top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


AAN GOD DIE EER (1) – RYKDOM, WYSHEID EN KENNIS VAN GOD!


Rom. 11:33-36 – “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! ‘Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?’ Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”


Paulus kom sluit nou die laaste slot oop van Romeine 9 tot 11 met ‘n stukkie poësie in hierdie verse 33 tot 36. Hy het ’n hoogtepunt bereik in sy betoog en kom tot gevolgtrekking dat ons as mense, die misterie van God se raadsplan nooit ten volle sal verstaan nie. Al wat ons kan doen is om saam met Paulus, ’n loflied oor God te sing, te sing oor die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God” wat bodemloos, onuitputlik, en onpeilbaar is; ‘n loflied te sing van die “rykdom” van God wat eie is aan die volheid van Sy heilswerke; te sing oor die “wysheid” van God want alles wat Hy doen, is doelmatig, sinvol en onverbeterlik, in die besonder Sy heilsplan met die uitverkiesing; te sing van God se volmaakte “kennis” van alles wat is en wat was en wat kom.


Elkeen wat saam met Paulus hierdie loflied sing, kan ervaar dat God ons metgesel is op ons lewenspad, al verstaan ons nie aldag Sy werkswyse nie. Johannes Calvyn het gesê ons moet “kyk hoe die voëltjies oor God sing; hoe die diere Sy sorg verkondig; luister hoe God se majesteit in die klowe weerklink, die riviere en stroompies Sy lof besing, en die gras en blomme van die veld glimlag van God se goedheid.” Hoor jy dit? Sien jy dit? Ervaar jy dit? En om te dink daar is ‘n menigte mense wat die Christelike geloof as vervelig beskou??


Al verstaan ons nie die misterie van God se raadsplan ten volle nie, behoort ons nie nou terug te sit, hande in die lug opgooi en moedeloos ons lot bekla nie. Ons kan, behalwe deur die natuur soos Calvyn hierbo beskryf het, God beter leer ken deur Sy Woord. Ongelukkig ... baie mense ervaar Bybelstudie in hierdie verligte eeu as tydmors en nutteloos. Hulle beslissings word gevestig op hulle eie menslike rede en lewenswysheid. Hulle vertrou op hulle eie vindingrykheid om hulle deur moeilike situasies te dra, wat natuurlik nie altyd verkeerd is nie, maar dit verdryf nie noodwendig die vrees en onsekerheid uit hulle lewe nie en dit verskaf nie altyd die regte antwoorde op die probleem nie.


Enigiemand wat die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God” ontdek in die lewende God se Woord, sal vind Jesus Christus word sy metgesel op sy lewenspad. Kennis van die Skrif gee ons ‘n dieper begrip van die lewe, as enigiets anders op aarde. ‘n Persoonlike ervaring met Jesus Christus bring vrede in jou handelinge en jy ervaar daardie gerusstellende wete dat jy binne die wysheid van God optree, en nie meer op jou eie instinkte en vermoëns hóéf te vertrou nie en daarom nie aan die moontlikheid van risiko’s, ontbloot te word nie. Jesus sê: “As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem; en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon” (Joh. 14:23). Is hierdie belofte van Jesus nie wonderlik nie? Ons word één met God!


Om besig te wees met God is nie opsioneel nie. Dit is natuurlik van veel waarde om tydens ‘n erediens na die preek te luister, maar die erediens is meer as net ‘n preekdiens, dit is om besig te wees met God. Hy luister na ons verering en ons erkenning van Hom in alles tydens ons loflief, gebede en interaksie tussen God en die gemeenskap van gelowiges. Ons kan nie op ons eie instinkte en vermoëns vertrou nie, daarom is dit nodig dat ons ons lewe in God se hande plaas en die influisteringe van Sy Gees volg. Om die wonder van die inwonende God deur Sy Gees te ervaar, moet die Gees ‘n lewende werklikheid in ons lewe wees, dán sal ons met Godgegewe wysheid begin lewe, dán sal ons vrede ondervind, die “diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God” beleef, want Jesus het beloof “Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”


“Geen ‘rykdom, wysheid en kennis van God’ kan oor ‘n toonbank gekoop word nie, dit is dié dinge wat jy, terwyl jy lewe, dóén wat jy op jou sterfbed sal wens jy hét gedoen”

(Jeremy Taylor [1613-1667]).


Gebed: O Gees van Waarheid, dankie dat U elke dag ‘n werklikheid van my lewe is. Dankie dat U in beheer van my lewe staan sodat ek tot U eer kan leef. Dankie dat U ‘n lewende geloof in my bewerkstellig, daarom kan ek met vrymoedigheid vra dat U die beskermer, die sterkte en veilige beskutting (Ps. 28:7-8) ook van hulle sal wees wat nog in die donkerte van die wêreld rondploeter. Laat hulle besef dat daar niks outomaties is aan U sorg nie, niks vanselfsprekend is nie, iets wat verdien kan word nie, maar slegs deur God se genade ontvang word. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page