top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE IS VIR ALLE MENSE (2) – AANBIDDING OM GOD TE BEHAAG!


Rom. 15:9-12 – “Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: ‘Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.’ En elders lui dit: ‘Verbly julle, ander nasies, saam met sy volk.' En: ‘Prys die Here, alle nasies! Loof Hom, alle volke!’ En Jesaja sê ook: ‘Isai sal ‘n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.’ ”


Vergelyk ook Ef. 1:5-6 – “In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Daarom moet ons God prys vir sy groot genade wat Hy in sy geliefde Seun vrylik aan ons geskenk het.”


Paulus gebruik hier vier aanhalings uit die Ou Testament om aan te dui hoe die ander nasies saam met Israel, God se lof besing. Ons kan daarom uit dankbaarheid, ook verenig om soos een massakoor, God prys en tot Sy eer lewe! Die doel van ons bestaan, is immers om God se lof te verkondig. Al verskil ons van mekaar soos dag van nag, is ons gelowiges een liggaam: die liggaam van Christus. God het ons geskep en deur Christus herskep sodat ons vir Hom kan lief wees; kan dankbaar wees dat Hy uit genade, vir ons geloof geskenk het; kan dankbaar wees dat Hy deur sy Gees permanent teenwoordig is by ons; kan dankbaar wees dat God is wie Hy is: die groot “Ek is” en dat Hy ons Vader is, dié Vader wat ons eerste liefgehad het (Joh. 3:16).


Is dit nie wonderlik nie? God het nie nodig gehad om ons te skep nie, maar Hy het! Hy het elke mens geskep om Hom te eer en toe ons in sonde verval het, het Hy Jesus gestuur “sodat ons God oor sy ontferming kan verheerlik.” Die kruis verteenwoordig die doodgaan van al my eie planne, al my eie idees, my eie begeertes, my eie hoop en drome. Die belangrikste van alles, die absolute doodgaan van my eie wil. Ek leef nou om God te behaag. Die wonderlike daarvan is dat ons nooit weer onbenullig hoef te voel nie want ons is waardevol, waardevol genoeg dat God ons vir ewig by Hom wil hou, nou in die hede en selfs wanneer ons sterwe.


God het ons as waardevolle “kinders van Hom”, die gawe en vermoë gegee om dinge te geniet. Om die lewe te geniet en nie net te verduur nie, het Hy ons met vyf sintuie geskep en boonop met emosies gevul sodat ons dinge kan ervaar! Deel van hierdie ervaring is om saam met die Psalmis God te “loof voor die nasies, en tot eer van sy Naam lofpsalms te sing.” Om God uit dankbaarheid te behaag, word aanbidding ‘n lewenswyse. Ons word anders en ontwikkel ‘n ander gesteldheid. Jesus is dan die Koning van ons lewe en God die Gesagsdraer, daarom wil ons dan Jesus se Koninkryk laat kom, en God se gesag laat geld.


Hoe doen ons dit? Ons aanbidding begin by die kerkdiens: gebed, Skriflesing, sang, bieg, luister na die preek, aantekeninge maak, offergawes, doop, nagmaal en selfs ander aanbidders te groet, álles, om God te behaag. Maar aanbidding is nie net vir kerkdienste nie: “Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig Sy teenwoordigheid” (Ps. 105:4). Die geheim van ‘n aanbidding-lewenswyse is om alles te doen asof jy dit vir Jesus doen en dit is moontlik wanneer “jy jouself aan God as lewende en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is, gegee het. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat ons moet beoefen” (Rom. 12:1).


Ons gesindheid is een van: “Doen alles tot eer van God.” Streef daarna om volwasse in die geloof te word. Indien dit nie gebeur nie, word ons siek, en wanneer ons siek word gaan ons dokter toe want siekte het met dood te make en dit is ernstige sake. Maar wanneer ons geestelik siek geword het, sê ons gewoonlik vir onsself dat dit nie so ernstig is nie – ek sal nie sommer doodgaan nie. Dit, terwyl dit in die geloof éintlik oor die lewe gaan, oor die wáre lewe! “Sorg dus daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).


God se voorskrif vir ‘n gesonde geestelike lewe is ‘n gesonde verhouding met Hom. Bid, lees en bestudeer sy Woord, en gaan kerk toe. Die eerste inskrywing op God se voorskrif is: “Verdiep jou in sy Woord en sy wet (Jak. 1:25). Wanneer jy God se Handleiding, die Bybel, raadpleeg, reik Hy ‘n voorskrif uit wat medisyne bevat en indien dit gereeld geneem word, lei dit tot ‘n volwasse geestelike lewe, ‘n lewe vol van die genade en kennis van God.


Die tweede inskrywing op die voorskrif is: “Volhard ook in die gebed” (Rom 12:12). Bid net, liewer onbeholpe as glad nie. God is nie bekommerd hoe jy bid en watter woorde jy gebruik nie. Hy is meer bekommerd oor die feit dát jy sal bid. Elke keer wanneer ons bid, is daar twee persone van die Drie-eenheid wat vir ons intree by die Vader wat uit liefde reeds graag wil hoor en verhoor – Jesus aan die regterhand van God en die Gees wat in ons hart woon, wat by die Vader vir ons pleit: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie” (Rom. 8:26). Smeek God by elke geleentheid deur die Gees, is die aansporing van Ef. 6:18. Soos ons deur die Gees moet wandel, moet ons ook deur die Gees gelei word wanneer ons bid. Hoe meer ons onder die heerskappy van die Gees lewe, hoe meer sal ons volgens die wil van God bid (Rom. 8:26-27). Die Gees neem ons versugtinge, ons stotterende en stamelende woorde, en vorm dit tot hemeltaal.


Die laaste inskrywing op die voorskrif lees: “Moenie van die samekomste van die gemeente wegbly soos party se gewoonte is nie, maar moedig mekaar eerder aan om daarheen te gaan” (Heb. 10:25). Iewers wil jy voel jy behoort. Jy het mense by jou nodig waar julle saam “God kan loof voor die nasies, en tot eer van Sy Naam lofpsalms sing.” Aanbidding is nie net ‘n deel van ons lewe nie, dit ís ons lewe! “Van waar die son opkom tot waar dit ondergaan, moet die Naam van die Here, geprys word!” (Ps. 113:3). Wanneer ons in die lig van die ewigheid leef, verander die klem van “hoeveel plesier ek uit die lewe put” na “hoeveel plesier God put uit my lewe”.


“Christus aanvaar ons soos ons is … dit beteken egter nie ons moet bly soos ons is nie. Ons aanvaarding is maar die eerste tree op ‘n lang pad van geestelike groei” (Walter Trobisch).


Gebed: Here, U het my ‘n deel van U kerk op aarde gemaak. U weet dat ek regtig nie geskik is vir dié doel nie, maar steeds my wil gebruik, ten spyte van … As dit nie vir U leiding was nie, sou ek al lankal ‘n groot gemors gemaak het van alles wat ek aanpak. Here ek stel myself in diens van U, elke deel van my liggaam as werktuig om te doen wat U wil (Rom. 6:13). Gebruik my as ‘n werker, Here. Moet my nooit verlaat nie want sonder U is ek niks en kan ek niks doen nie. Amen. (Gebed van Martin Luther; effens aangepas.)

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page