top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


VERPLIGTINGE TEENOOR DIE OWERHEDE (2) – REG EN GEREGTIGHEID!


Rom. 13:3-5 – “’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, want die owerheid is ‘n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat Hy die kwaaddoener moet straf. Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ‘n gewetensaak is.”


Samevattend, het ons gister gesien dat ons gelowiges aan die owerheid gehoorsaam moet wees omdat hulle deur God aangestel is. Die feit dat die owerheid sy gesag van God ontvang het en God se dienaar is (?), bring mee dat ons Christene die owerheid nie bloot gehoorsaam omdat ons bang is dat ons gestraf sal word nie, maar ook omdat dit ‘n gewetensaak is. Maak nie saak of die party van jou keuse nie in beheer is nie, stop jy byvoorbeeld nie by ‘n stopstraat bloot omdat jy ‘n verkeerskonstabel daar sien staan nie, maar ter wille van jou gewete. Mense met ’n Christelike gewete het nie beamptes nodig om gehoorsaam te wees nie, hulle doen dit omdat die Here van hulle gehoorsaamheid verwag! Eers God dan die keiser – jy stop al is die beampte nie op diens nie, want jou gewete bly op diens! Wanneer jy dit doen, erken jy die gesag van die Here in, en oor jou lewe. (Sal dit nie wonderlik wees as almal gewetens het nie?)


God het ons menslike samelewing nie aan homself oorgelaat nie, maar ‘n owerheidsmag daar gestel om die kwaad teen te staan en die goeie aan te moedig. Die owerheid is dan ook as onpartydige instansie daar om die slegte dade te vergeld met straf en só die regsorde van God te handhaaf. In die straf wat deur die owerheid uitgeoefen word, dien hy die oordeel van God oor die sonde terwyl hy binne die ordening van God moet bly. Maar slaag die owerheid altyd daarin?


Onlangs het ‘n uiters insiggewende berig deur Robyn Wolfson-Vorster en Talia-Jade Magnes verskyn wat ‘n skokkende scenario beskryf. Statistiek is in ons Parlement bekend gemaak dat kinders by minstens 41% van alle aangemelde verkragtingsake oor die afgelope drie jaar betrokke was. In dieselfde periode is 2 600 kinders vermoor. Duisende babas word dwarsdeur Suid-Afrika eenvoudig ‘weggeggooi’. Wat ‘n mens egter figuurlik soos ‘n hamerhou tussen die oë tref, is die kort verslae oor die omstandighede van kinders wat deur Kinderbeskerming-aktiviste ondersoek word en deur die Daily Maverick gepubliseer is. Die name is verander, maar die omstandighede is eg:

  • Ek is Patricia. Ek was drie toe ek oorlede is. Die mishandeling het begin toe my stiefpa by my ma ingetrek het. Hy het my in my maag geskop. Hy het my teen die mure gestamp wanneer hy kwaad word. My ma het my uit die slaapkamer gegooi toe ek my bed natgemaak het. Ek het op iets hard geval en my lyf was lank seer. Al het ander mense geweet, het hulle niks gedoen nie. Nadat ek gesterf het, het die dokters gevind dat my hele lyf letsels gehad het. Ek is dood.

  • Ek is Tumelo. Ek is drie maande oud. Ek het nooit my ma geken nie. Sy het my in ‘n plastieksak gesit en op ‘n vullishoop gelos net na ek gebore is. Ek was honger, koud, en bang vir die rotte. Ek was ook bang vir die hond wat my gevind het. Ek is sedertdien in die hospitaal. Die dokters kon my tone en vingers red en die grootste deel van my neus. ‘n Verpleegster het my ‘n naam gegee. Ek hoop iemand sal my liefhê. Ek is Tumelo. Ek is weggegooi.

  • Ek het geen naam nie, en het sonder een gesterf. Ek is op die vloer van ‘n toilet gebore. My ma was bang toe sy my hoor huil. Sy het gedink die pille wat sy my gevoer het, sou my laat sterf. Maar ek het baklei om te lewe. Sy het my in ‘n putlatrine gegooi. Ek het in die gemors verdrink. Ek is nou in ‘n ongemerkte graf met nog 15 ander lykies. Ek wonder hoe sou ek vandag gelyk het. Ek is baba 12599. Ek het op my geboortedag gesterf.

TRAGIES MAAR WAAR!!! Dit blyk dat misdadigers nie bang is vir die owerheid nie en maak soos hulle wil. Miskien is dit omdat die owerheid hulle plig versuim of dalk nie die kennis of wil het om hulle plig na te kom nie? Dr. Peter Hammond skryf die volgende: “By feitlik elke sosiale geleentheid word Suid-Afrikaners gevind wat stories uitruil – stories oor hoe die lang tentakels van misdaad hulle beetgekry het of hoe hul geliefdes getraumatiseer is weens een of ander misdaadsituasie. Misdaad is ‘n werklikheid wat elkeen van ons affekteer. Reg het verkeerd geword en verkeerd word deesdae as reg beskou!”


Paulus is baie duidelik daaroor dat “God die owerheid daar gestel het tot ons beswil. Die kwaaddoener sal aan die pen ry want die owerheid het die reg om die kwaaddoener te straf.” Hulle is dus opgeroep om God se geregtigheid te laat geskied. Die hoofpligte en verantwoordelikhede van enige regering is die beskerming van wetsgehoorsame burgers en die straf van kriminele wat die wet verbreek. Dit het tyd geword dat die owerhede ’n beginselvaste, sterk en besliste aksie teen misdadigers wat die wet verbreek en min­ag, neem en sodoende wetsgehoorsame burgers beskerm. “Sorg dat daar elke dag reg geskied, red die mens wat beroof word uit die mag van die uitbuiter. As julle dit nie doen nie, sal my toorn ontvlam soos ‘n vuur en brand sonder dat iemand dit kan blus” (Jer. 21:11-12). Kom ons staan saam en bid vir aksie!


“Christelike morele standaarde oor wat reg en verkeerd is, is nie ‘n stel wette wat verdedig moet word nie; dit is ‘n lewensinsig wat verwerf moet word” (FR Barry).


Gebed: Here, ons weet dat verwerping van enige wettige gesag, solank daardie gesag binne die grense wat U gestel het, uitgeoefen word, sonde is. Ons is egter bestem om oor die sonde te heers, om nie verstrik te raak in ons emosies nie want “ons is nie meer slawe van die sonde nie” (Rom. 6:6). As vrygekooptes triomfeer ons oor woede, sorg ons dat ons nie “verbitter, opvlieënd of woedend word nie” (Ef. 4:31); voorkom ons dat ons “kwaadword sonde word en sodoende die duiwel vatkans gee nie” (Ef 4:26-27). Gee dat ons “goedgesind en hartlik teenoor mekaar sal wees en mekaar vergewe soos God ons vergewe het” (Ef. 4:32). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page