top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE IS VIR ALLE MENSE (1) – CHRISTUS ONS VOORBEELD!


Rom. 15:7-9 – “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. Ek bedoel dit: Christus het gekom om in belang van die Jode ‘n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak. Hy het ook gekom sodat die ander nasies God oor sy ontferming sou verheerlik, soos daar geskrywe staan: ‘Daarom sal ek U loof voor die nasies, en tot eer van u Naam sal ek ‘n lofpsalm sing.’ ”


Vanaf Romeine 12 het Paulus vir ons riglyne gegee hoe ons Christenskap moet lééf. Hy rond nou hierdie gesprek af en voltooi die sirkel wanneer hy álmal van die gemeente in Rome met ‘n dringende appèl oproep om “mekaar te aanvaar soos Christus hulle aanvaar het.” Hierdie appèl geld natuurlik vir ons ook, en as Paulus praat van mekaar aanvaar, is dit meer as net om verdraagsaam te wees teenoor ander. Dit is maklik om iemand te verdra van wie ek hou of iemand met aangename eienskappe. Selfs al verskil hulle van my, sal ek steeds verdraagsaam wees mits hulle natuurlik nie op my tone trap nie. Dit is egter moeiliker om ander te aanvaar wat my seermaak, te aanvaar “soos Christus my aanvaar het,” te aanvaar met ‘n Christuskwaliteit … “tot eer van God.”


Jesus het Jood en heiden, die “ander nasies”, aanvaar ten spyte van wie en wat hulle was en wat hulle gedoen het. Christus het albei groepe aangeneem en hulle tot ‘n eenheid gebring in die gemeente, sodat hulle soos “uit een mond”, God kan verheerlik, “loof en lofpsalms sing.” Net so het Jesus ons aanvaar en Sy hoof motief was om te aanvaar sonder enige voorwaardes – “tot eer van God” – Soli Deo Gloria! Wanneer ons na Jesus se lewe, dood en opstanding kyk, kan ons nie anders as om te sien dat die liefde van God deur Hom weerkaats is, ‘n liefde wat die ergste vorm van vyandskap en boosheid oorwin het.


Om aanvaar te word of aanvaarbaar te wees vir ander mense is waarskynlik een van die hoofredes agter alles wat jy doen. Aanvaarding is die gevoel dat jy iewers hoort, dat jy iewers inpas, dat daar mense is wat vir jou omgee en lief is vir jou net soos wat jy is. Kinders soek die aanvaarding van hulle ouers, kollegas en vriende van mekaar. Vroue soek die aanvaarding van hulle mans en mans van hulle vroue. Gelowiges wil aanvaar word deur God en daarvoor het Jesus kom mens word, sodat ons vir God aanvaarbaar kan wees, Hy het ons aanvaarbaar kom maak toe Hy vir ons sonde, aan die kruis vasgespyker is.


Wat druk die Here op ons hart wanneer Hy deur Paulus vir ons sê: “Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God?” Paulus gee ons ‘n mooi antwoord in Efesiërs 4:1-6: “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en lewe saam in liefde.” Met ander woorde, dra die vrug van die Gees. Dit is moontlik, die lidmate van die heel eerste gemeente kon dit doen: “Hulle het hulle toegelê op die besig wees met die Woord van God; hulle het hulleself in liefde onderling aan mekaar verbind; gereeld saam gebid; gereeld saam die brood gebreek” (Hand. 2:42).


Hulle kon dit doen want hulle was nou in Christus, broers en susters van mekaar, hulle het mekaar só aanvaar. Daarom het hulle mekaar vasgehou, regop gehou, mekaar gedra, mekaar versorg, vir mekaar werklik omgegee. Anders gesê: hulle het al die gawes en wysheid wat hulle van God in oorvloed ontvang het, aan mekaar uitgedeel. Hulle het liefde van God ontvang, en dit daarom ook aan mekaar uitgedeel; hulle het genade ontvang, en dit uitgedeel; hulle het versorging van God ontvang, en dit aan mekaar uitgedeel; hulle het omgee van God ontvang, en dit ook uitgedeel. In Christus het hulle nuwe mense geword, God se mense. En so het die koninkryk van God sigbaar begin word want dit is gedoen “tot eer van God.”


“Liefde is om mense lief te hê soos hulle is, om hulle swakhede en foute te aanvaar met ‘n hart wat daarvoor ruimte maak” (Charlotte van Schiller).


Gebed: Here, laat ons mekaar aanvaar as broers en susters, mekaar regop hou wanneer die lewenstorms ons oorval, mekaar vertroos wanneer nodig, vir mekaar daar wees soos U van ons verwag. Dankie dat ons U grootheid só kan prys, U Naam in eer kan aanroep want aan U kom al die lof toe. Amen.



Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page