top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS (7) – RAAK BETROKKE!


Rom. 12:6a – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.”


Vergelyk ook 1 Kor. 12:11 – “Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.”


In aansluiting by die beeld van die liggaam, beklemtoon Paulus nou dat elke gemeentelid ‘n eie rol het om in die gemeente te vul in ooreenstemming met die besondere genadegawe wat aan hom/haar gegee is. God is natuurlik vrymagtig en kan Sy gawes onbeperk uitdeel, aan wie Hy wil en in watter maat soos Hy wil. Ons moet ook onthou dat God elkeen van ons ken en het daarom perspektief op ons sterkpunte en swakhede. God se werkswyse is ook anders daarom sal Hy juis ons swakhede tot Sy eer gebruik in plaas van ons sterkpunte. Ons swakhede is nie per toeval of per ongeluk nie, God het hulle juis toegelaat om sy krag deur ons duidelik te maak: “ ... wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam” (1 Kor. 1:27b).


God se bedoeling is dat Sy Gees verskillende gawes “aan elkeen van ons gegee het” om ons “toe te rus vir ons diens en vir die opbou van die liggaam van Christus” (Ef. 4:12). Elke gelowige se afsonderlike gawes is dus noodsaaklik om mekaar daarmee te versterk om sodoende die wêreld tot diens te wees – ons dien God deur ander te dien. Elke keer wanneer ‘n mens ‘kerk’ sê, sê jy ‘ek’ of ‘ons.’ Die kerk is die liggaam van Christus en ons is deel van daardie liggaam! Die kerk is waar ons mekaar nodig het, die plek wat uit verskillende ledemate bestaan. Solank as wat sommige van dié ledemate in onbruik of vermis is, sal die liggaam gebreklik of vermink bly!


Ons moet ook onthou dat God nie wil hê ons moet ons kwel oor vermoëns wat ons nie het, of begeer nie, Hy wil hê ons moet die gawes aanwend “volgens die genade wat Hy aan elkeen van ons gegee het.” Dit is daarom nodig om te wete te kom wat die Here wil hê jy moet doen: “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat jy moet doen” (Ef. 5:17). Soek die Gees se leiding in gebed en wend dit tot jou volle potensiaal aan om sodoende God te verheerlik. Elkeen van ons het beperkings, niemand is in alles goed nie en niemand kan ook alles wil wees en doen nie.


Jesus het takies gedoen wat ander mense vermy het: melaatses versorg, ontbyt gemaak, voete gewas, hand gegee met kinders, ensovoorts. Niks was benede Hom nie want Hy het aarde toe gekom om te kom dien. Hy verwag dat ons Sy voorbeeld volg: “Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Joh. 13:16). God het ons geskep om te dien daarom kan jy ongelukkig nie ‘n dienaar wees wanneer dit vir jou gerieflik is nie. Jy moet bereid wees om God toe te laat om jou program omver te werp, daar is nie plek vir selfgesentreerdheid nie. Dienaars sê nie ‘eendag’ nie en ook nie ‘wanneer ek tyd het of wanneer die tyd ryp is nie’“Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie” (Pred. 11:5).


“Ons is betrokke” is ons gemeente se tema vir 2019, en dit beteken dat ons deur God se genade, ons gawes wil aanwend om betrokke te wil wees. Daar is egter baie van ons E-Kerk lesers wat nie in ons gemeente is nie. Vergun ons om julle vriendelik te versoek om vir ons gemeente te bid sodat ons hierdie tema in dankbaarheid sal kan uitleef. As jy waarlik deur ons Here en Meester gebruik wil word, bepaal biddend wat jou besondere gawe of gawes is en gebruik dit met entoesiasme in God se diens, in jou eie gemeente of daar waar jy jouself bevind: “Doen al die goeie dinge wat jy kan, op al die moontlike maniere, op al die moontlike plekke, en op al die moontlike tye, so lank as wat jy kan” (John Wesley).


“Wat jy is, is God se gawe aan jou; wat jy met jouself doen, is jou gawe aan God”

(Verna McLellan).


Gebed: Hemel Vader, maak deur U Gees dit moontlik dat al my gawes en tyd, onder U beheer staan. Maak deur U Gees U wil aan my bekend sodat ek gewillig en bekwaam sal wees om U wil uit te voer, waar ek myself ookal bevind. Maak ook aan my bekend watter gawes deur U Gees aan my toebedeel is, al is ek hoé swak, sodat ek dit optimaal en ywerig kan benut. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page