top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


PAULUS SE SENDINGOPDRAG (1) – DIE VERTROOSTENDE WERKLIKHEID VAN DIE GEES VAN WAARHEID!


Rom. 15:14-15a; 18b-19 – “My broers en susters, ek is self maar alte bewus dat julle vol goeie hoedanighede is en omvattende kennis besit, en dat julle mekaar self op die regte weg kan help. Tog is ek in my brief plek-plek nogal uitgesproke. Dit was maar om julle aan die een en ander te herinner. Dit het Hy deur my gedoen met woord en daad, deur kragtige tekens en wonders, in die krag van die Gees van God.”


Vergelyk ook Joh. 14:15-17 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.”


Paulus is besig om sy slotvertoë te rig aan die Romeinse Christen-gemeente. Dit was mense wat hy glad nie goed geken het nie en hy doen dit met ‘n Christelike hoflikheid. As bedagsame en eerbare evangeliedienaar aanvaar hy dat sy lesers mondige Christene is wat self hulle geskille behoort te kan oplos.


Paulus wil nie hê dat die gemeente in Rome moet dink dat hy aan hulle geskryf het omdat hy beterweterig is of onder die indruk was dat die stand van hulle geestelike lewe en die vlak van hulle insig in die evangelie laag is nie. Daarom gee hy aan hulle die versekering dat hy bewus is van hulle goeie hoedanighede en omvattende kennis. Terselfdertyd is hy baie versigtig en gaan hy taktvol te werk om sy lesers nie in die gesig te vat nie.


Vir Paulus gaan dit nie oor sy eie belange nie, maar oor Hom deur wie hy gestuur is, oor dié van die koninkryk van God. Daarom is Hy ook daarvan oortuig dat die Heilige Gees self die gemeente in die volle waarheid “deur kragtige tekens en wonders” sal bystaan. Dieselfde Here en sy Gees wat Paulus bygestaan het “met woord en daad,” sal hulle “in die krag van die Gees van God”, verder lei. Paulus kon dit bevestig en hom beroep op die belofte wat Jesus gemaak het kort voor Sy inhegtenisname en kruisiging.


Daardie aand het Jesus sy Gees nader bekend gestel as “die Gees van die waarheid”. Hy word gekenmerk deur die waarheid en Hy dien die waarheid; alles wat Hy getuig en doen, is die waarheid. Die Gees is dus die Waaragtige in wie daar geen valsheid is nie, en Hy is die Verkondiger van die waarheid van die blye evangelie soos in Christus geopenbaar is. Jesus het verklaar: “Ek is die waarheid” (Joh. 14:6) en daarom is “die Gees van die waarheid” dus ook die Gees van Christus, en in Christus se plek word Hy deur die Vader gestuur om by ons te woon: “Hy (Jesus) is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort” (Hand. 2:33).


Deur die geloof ken ons reeds die Gees wat by ons bly, maar nog ‘n belofte word bygevoeg: die Gees “sal in julle wees” (Joh. 14:17c). Die Gees sal Sy woning maak in die kerk van Christus en is daarom ook in die hart van elke gelowige. Die Gees is self ook God en daarom ewig, en nadat Hy deur die Vader gestuur is, bly Hy vir altyd by die gemeente van Christus, by ons.


Ons as gelowiges in Christus, besit dus iets wat die ongelowige wêreld nie het nie en ook nie ken nie. Die wêreld verstaan nie hierdie spesiale liefde van God vir ons as Sy kinders nie – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). God bied Sy liefde in genade aan vir elke mens, deur middel van die “Gees van die waarheid”. Maar dit is ongelukkig nie almal wat die Gees in geloof wil aanneem of aanvaar nie. Hulle verkies eerder om God en die “Gees van die waarheid” buite rekening te laat wanneer hulle hul lewe organiseer. Het jy al ondervind dat die “Gees van die waarheid” ‘n lewende en vertroostende werklikheid in jou lewe geword het?


“Die Christendom ken geen waarheid wat nie uit die Heilige Gees gebore word nie”

(Phillip Brooks).


Gebed: Gees van waarheid, dankie dat U die wil van God aan my bekend maak. Dankie dat U my help om die lewe beter te hanteer sodat ek ‘n oorwinnaar sal wees in die stryd om die waarheid. Dankie dat ek volle vertroue in U kan plaas en saam met Paulus met volle oortuiging kan sê: “Ek weet op wie ek kan vertrou” (2 Tim. 1:12). Ek bid dat U al meer ‘n werklikheid sal word sodat die sekerheid van U teenwoordigheid, in almal wat nog onseker is, kan ontwikkel en groei. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page