top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE PLAN OM ROME TE BESOEK (4) – GELAAI MET GOD SE SEËN!


Rom. 15:28-29 – “As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis. Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.”


Paulus meld weer van sy voorgenome reis via Rome na Spanje. Of hy wel sendingwerk in Spanje gedoen het, weet ons nie, maar wat ons wel weet is dat hy sy arbeid onder die heidene, wat ook insameling van geld behels het, na Jerusalem geneem het sodat dit verdeel kon word onder die arm Christene daar. “Met die volle seën van Christus” oorlaai, sal hy daarná, dan eers as apostel van Christus, in die midde van die Romeinse Christene kan wees. Dán eers sal hy sy begeerte bewaarheid wat hy reeds heel aan die begin van sy brief aan hulle, gemeld het: “Ek sien baie daarna uit om julle te besoek, want ek wil ‘n geestelike gawe aan julle oordra om julle te versterk. Ek staan onder ‘n verpligting … en vandaar my begeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig” (Rom. 1:11 en 15).


Paulus maak hom hier nie skuldig aan selfoorskatting wanneer hy meld dat hy “’n geestelike gawe aan hulle wil oordra om hulle te versterk nie.” Dit is nie sy persoonlike teenwoordigheid wat so gelaai met seën sal wees nie, maar die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat die volheid van die evangelie van Christus, waarvan hy maar net ‘n draer is, sal stel. Deel van sy sending was uit die aard van die saak, om die evangelie te verkondig en dit het hy onbeskaamd gedoen: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16a).


God het ons ‘n lewensboodskap gegee om te deel – Christelike getuienis vorm ‘n integrale deel van elke Christen se pelgrimstog. Die vrymoedigheid om hierdie getuienis uit te dra, kry ons van die Heilige Gees self, en Jesus wil hê ons moet ons getuienis met ander deel. Hy het gesê: “Julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8), en daarom moet ons in Christus se plek praat. Ons dade moet Sy goedkeuring wegdra. Alles wat ons doen moet strek tot eer en verheerliking van Hom.


Elkeen van ons het ‘n storie wat ons graag wil deel. Ouers is trots daarop om die prestasies van hulle kinders met ander te deel; verliefde paartjies getuig graag van hulle liefde vir mekaar; mense huiwer nie om sterk standpunt in te neem vir ‘n saak wat hulle ondersteun nie, of dit met sport, politiek, of wat ook al te make het. Dit is natuurlik nie verkeerd nie, maar waarom is ons skaam om te erken dat ons in Jesus Christus glo, skaam om die wonders wat ons Almagtige God in ons lewens al gedoen het, te verkondig? “Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie …” (2 Tim. 1:8). So baie dinge waaraan ons so baie energie bestee, sal selfs oor ‘n jaar van nou af niks meer beteken nie, wat nog te sê in die ewigheid, terwyl getuienis oor God ewigheidswaarde het!


Getuienis is om jou geestelike rykdom met ander mense te deel. Dit is om spontaan jou vreugde en dankbaarheid in die erediens met lofsange, gebede en offergawes met ander te deel. Dit is beslis nie om die kerkbank warm te sit en net na die preek te luister nie. Daar word vertel van ‘n buitelander wat op ‘n plattelandse plasie vir die eerste keer hom verwonder het aan ‘n touleier wat ‘n span osse voor ‘n ploeg, volgens sy beskrywing, die osse én die ploeg sleep! Is dit nie dalk die beeld wat sommige gemeentes vertoon nie? Die dominee wat alles moet doen en die gemeente as’t ware saamsleep!


Dalk wag jy dat God jou spesiaal moet roep vir diens. God het dit reeds gedoen. Ons word almal opgeroep om God se doelwitte vir ons lewens te vervul: Om te bid; verhoudings te bou; soos Christus te word; te dien; en om God se getuie te wees. Hy wil nie net sommige mense gebruik nie, maar álle mense. Christus het elkeen van ons nodig om elke dag Sy liefde te weerspieël en om só te lewe dat die wêreld Sy voorbeeld in ons kan sien en daarom ook sal begeer om Sy volgelinge te word. Laat die Heilige Gees jou lewe in besit neem en jou inspireer tot diens aan die hoogste Gesag in die heelal: God self!


“Gee jou lewe aan God oor: Hy kan daarmee meer doen as wat jy ooit in staat is om te doen”

(Dwight Moody).


Gebed: Gebruik my Here, net soos U wil, waar en wanneer dit U behaag. Heilige Gees, in U krag sal ek getrou wees en probeer om vir ander die pad na Jesus aan te dui. Ek wil graag deel van hierdie werk wees, dankie dat U deur ‘n gewone mens soos ek werk. Maak my oplettend vir U o Heilige Gees, help my om U opdragte vir my, raak te sien. Werk deur my om U volmaakte wil uit te voer. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page