top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE PLAN OM ROME TE BESOEK (2) – GOD SE BOEKHOUSISTEEM!


Rom. 15:25-27 – “Maar nou is ek eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar. Die gemeentes in Masedonië en Agaje het dit naamlik goedgedink om iets by te dra vir die armes onder die gelowiges in Jerusalem. Hulle het self so besluit, en hulle is dit buitendien ook verskuldig, want as die gelowiges uit die Jode hulle geestelike rykdom met die heidennasies gedeel het, is die gelowiges uit die heidene dit aan die gelowiges uit die Jode verskuldig om hulle met stoflike hulp by te staan.”


Vergelyk ook Gal. 2:10 – “Al wat hulle gevra het (Johannes, Petrus en Jakobus), is dat ons (Paulus en Barnabas) nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.”


Paulus is op pad Rome toe maar intussen het hy eers ‘n ander saak om af te handel – hy “is eers op pad Jerusalem toe met geldelike hulp vir die gelowiges daar.” Paulus se insameling van gawes, vir die armes in Jerusalem, is ’n uitvloeisel van ’n versoek (en moontlik ’n belofte) wat terug dateer tot sy besoek aan Jerusalem waartydens hy vir die diens onder die heidene afgesonder is (Gal. 2:9-10). Die spesifieke redes vir die armoede tussen Christene in Jerusalem is nie nou ter sprake nie, wat wel saak maak is die Christelike verbondenheid, die omgee vir mekaar.


Die bydraes aan die armes in Jerusalem is ’n vrywillige gebaar van die kant van die Christene uit die heidene, maar dit is vir hulle ook ’n ereskuld, aangesien hulle so ’n ontsaglike skat aan geestelike rykdom vanuit Jerusalem deelagtig geword het. Die diens wat die Christene uit die heidene daarmee aan die versorging van die armes in Jerusalem lewer, is ’n priesterlike diens aan medegelowiges wat op die instelling van God berus.


Die Kerk is nie ‘n gebou nie. Dit is ook nie ‘n spesifieke plek nie. Die Kerk is waar God se kinders in die wêreld leef. Ons het dit reeds gesê dat die kerk ek en jy is, en of ons Sondag in die kerkgebou byeen is en of ons by ons eie huise is, die Kerk van God is by ons. By ons werk en by ons huis is ons elkeen die verteenwoordiger van God se huishouding in die wêreld. Dit beteken dat Christus óók in die ‘geldhoekie’ van ons lewe koning sal wees, maar dit is een van die plekke wat ons die swaarste aan Hom oorgee, wanneer geleefde Christenskap só konkreet moet word soos die muntstukke in die kollektesak.


Die Bybel is baie spesifiek in sy opdrag dat ons God se voorbeeld moet navolg deur bekommerd te wees oor die armes. Toe Paulus offergawes ingesamel het vir die armes in Jerusalem, het hy die Korintiërs gewys op die feit dat Jesus arm geword het sodat hulle ryk kon word: “Hy het ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (2 Kor. 8:9). Hoe word ‘n mens ryk deur iemand anders se armoede? Christus het uit liefde die hemelse rykdom en heerlikheid verlaat om deel te word van ons wêreld van armoede, Hy het sy koningsklere in die hemel agtergelaat en die vodde van ‘n slaaf aangeneem. As refleksie van die liefdeswerk van Jesus, moet ons Sy verstommende selfopoffering navolg in ons verhouding met armes.


Kan ‘n mens ooit genoeg gee? Wanneer is my geldelike bydrae genoeg? Wanneer predikante oor finansiële verantwoordelikhede of gee van tiendes preek, raak sommige lidmate ongemaklik en kritiseer die boodskap én die boodskapper. Jesus het nogal baie oor geld gepraat! Volgens Howard Dayton handel sestien van die agt en dertig gelykenisse oor geld en besittings. In die vier Evangelies handel een uit elke tien verse uitdruklik oor geld. In die Bybel is daar 500 verse oor gebed, minder as 500 verse oor geloof, maar meer as 2 000 verse wat handel oor geld en besittings. Dit verg nie baie geld om tussen jou en God te kom nie, plaas net twee muntstukke oor jou oë en dit wat God geskep het, én Sy beeld, word belemmer.


Paulus wou nie geld, onder andere, uit die Korintiërs wurg of hulle verplig om ‘n geldelike bydrae te lewer nie, hy wou dat hulle die geestelike beginsel wat op die spel is, besef en dat Christenskap offers vra. Dit moes hulle in Jesus se offer gesien het en daarom het hy nugter hieroor gepraat: “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie” (2 Kor. 8:12). Christus het Sy lewe vir ons gegee. Is dit dan te veel gevra om iets van onsself vir mekaar te gee? Werk op God se boekhousisteem: Stel Hom voorop, Hy sal vir die res sorg!


“Geld kan jou ‘n kruis koop, maar nie ‘n Verlosser nie; ‘n aardse tempel maar nie die hemel nie”

(A.W Tozer).


Gebed: Voorsiener God, maak my onwillig om my beursie vas te knyp wanneer dit by die evangelie kom. Maak my getrou in my rentmeesterskap vir dit wat U uit genade aan my skenk. Skenk my ‘n medelydende hart soos U self het, sodat ek met blymoedigheid my plig teenoor armes sal nakom. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page