top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


MOENIE JOU BROER VEROORDEEL NIE (5) – EERBIED VIR GOD!


Rom. 14:10-12 – “Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: ‘So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.’ Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.”


Vergelyk ook Amos 4:11b en 12b – “Julle het soos ‘n stuk hout geword wat uit die vuur uit geruk is, en tog het julle julle nie tot My bekeer nie … maak jou klaar om voor jou God te kom verskyn!”


Paulus sluit nou sy eerste gesprek oor hulle gespanne verhoudings, met die destydse Romeinse Christene af. Dit spreek vanself dat ons gelowiges van vandag, óók aan Christus verantwoording verskuldig is vir ons doen en late. Omdat ons almal voor God se regterstoel sal moet verskyn, pas dit nie die “wat nog swak in die geloof is” “om sy broer te veroordeel nie” en net so pas dit die “sterker” gelowige nie “om sy broer te verag nie.” Ons almal sal die volstrekte heerskappy en seggenskap van die Here moet erken. Die oordeel sal dan ook oor die vraag gaan of die eer van God werklik in alles gesoek is, en daarom moet elkeen nederig selfondersoek doen en seker maak dat ons met ‘n vrye gewete, “aan God rekenskap kan gee.”


Daar is baie dinge wat ons kan ontwyk, ontduik of vermy, maar die ontmoeting met God wag vir elke mens, gelowige en ongelowige. Hierdie ontmoeting is onvermydelik, ons kan dit nie omseil of uitskakel nie, ons sal dit beslis nie misloop nie! Dit gaan die oomblik van alleenheid en oomblik van waarheid wees, niemand sal agter iemand anders kan skuil nie, “elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.” Amos sê “ons moet ons klaarmaak om voor God te verskyn,” dit is dus van uiterste belang dat ons onsself voorberei vir hierdie ontmoeting. Deel van hierdie voorbereiding is om ‘n omkeer te maak, óm te draai soos die verlore seun en tot God bekeer want “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2:4).


Karl Barth, een van die grootste teoloë van die twintigste eeu, vertel dat hy ‘n reeks dienste van ‘n sekere prediker bygewoon het en aand na aand het hierdie prediker dramaties oor die hel gepreek. Tot in die fynste besonderhede het hy die verskrikkinge van die hel beskryf – geweldige gekners van tande en geween van mense wat in die martelkamers deur die duiwels gemartel word; swaeldampe wat uit die poele van vuur geruik kan word; mense wat onophoudelik skree van pyn en om hulp roep – sy strategie was eenvoudig: Vul die luisteraars met soveel vrees vir die hel dat hulle daarvan af wil wegvlug, Draai of Braai!


Iemand het na ‘n week vir Barth gevra wat hy van die prediking dink en sy antwoord was: “Nee, God werk nie so nie! Jesus se intreepreek op aarde: ‘Die koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle en glo in die evangelie’ (Matt. 4:17 en Mark. 1:15), is deur hierdie man omgekeer. Hy het dit verander na ‘Bekeer julle want die koninkryk van die hel het naby gekom’ en dit is nie die evangelie van Jesus Christus nie. Die evangelie van Jesus Christus roep ons nie op om God en Sy oordeel te vrees nie, dit spoor ons aan om ‘Hom as Vader aan te roep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade sal oordeel en dat ons dan in eerbied vir Hom sal leef’ (1 Pet. 1:17).”


Hierdie “eerbied vir God” impliseer dat ons as kinders van God, nie vrees vir die hel behoort te hê nie en die moontlikheid dat Godsvrees hieruit voortvloei, eerder stem tot besinning kom, en Godsvrees, na eerbied vir God verander. God is nie ‘n bangmaakgod nie, Hy wil nie hê ons moet Hom dien omdat ons Hom vrees nie, maar omdat ons Hom uit eerbied liefhet, omdat Hy is wat Hy is – God van liefde! Angs skep net meer angs by die mens en dit maak dit moeilik om vry te wees, vry om God te dien. Ons moet egter onthou dat God ook regverdig is, daarom spreek Hy soms oordele oor mense uit en selfs teen die kerk, nie om ons bang te maak nie, maar om ons tot inkeer te bring: “Die tyd vir die oordeel het aangebreek; dit begin by die huis van God …” (1 Pet. 4:17). Soos kinders wat stout is, moet oortreders getug word sodat hulle tot inkeer gebring kan word.


Karl Barth het gesê om God te vrees is nie die evangelie nie. Eerbied vir God word gekweek wanneer ons raaksien hoe lief Hy ons gehad het – “só lief dat Hy sy Seun vir ons gegee het …” (Joh 3:16) – ons is deur Sy liefde oorweldig, ons is uit die modder van wanhoop uitgelig tot in die heerlike werklikheid van Sy teenwoordigheid. Dáár kan niemand of niks ons benadeel nie, want daar ervaar ons die volheid van God se genade en die Heilige Gees se leiding. Wanneer ons saam met Christus en die Heilige Gees deur die lewe wandel en by Hulle krag put, sal ons die vermoë ontdek dat God se genade vir ons genoeg is en dat Hy deur die Gees vir ons net die beste sal voorberei.


“Jesus Christus is God se alles vir die mens se totale nood” (Richard Halverson).


Gebed: Gees van God, help my om my gereed te maak sodat, wanneer Christus weer kom, ek gereed sal wees om Hom tegemoet te gaan. Maak my vry van vrees en laat ek in U rus en vrede vind. Help my sodat ek sal liefhê soos U liefhet en sal doen soos U van my verwag om te doen. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page