top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS (6) – GEWILLIGE DIENS TOT EER VAN GOD!


Rom. 12:4-5 – “Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.”


Vergelyk ook 1 Kor. 12:12 – “Net soos die liggaam ‘n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.”


Vervolgens beskryf Paulus hoe elke gelowige sy roeping teenoor sy medegelowiges moet vervul. Elke gemeente is ‘n eenheid waarin daar mense met ‘n verskeidenheid van genadegawes voorkom. Hier aan die begin van ‘n nuwe jaar, behoort elke lidmaat nuut te dink oor sy/haar posisie in die gemeente waarvan hulle deel is. Ons moet besef dat God ons in daardie gemeente geplaas het, Hy het ons déúr Sy doel en vír Sy doel geskep: “God het deur (sy Seun) alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: ... Alles is deur Hom en vir Hom geskep” (Kol. 1:16). Hoe en waar en hoekom, raak ek betrokke in die gemeente waar God my geplaas het?


God het beplan waar ons vir Sy doel sal lewe en het ons nie as ‘n enkeling of individu daar geplaas nie, maar as deel van ‘n liggaam, die kerk – “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak ... Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon” (Hand. 17:26). Ons is nie maar toevallig in die gemeente waar ons bly nie, ons is daar deur God geplaas vir Sy doel. Soos ledemate van ‘n liggaam mekaar nodig het om behoorlik te funksioneer en tot volle potensiaal te kom, so is elkeen nodig om God se doel, Sy roeping, in jou gemeente uit te leef.


Paulus sê in die twee tekste hierbo, iets wat nie in ander godsdienste ‘n gelyke het nie: “Ons is in Christus een liggaam”. Dit beteken eintlik ons gelowiges in Christus, is nie net ‘n aardse gemeenskap nie, maar ook die beliggaming van Jesus. Wat die kerk ook al is, is weens die krag en die teenwoordigheid van die Hoof van die kerk, Jesus Christus. Christus is die Een in wie al die gelowiges saamgevoeg is, daarom is ons nie “van die kerk” nie, maar van die “liggaam van Christus.”


Die verskillende lede van ons liggaam het verskillende funksies en die liggaam werk net reg as elke lid sy eie funksie góéd verrig. Net so is “ons baie lede in een liggaam, (wat die liggaam van Christus is), en die lede het nie almal dieselfde funksie nie.” Nou is die vraag: Waar gaan jy jou vermoëns en gawes aanwend in die gemeente waar jy deur God geplaas is? Twee dinge is uiters belangrik wanneer ons dink aan ons diens in die kerk as deel van die “liggaam van Christus.” Die eerste is dat ons nie mense dien nie, maar vir God, en die tweede is dat God ons nooit tot Sy diens sal roep sonder dat hy ons deur Sy Gees sal toerus vir die taak nie. Dit moet ‘n voorreg wees om jou tyd en gawes aan Jesus te bied vir diens in die gemeente. Só het jy die geleentheid om die heerlikheid van God te weerspieël.


Offer jouself as lewende offer in liefde aan God (Rom. 12:1), en jy sal die vervulling daarvan smaak om ‘n medewerker te wees van die liggaam van Christus. God wil nie net ‘n deel van ons lewe hê nie, Hy vra ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag. Hy wil ons volle toewyding hê, nie net brokkies van ons lewe nie en ook nie eers wanneer ek tyd sal maak om dit aan te wend nie. Indien jy dalk ‘n probleem daarmee het, kyk net na Christus waar Hy met uitgestrekte arms aan die kruis hang en sê: “Ek is só lief vir jou! Ek sterf eerder as om sonder jou te leef.”


“Gewillige diens volgens jou vermoë, selfs in die geringste sake en deur die geringste mense, is vir God aanvaarbaar” (Dietrich Bonhoeffer).


Gebed: Hemel Vader, ek wy myself aan U diens toe deur die krag van die Heilige Gees, nie om iets terug te ontvang nie, maar omdat ek reeds alles van U af ontvang het. Gees van God, dankie vir die vertroosting wat U my gee dat selfs mý gawes vir U aanneemlik is. Lei my om daardie gawes, alleen maar tot God se eer te gebruik. Hou my nederig in die gebruik daarvan. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page