top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LIEFDE IS DIE VOLLE UITVOERING VAN DIE WET (4) – DIS AMPER DAG!


Rom. 13:12b-14 – “Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”


Vergelyk ook Rom. 6:12-14 – “Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.”


In die lig van die dringende nabyheid van die einde, “die nag wat byna verby is”, en Christus, die Son van geregtigheid weer gaan kom, roep Paulus ons gelowiges op tot aksie! Al het die beslissing in Christus reeds geval en al is die uitkoms van ons gelowiges verseker, bly dit ‘n saak van erns om al die negatiewe dinge in ons lewe met positiewe dinge te vervang, die sonde in al sy gestaltes, “die werke van die duisternis”, soos ‘n kleed uittrek en “die wapens van die lig opneem.” As Christensoldate is “ons stryd nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose magte in die lug” (Ef. 6:12).


Ons Christene is toekomsmense want God is aan ons kant. Ons kan dankbaar wees dat Hy ons uit ons slaap wakker gemaak het ... maar die nag heers nog. Hoe moet ons Christene as dagmense staande bly in die stryd tussen lig en donker? Ons is dagmense wat die Here se spesiale wapens moet aantrek om onsself te beskerm. Ons moet volgens dagmense se status lewe, “die werke van die duisternis” maak ons posisie as gelowiges onwaardig! Hoe moet ek as dagmens, dit prakties deel maak van my dag?


Geloof en liefde is die eerste spesiale wapen wat die Here vir ons gee om ons hart soos ’n pantser te beskerm. Om in hierdie oorlog staande te bly, moet ons eerstens glo. Ons moet vashou aan die wete dat ons ’n God dien wat die grootste en sterkste is. Ons moet vashou aan die wete dat Jesus juis klaar die vyand aan die kruis oorwin het en dat sy mag gebreek is. Satan is ’n verlore leier. Hy draai mense ’n rat voor die oë, probeer deur liegstories hulle wysmaak dat hy die leier is, maar hy is aan die verloorkant. Hy besef egter sy tyd is min, en sal alles in sy vermoë doen om nog dissipels van die nag, in sy kloue in te trek (Op. 12:12).


Ons dagmense is aan die wenkant. Ons streef daarna om te “lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en is nie voortdurend daarop uit om ons sondige begeertes te bevredig nie.” Ons streef daarna om die oliebesmeerde klere van die ou sondige mens uit te trek en Jesus Christus soos ‘n splinternuwe pak “aan te trek.” Hy is ons alles! Dit moet ons glo en hieraan vashou, want dan is ons harte beskerm. Dan kan die pyle van die vyand na ons hart aangevlieg kom, die splinternuwe wapenrusting van Christus, sal hulle soos vrot hout in stukkies laat breek. Hulle sal nie ’n kans staan om ons weg te lok of te laat struikel nie. Ons moet aanhou “veg” dat die praktyke van die nag, die lewe sonder God, nie ons gedrag bepaal nie.


Dis nie maklik vandag om daar waar ons werk, woon en speel, staande te bly nie want om elke hoek en draai word ons versoek. Dit lyk so lekker om deel van die wêreld te wees. Dit lyk so asof hulle al die pret het. Tog is dit nie waar nie. Ware geluk lê slegs by God. Hy het ons uit “die werke van die duisternis” waar mense van die nag rondploeter en geen rigting het nie, kom haal. Nou hoef ons nie meer gespanne te wees oor die dag wat net agter die horison lê nie, die nag is reeds oorwin. God se horlosie het nie gaan staan nie, Hy gee bloot nog ‘n bietjie ekstra genadetyd sodat dié wat nog slaap, hulself wakker skud, hulle familie en vriende ook wakker skud, want netnou is dit te laat. Onthou: Aan die einde van ons lewe, gaan ons Verlosser ook ons Regter wees, neem dan die wapens van die lig (Ef. 6:10-17), op en “lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus.”


“Dit bly ‘n raaisel waarom mense so ‘n geweldige prys wil betaal om verlore te gaan deur hulle op te hou met die werke van die duisternis, terwyl Christus se verlossing gratis is” (Anoniem).


Gebed: Here, daar is ’n hele paar plekke in my lewe waar ek aan die slaap geraak het. Dinge wat nie aanvaarbaar is vir U nie het normaal geraak vir my en ek weet dat dit my al hoe verder van U wegrokkel. “O Heer, wil dan U liefde ook deur my openbaar, dat ons mekaar mag liefhê en so U wet bewaar. Veral omdat die tye ons dringend daartoe maan: Die Heer se koms is naby, dis tyd om op te staan. Laat ons welvoeglik lewe, geheilig deur die Gees, beklee met U, Heer Jesus, gekruisig na die vlees” (Lied 250:2, 3 en 5). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page