top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE PLAN OM ROME TE BESOEK (3) – OMGEE MET ’N CHRISTUSHART!


Rom. 15:25-26 – “Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar. Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem.”


Vergelyk ook 1 Kor. 16:1-2 – “Wat die kollekte vir die gelowiges in Jerusalem betref, moet julle ook maak soos ek dit in die gemeentes van Galasië gereël het. 2Elke Sondag moet elkeen van julle na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar, sodat die geldinsameling nie eers plaasvind as ek kom nie.”


In die Jerusalemgemeente was armoede ‘n groot probleem. In 48 n.C. het ‘n groot hongersnood uitgebreek wat volgens ‘n nie-Bybelse Joodse geskiedkundige uit daardie tyd, Flavius Josephus, veroorsaak het dat baie mense omgekom het van honger. Paulus het ‘n groot insamelingsveldtog vir die arm Christene in Jerusalem van stapel gestuur en gemeentes betrek in Korinte, Fillippi, Tessalonika en Galasië. Ons kan waarneem uit sy verskillende briewe, dat Paulus baie tyd en energie aan hierdie projek bestee het en wat gevolglik, uiteindelik fenominale afmetings aangeneem het.


Dit was vir Paulus belangrik dat gelowiges vir mekaar omgee en mekaar bystaan. “Elkeen moes na sy vermoë tuis iets opsy sit en dit opspaar” sodat hy dit later kon versamel of afgevaardigdes stuur om dit te gaan haal. Dit was nie altyd maklik om “iets opsy te sit” nie, want Christene het nie altyd dieselfde voordele as die landsburgers geniet nie. Hulle het nie maklik werk gekry nie en is in sommige gevalle uitgestoot uit die samelewing. Met Paulus self het dit soms moeilik gegaan. Daar was tye in sy lewe dat dit met hom so swaar gegaan het dat dit vir hom gevoel het asof die doodsvonnis oor hom uitgeroep is (2 Kor. 1:9), maar Paulus het in baie moeilike omstandighede volhard, aangehou waar ander lankal handdoek sou ingooi, want God was elke keer dáár om hom te bemoedig en te troos (2 Kor. 1:3).


Ons leef in ‘n tyd waar baie mense hulle werk verloor, baie wat sukkel om werk te kry en baie wat eenvoudig net nie kán werk nie as gevolg van verskeie redes. Armoede en swaarkry is daagliks rondom ons en alles lyk donker en mismoedig. Om te kan ondersteun, “iets opsy sit”, beteken dat ek oor die nodige middele beskik om te kan help. As ek self niks het nie of miskien net genoeg het om myself en my gesin regop te hou, hoe kan ek ánder help om regop te bly?


Bybelse barmhartigheid bestaan nie uit ‘n gevoel of ‘n houding nie, dit is gedagtes wat in medelydende aksies verander. Dit help niks om net te vertel hoe jy omgee en hoe barmhartigheid toegepas moet word, en dit verander nie in fisiese aksie nie. Charles Spurgeon het gesê: “Barmhartigheid beteken nie net om mediese hulp, kos en skuiling te gee aan mense wat dit nie het nie, gee aan hulle ook die woorde van die Waarheid. Mense het die evangelie meer nodig as enigiets anders.” Om sonder Jesus die ewigheid in te gaan is om met lyding, pyn, angs, en sonder hoop, vir ewig te sterf!


Hierdie dorsland waarin baie mense verkeer is een van desperaatheid, tragies, bejammerenswaardig en baie gevaarlik. Daar is nie ‘n tweede kans nie. Omdraai is dalk te laat terwyl hulle siele in gevaar verkeer. Geen kospakkie, kledingstuk of bakkie sop kan uitgedeel word sonder die Woord van God wat lewend is nie. Die grootste kenmerk van barmhartigheid word eenkant toe gestoot want ons is te besig met die dinge van die Here, in plaas van om besig te wees met die Here van die dinge. Barmhartigheid is omgee met jou hele hart, om ‘n verskil te maak, om betrokke te raak en nie net betrokkenheid te praat nie.


Elke hartseer het ‘n rede en wanneer die kern van die rede verstaan word, word dit makliker om barmhartig te kan wees. Dit geld vir elke mens wat God oor ons pad stuur en nie net diégene op ons voorkeurlysie nie. Om barmhartigheid te bewys beteken niks as die tydelike verligting van basiese behoeftes nie gepaard gaan met dit wat ewigheidswaarde het nie. Die evangelie kan nie ‘n gerieflike tweede plek inneem nie. Jesus ís die evangelie! Hy is Ewigheidsbestaan!


“Hy wat sy ore en sy hart vir die armes sluit, sal self uitroep en nie gehoor word nie”

(Alexander Pope).


Gebed: Here, maak my sensitief om saam met ander te ly. Laat U liefde my meer liefdevol optree. Laat U oorvloed my inspireer om vir ander om te gee. Here Jesus, U het alles, selfs U lewe, met my kom deel. Laat U heilige voorbeeld my besiel om elke dag mededeelsaam te wees, tot U eer en verheerliking. Skenk ons die genade dat nie net die maag gevul word met barmhartigheidsdiens nie, maar die siel gevul word met U magtige en bruisende lewe. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page