top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE SENDINGOPDRAG (3) – ONS IS DEEL VAN GOD SE WERKSPAN!


Rom. 15:18-21 – “Ek sal dit nie waag om oor iets anders te praat as oor wat Christus deur my tot stand gebring het om heidennasies aan God gehoorsaam te maak nie. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God. En so kon ek van Jerusalem af al verder tot in Illirikum my taak om die evangelie van Christus te verkondig, ten volle uitvoer. Ek het my eer daarin gestel om die evangelie te verkondig waar die mense nog nie van Christus gehoor het nie, want ek wil nie op die fondament van iemand anders bou nie, maar soos daar geskrywe staan: ‘Dié wat nie van Hom vertel is nie, sal sien, en dié wat nie van Hom gehoor het nie, sal verstaan.’”


Paulus kon goeie rekenskap gee van wat hy deur God se genade gedoen en bereik het. Heel beskeie meld hy dan ook die geweldige gebied wat hy as apostel oor ongeveer agt jaar gedek het, om sodoende die heidene tot geloofsgehoorsaamheid te bring. Sy sendingbeleid en fundamentele arbeid van die evangelieverkondiging was op bepaalde plekke waar niemand nog van Christus gehoor het nie, want hy wou nie op “die fondament van iemand anders bou nie”, maar “waar baie nasies gaan opspring van verbasing, konings wat sprakeloos sal wees oor Christus, want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, iets te wete kom wat hulle nog nooit gehoor het nie” (Jes. 52:15).


Paulus was ‘n man met wie God ‘n pad gestap het. Van Jerusalem af tot in Rome was hy spreekwoordelik aan God se sy. Hy was gekies as God se werktuig om sy Naam uit te dra onder die heidennasies en onder Israel (Hand. 9:15). Hy moes vir elke mens wat hy teëgekom het, die goeie nuus meedeel dat Jesus van die kruis, ‘n nuwe lewe moontlik maak! As God se segsman was sy lewe nie aldag van die maklikste nie. Sy lewe was maar ‘n skouspel vir die meeste mense. Terwyl die meeste mense voor in die ry van die lewe gestaan het, moes hy maar heelagter inval (1 Kor. 4:9). Boonop was sy sendingpad baie steil. Sy ‘dagboek’ was vol inskrywings van al die lyding wat hy moes deurmaak, maar hy het vasgehou aan God se belofte dat Hy by hom is, hy moenie stilbly nie en aanhou preek (Hand. 18:9).


Hoe lyk ons dagboek in God se oë? Is daar darem iewers ‘n plekkie of inskrywing van Hom of bevat die besigheidsafsprake die meeste plek? Jesus se groot opdrag sê: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …” (Matt. 28:19-20). Dit is Jesus se opdrag, nie ‘n voorstel nie. As dissipels van Jesus is ons deel van God se familie en is dit verpligtend vir elkeen, nie net die sendeling, predikant of pastoor nie. God gaan ons verantwoordelik hou vir die dood van ongelowiges: “Wanneer Ek vir ‘n goddelose sê hy gaan deur sy sonde sterwe, en jy waarsku hom nie, sal Ek van jou rekenskap eis vir sy dood” (Eseg. 3:18).


Jesus vra ons nie net om na Hom toe te kom nie, maar ook om vir Hom te gaan. Almal het Jesus nodig en ons besit die grootste nuus ter wêreld, daarom is dit ‘n ongelooflike eer om God te verteenwoordig en hierdie nuus met ander te deel: “Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou” (2 Kor. 5:18).


As deel van God se werkspan, moet ons nooit vergeet hoe hopeloos alles sonder Christus is nie. Daar is mense op aarde wat net óns kan bereik want ons woon waar ons woon en God het ons daar geplaas. Dit is só maklik om Christus se Groot Opdrag te ignoreer want satan wil eerder hê ons moet enigiets anders doen as om ons geloof in Christus te deel. Satan sal ons allerlei goeie en lekker dinge laat doen, solank ons niemand saam met ons hemel toe neem nie. As deel van God se werkspan is die byvoordele nie so goed nie. Daar is ook nie ‘n dertiende tjek nie, maar die aftreepakket is uit ‘n ander wêreld. God wil al die mense red wat Hy gemaak het, daarvan getuig die kruis. As jy dus wil hê God moet jou gebruik, moet jy omgee vir die dinge waarvoor God omgee.


“Niemand gee homself vrylik en gewillig in God se diens nie, tensy hy die Vader se liefde gesmaak het en hy nie anders kan nie as om God te dien” (Johannes Calvyn).


Gebed: Here, wie het U in my lewe geplaas sodat ek hom of haar van U kan vertel? Gee dat enigiets wat ek vir U onderneem, ‘n bron van groot blydskap sal wees want om U te dien is nie net my plig nie, maar ook my voorreg. Ek plaas my vertroue in U en gee my oor aan die leiding van die Gees sodat ek U kragtige getuie kan wees. Gees van God, lei my na die plekke toe waar God aan die werk is, ek wil aanmeld vir diens. Ek loof U Naam vir hierdie besondere voorreg. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page