top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE TOEKOMS VAN ISRAEL (2) – GOD SE GENADEGAWES IS PERMANENT!


Rom. 11:28-32 – “Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk het en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.”


Vergelyk ook Psalm 30:6 – “Waarlik, God se toorn duur net ’n oomblik, maar Sy goedheid lewenslank.”


Paulus beklemtoon nou verder dat God steeds onwankelbaar bly in Sy handelinge regdeur die geskiedenis. God bly getrou aan Homself en aan die mense wat Hy uitverkies het. Hy gebruik Israel se ongehoorsaamheid om die seën van die evangelie na die heidene te bring. In weerwil daarvan is die Jode kragtens die uitverkiesing, nog steeds geliefdes van God om die ontwil van die aartsvaders aan wie God sy beloftes gemaak het. God maak die verkiesing van Abraham en sy nageslag nie ongedaan nie. Sy verkiesende liefde oorleef die gloed van Sy toorn oor die sonde van Israel (Ps 30:6). “As God eenmaal sy genadegawes aan mense geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.”


Waarom moes God hierdie besondere weg met Israel gaan om hulle aan die ongehoorsaamheid oor te gee? Omdat Israel in sy selfversekerdheid nie God se genade wou ontvang nie. Daarom moes God Israel eers toelaat om homself te verhard, sodat Israel op dieselfde plek as die heidene te staan kon kom en sy verlorenheid kon besef. Eers dáár word Israel ryp vir die genade. Eers dáár, wanneer Israel niks meer het en is nie, word hulle bereid om uit God se genade te lewe.


As God se genade genade moet bly, moet diegene wat gered moet word, eers leer dat hulle enkel uit genade gered kan word. Daarom moes die onderskeid tussen Israel en die heidene eers uitgewis word – almal moes aan die ongehoorsaamheid oorgegee word, sodat God Hom oor almal kan ontferm – en dit het God gedoen deur Jesus Christus aarde toe te stuur. Daar is nie ’n afsonderlike heilsweg vir Israel en die heidene nie. Alle mense word op dieselfde manier gered: alleen deur God se genade en geloof in Jesus Christus!


Luther het eeue gelede aangevoer dat aangesien alle mense in hulle sonde verlore is, dit God se genade verg om hulle in staat te stel sodat hulle die ware evangelie kan hoor en gevolglik in Jesus christus te glo. Sonder genade gaan die mens nie genoeg wilskrag hê om hom te bekeer nie en daarom nie verlos kan word nie – “Dit is God wat ons gered en ons geroep het om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van Sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het” (2 Tim. 1:9). Niemand kan aanspraak daarop maak “dat hulle van ewigheid af” geglo het nie, daarom kom geloof en verlossing deur God se genade alleen!


God se liefde vir ons is totaal onafhanklik van ons gedrag of gesindheid. Jesus het ál ons sonde op Hom geneem en Sy lewe vir ons afgelê deur ons plek aan die kruis in te neem, ‘n daad van genade wat ons nie kan verdien nie want ons is as sondaars eintlik nie só ‘n daad van liefde waardig nie, maar God gee dit vir ons omdat Hy “Hom oor ons ontferm het.” Die verlossing van God deur Christus word uit genade gegee aan dié wat glo! Indien ons God se genade-aanbod aanneem, kan ons ‘n lewe van vrede en vervulling leef. Hierdie genade is gebore uit die allesomsluitende en allesdeurdringende liefde van God en nie iets wat ons kan verdien nie. Jesus Christus het mens kom word, tussen ons kom woon en Sy lewe gegee sodat ek en jy die gawe van ewige hoop en ewige lewe uit die hand van God, sonder enige verdienste, kan ontvang.


“Die onverdienstelikheid van die genade van God maak dat Christene die enigste mense op aarde is wat regtig iets het om permanent oor bly te wees” (Billy Graham).


Gebed: Hemel Vader, dankie dat ek my bewende sondaarshand na U toe kan uitsteek om die verlossing wat Jesus Christus vir my bewerkstellig het, uit U liefdeshand aan te neem. Ek loof U vir U genade en liefde vir my. Verhoed dat ek ooit sal uitvind hoe dit sal wees om buite U genade-hand te moet leef. Dankie Jesus Christus dat U alles gedoen het vir my verlossing. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page