top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS SE PAD NA GLORIE!


Na Sy inhegtenisname in die Tuin van Getsemane die Donderdagnag/vroeg Vrydagmôre, word Jesus weggelei en verskyn Hy voor die Joodse Raad, Annas en Kajafas; word Hy verloën deur Petrus; verskyn Hy voor Pontius Pilatus, Herodus en weer voor Pilatus wie Jesus oorlewer om gemartel en gekruisig te word; Jesus stap die Via Dolorosa na Golgota en word gekruisig, uiter die sewe kruiswoorde, sterf en word begrawe.


GOEIE VRYDAG – JESUS WORD GEKRUISIG!

(Matt. 27:31-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43; Joh. 19:17-27)


Luk. 23:33 – “Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant.”


Vergelyk ook Joh. 19:18 – “By Kopbeenplek, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota, het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.”


Jesus se kruisiging was nie ‘n romantiese gebeurtenis nie, maar skrikwekkend wreed. Tussen twee misdadigers word Hy opgehang, word Hy met hulle gelykgestel asof Hy ’n ewe groot misdadiger is: “Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is” (Jes. 53:12b). Hy het nie gekies om tussen twee kerse in ‘n kerk gekruisig te word nie, maar tussen twee misdadigers, want dit is vir wie Hy kom sterf het, sondaars soos ek en jy!


Die geweld van die stamp om die kruis te laat regop staan, maak dat Sy arms uit potjie ruk, Sy spiere skeur. Skok, bloedverlies en hartstilstand bespoedig Sy dood. Nakend, sonder enige klere, hang Hy daar, onherkenbaar vermink en vervorm deur die sonde en pyn van die mensdom. Hy word uitgelewer aan die spot en vernedering van mense wat Hyself geskep het. Terwyl Sy bloed langs die kruis aftap, daag mense wat daar verby loop, Hom uit om Homself te red. “Net so het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes ook spottend vir mekaar gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!” (Mark. 15:31).


Volkome ongevoelig teenoor die ontsettende lyding wat Jesus aangedoen is, hou die soldate hulle besig met die verdeling van Sy klere. As deel van hulle vergoeding en volgens gebruik met elke kruisiging, het die soldate beslag gelê op die kruiseling se klere. Elkeen van die vier het reeds ‘n kledingstuk van Jesus geneem – Sy skoene, tulband, gordel en bokleed. Die soldate wil die onderkleed, wat “in een stuk geweef” was, nie skeur nie, want dan sou dit nutteloos vir gebruik wees. Daarom loot hulle wie dit moet ontvang.


Wat het Jesus gedink toe Hy verby Sy bebloede voete kyk na die kringetjie soldate wat besig was om te dobbel, sodat hul klerekas aangevul kan word? Hulle is só naby aan die kruis, maar tog só ver van Christus af; bý die kruis maar sien en dink net oor hulleself! Hulle kyk in die verkeerde rigting, weg van die ewigheid af na die huidige winsie!!! ‘n Ses van die dobbelsteen sou die wenner ‘n onderkleed besorg. Bokant hulle hang die Seun van God wat met Sy lewe kom dobbel het. Hy moes ‘n ses kom gooi het anders was ons almal verlore!!! Sy waagstuk was egter suksesvol, Hy het gewen sodat ons kon wen! Sy klere is uitgetrek, verdeel en voor gedobbel sodat dit ons sondes waarmee ons dobbel, kon toemaak en elke sondaar, met geregtigheid beklee!


Is ons ook nie soms maar soos die soldate wat sit en dobbel by die kruis nie? Sondae hoor ons dat Christus ons wil nuut maak maar ons hoop is gevestig dat ek die wenner van die “onderkleed” sou wees; ek wil meer hê, nie net die sandale wat duisende kilometers afgelê het, of die bokleed wat vol bloed is nie; ek ding mee; ek wil beter wees; selfsug is deel van my lewe; ek baklei om status want mense dink meer van my as ek kan spog met waar ek bly, wat ek ry en wat ek kry. Intussen is dit net tydelike geluk – só naby die kruis maar ver van Christus af! Jesus is vir ewig en Hy bied blywende geluk, ons kan dit kry sonder om te dobbel. By Hom is elkeen ‘n wenner!


Die lewe naby Christus word nie bepaal deur die regte val van die dobbelsteen nie, dit is nie die doen van die regte of verkeerde dinge nie, dit is om weg te kyk van die verkeerde, op te kyk na Hom wat vir my aan die kruis gehang het, en myself volkome in Sy bebloede hande plaas. Dit is dáár by die kruis waar ek nie net gekyk het waar Christus aan die kruis gehang het nie, maar tot by die voet van die kruis gekom het en Hom hoor sê: “Ek het dit vir jou gedoen my kind!” Ek hoef nie net tevrede wees met die sandale of bokleed nie, Jesus het Sy álles vir my gegee!


Hy was die een wat "verag en deur die mense verstoot was, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra.” Aanvaar in geloof dat Jesus “oor óns oortredings deurboor is, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:3-5). Met die spykers wat Sy liggaam deurboor het, het “Hy my naam in Sy handpalms gegraveer” (Jes. 49:16). Jesus sterf sodat ek en jy kan lééf! Gaan lééf dan vir Jesus Christus, ons Here!


“Aan die kruis het Jesus gehang met die gewig van elke aspek van ons skuld op Hom – elke leuen, elke onrein gedagte, elke vorm van versuim, elke stuk selfverheerliking ... Op die vraag van die aangrypende Negerlied: ‘Were you there when they crucified my Lord?’ kan ons waaragtig antwoord: Ja, ons was daar. Op Golgota was ons elkeen daar. Net – die een wat gely het, was nie ek of jy nie; dit was die Een wat gesterf het in ons plek”

(Anton van Niekerk).


Gebed: Here Jesus, in my geestesoog sien ek U hang daar aan die kruis, naak, stukkend, verbrysel oor my sondes. Geen skoonheid dat ek eintlik na U wil kyk nie, geen voorkoms dat ek van U kan hou nie (Jes. 53:2b) Met afgryse sien ek hoe U gewilliglik U mag en heerlikheid prysgee vir ‘n eensame dood. En tog, reik U na my uit, is U bereid om vir my, nederige sondaar, die hoogste prys te betaal. U offer het my seën geword. Vergewe my Jesus, dat ek U kruisiging en dood soms as vanselfsprekend aanvaar, of selfs vergeet wat U vir my gedoen het en dat ek U nie genoeg, daarvoor dank nie. Mag die werklikheid van U kruis, U soenoffer, vir altyd ’n indruk op my maak en my hart met dankbaarheid vul sodat ek met ‘n “Christushart kan leef!” Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page