top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE VERLOSSING VAN DIE HEIDENNASIES (9) – GOD SE OMPAD!


Rom. 11:23-24 – “En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent. As God jou uit die wilde olyf, waar jy van nature hoort, kon uitkap en teen jou natuur in op dié mak olyf kon ent, hoeveel te meer sal Hy die mak takke op hulle ou boom ent.”


Vergelyk ook Eks. 13:18 – “Daarom het God die volk met ‘n ompad laat gaan, met die woestynpad ...”


In die lig van God se omgang met Sy volk is dit nie uitgeslote dat ook die afgekapte takke weer op die boom ingeënt kan word nie: “As Israel nie in hulle ongeloof volhard nie, sal hulle ook geënt word, want God is in staat om hulle terug te ent.” Hoe vreemd dit ook mag voorkom en al is dit teen die normale prosesse in die natuur, God kan in Sy genade ’n wonder verrig en Sy verstote volk weer terugneem. Dit sal egter moet geskied langs die weg van die geloof, wat die weg van God se genade is.


Die volk Israel se verhouding met die Here het eeue voor Paulus se geboorte al begin, veral met hulle uittog uit Egipte. Hulle verhouding met God was ‘n samehang van vrees en soms sonder vertroue en ongeloof, vertroue en ongeloof wat lei tot angstigheid maar ook selfvertroue wat lei tot selfverheffing en hooghartigheid. Iemand het gesê dat dit God een dag geneem het om Israel uit Egipte te kry, maar veertig jaar gesukkel het om Egipte uit Israel uit te kry. Hulle het die barre woestynsand gesien en hulle lot bekla, nie die lewende God van die woestynsand nie. Die ironie van God se genade, volg nie kontoere van menslike verwagtinge nie! Israel sou geestelik meer arm gewees het as God hulle nie op ‘n ompad gelei het na die beloofde land nie, want die ompad was ‘n ontdekkingspad, ‘n suiweringspad, ‘n ontmoetingspad!


Israel se ompad is vandag steeds van teologiese waarde vir ons. Die lewe loop soms liederlike en ongevraagde draaie met ons wat ons soms nie kan verstaan of wil verstaan nie, want ons is geneig om altyd die kortste en maklikste pad te soek. Wanneer ons swaarkry, dink ons God staan koud teenoor ons, Hy steur Hom nie aan ons gebede nie, Hy is onbetrokke teenoor ons nood en behoeftes.


Wat God destyds met Sy volk gedoen het, doen Hy vandag nog met Sy kinders, want onthou: “As God ons uit die wilde olyf, waar ons van nature hoort, kon uitkap en teen ons natuur in op dié mak olyf kon ent,” het Hy beslis ‘n plan en ‘n doel daarmee wat ons miskien nie altyd verstaan nie, want ons insig sowel as uitsig is maar beperk. Ons sien net ‘n stukkie van die pad terwyl God ons hele pad ken. Daarom bewaar Hy ons van ons woestynpad, die onbekende gevare en versoekings wat ons op ons korter pad sal vind: “God het hulle nie die kortste pad laat vat nie, want as hulle in ‘n geveg betrokke raak, kan hulle dalk spyt kry en na Egipte toe terug wil gaan” (Eks. 13:17).


God wag vir die regte tyd, en dit behels nie ons tyd wat horlosietyd is nie, maar God se ewigheidstyd. Daar is sekere dinge wat ons eers moet leer en ondervind in hierdie tyd, wat ons vorentoe gaan nodig kry. God toets ons geloof op ons ompad, die woestynpad, die krisispad, die hartseerpad, die alleenpad – ons geloof word nie getoets as alles voor die wind gaan en ons hoogmoed ons laat glo ons het self daardie pad gevind nie – “Moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie ...” (Heb. 12:5). Ons self gevonde pad kan veroorsaak dat ons dink ons kan onafhanklik van God “operate” terwyl ons op die ompad gou leer dat ons God eintlik nodig het – “Op die woestynpad dra God ons soos ‘n man wat sy kind dra” (Deut. 1:31).


Op ons ompad leer ons om vir God te wag en nie self in dolle vaart na ons einde toe jaag nie. Die Here keer ons voor, lei ons op Sy ompad om ons ongeduld in geduld te verander. Soms bring Hy ons tot stilstand sodat ons eers tot besinning kan kom en nie onbesonne besluite neem nie, te luister na Sy stem en daaroor na te dink voor ons optree en soos Jesus deur gehoorsaamheid, God se volmaaktheid bereik – “En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword” (Heb. 5:9).


Ons moet God op ons ompad vertrou. Op daardie ompad ervaar ons God se teenwoordigheid, geniet ons Sy beskerming, ondervind Sy sorg en leer ken Hom as ons enigste ware God – “Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God, In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog ‘n God nie” (Deut. 4:39). Wat ons dink vir óns goed is, is nie altyd die beste vir ons nie. God wat ons reeds voor ons geboorte geken het, wil ons net die beste gee – al moet ons eers op die ompad al die probleme ondervind – “Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting” (Jer. 29:11).


“Die lewe het sy donker tye wanneer daar geen ander uitweg is nie as om aan te hou en uit te hou en vas te hou aan God, nee, meer: om toe te laat dat God jóú vashou"

(William Barclay).


Gebed: Hemel Vader, dit voel soms vir my of ek elke dag my op ‘n ompad bevind, veral wanneer alles nie na my sin verloop nie. Maar dankie dat ek weet ek is nie alleen op die ompad nie, U loop saam met my. Dankie dat U my krag gee om hierdie ompad te loop want ek weet, U ompad is my oppad, en op die regte tyd, U tyd, sal ek my regte bestemming veilig bereik want U het dit moontlik gemaak deur Jesus Christus. Ek bid ook vir elkeen wat hulle op die verkeerde pad bevind, dat hulle die regte pad sal vind, want Jesus – “U is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Niemand gaan na die Vader toe behalwe deur U nie” (Joh. 14:6). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page