarom is dit natuurlik dat Paulus sy groetelys opvolg met: “Groet mekaar met ‘n soen van Christelike broederskap.” Hierdie Christensoen was deel van die erediens en moet natuurlik nie verwar word met ‘n mondsoen nie, maar die tipiese Oosterse wang-tot-wang-soen.


Ware dienaars van Christus doen elke taak met ewe veel toewyding, maak nie saak hoe nederig of klein die taak is nie. Dit beteken natuurlik nie dat ons noodwendig alles presies soos die Bybelse Christene moet doen nie, maar dat ons die liefdesband met mekaar sal ervaar en uitleef teenoor mekaar. Geen Christen is só belangrik dat hy of sy nie met nietige takies kan uithelp nie. Jesus het immers takies verrig wat ander mense vermy het: voete was, hand gee met kinders, ontbyt maak – niks was benede Hom nie, want Hy het gekom om te dien! Ons kan ook nederige takies verrig, nie ondanks ons vernaamheid nie, maar danksy die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het: “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Joh. 13:15).


“Doen al die goed wat jy kan op elke manier wat jy kan op al die plekke waar jy kan teenoor al die mense wat jy kan solank as wat jy enigsins kan” (John Wesley).


Gebed: Here, U liefde vir my is onvoorwaardelik en onuitputlik. Help my dat ek dieselfde gesindheid sal openbaar en dit die basis van my liefde vir ander sal maak. Dankie dat ek verbonde kan wees aan ‘n Christengesin, deel kan wees as kind van ons hemelse Vader, deel kan wees om binne die raamwerk van U wil, my kan bevind. Maak my ‘n gehoorsame dienaar van U wil. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page